Sakelui bekommerd oor verbrokkelende waterinfrastruktuur

Argieffoto (Foto: dechatorn, Pixabay)

Hoewel dit moeilik is om die presiese omvang van waterafleweringsmislukkings oor Suid-Afrika heen vas te stel, wek die waterkrisis in die land al meer kommer. Só sê sakelui van die organisasie Business Leadership South Africa (BLSA).

Maroela Media het vroeër berig die water wat aan byna die helfte van die land voorsien word, voldoen nie aan die nodige gehaltetoetse nie, terwyl die meeste munisipaliteite (57%) ook nie gebruikers inlig wanneer die gehalte van drinkwater versleg nie. BLSA sê waterdienste is die plaaslike regering se verantwoordelikheid en dat die mate waarin munisipaliteite hierdie grondwetlike plig nakom, wêrelde van mekaar verskil.

“Onder die 257 munisipaliteite is daar ongetwyfeld voorbeelde van sukses en mislukking, maar dit is moeilik om ʼn gekonsolideerde prentjie te skep van hoe hulle op kort termyn vaar. Voorbeelde van gebrekkige waterinfrastruktuur word egter veels te gereeld in die media gerapporteer. Van Tshwane tot Hammanskraal is die beskikbaarheid en gehalte van water ʼn kommerwekkende probleem wat tragiese gevolge het.”

Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van BLSA, sê hoewel die plaaslike regering hierdie noodsaaklike diens verskaf, is dit die verantwoordelikheid van die provinsiale en nasionale regering om die voorsiening van water te monitor.

“Die provinsiale en nasionale regering moet die kapasiteit van munisipaliteite versterk om sodoende hul sake beter te bestuur en om te verseker dat noodsaaklike dienste gelewer word.

“Wanneer ʼn munisipaliteit onbekwaam is, moet die provinsiale regering die verantwoordelikheid neem om water aan die geteisterde gebied te lewer.”

Sy sê die beskikbare data oor watervoorsiening in die land is kommerwekkend.

“Die bloudruppel-ouditverslag wat in Desember verlede jaar deur die departement van water en sanitasie uitgereik is – en wat bedoel is om aanspreeklikheid te verseker van diegene wat waterdienste verskaf – het vreesaanjaende resultate getoon.

“Slegs 26 van die land se 958 watervoorsieningstelsels het aan die bloudruppel-sertifiseringsvlak vir hoëgehaltewater voldoen. Byna die helfte van die land se drinkbare water hou akute gesondheidsrisiko’s in weens bakterieë en ander patogene. Meer as twee-derdes van watersuiweringsaanlegte staan op die drumpel van mislukking en amper die helfte van alle behandelde water gaan verlore weens lekkasies wat doodeenvoudig nie reggemaak word nie,” sê Mavuso.

Die verslag het ook die ernstige tekort aan vaardighede uitgelig.

“Altesame 400 mense word reg oor die stelsel benodig, onder andere 203 tegniese personeel en 197 wetenskaplikes. Baie in die private sektor het hulle daartoe verbind om plaaslike regerings wat nie voldoende kapasiteit het nie, by te staan, met sakeondernemings wat hul eie personeel stuur om instandhouding en herstelwerk te ondersteun.”

In 2022 het BLSA saam met USAID aan die National Business Initiative se TAMDEV-program gewerk om te help met die identifisering en herstel van waterlekkasies in 72 skole in Nelson Mandelabaai.

“TAMDEV help om vaardighede in die private sektor te mobiliseer om die regering te ondersteun en mentors in daardie metro te plaas om te help met kommunikasie, bedryf, instandhouding en om die impak van waterskaarste te versag,” sê Mavuso.

Sy meen die nasionale regering moet egter uiteindelik verseker dat waterdienste doeltreffend verskaf word.

“Daar was ʼn mate van vordering wat betref die voorsiening van water op grootmaat, met wetgewing wat nou vordering maak om ʼn nasionale infrastruktuuragentskap vir waterbronne te stig. Dit sal die inwin van kommersiële finansiering en samewerking met die private sektor moontlik maak om waterinfrastruktuur op grootmaat te lewer.

“Daar moet egter meer gedoen word wat dienslewering betref om te verseker dat mislukte munisipaliteite reggeruk word,” sê Mavuso.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

domheks ·

“”is dit die verantwoordelikheid van die provinsiale en nasionale regering om die voorsiening van water te monitor.””
Hoe kan julle verwag hulle moet bogemelde werk doen? Dan is daar nie genoeg tyd vir hul eie dinge nie! En die ‘pay’ is te min om nog die werk ook te doen …

Tinus ·

Riool in die riviere, riool in drinkwater, groente en vrugte word met rioolwater besproei. Dat hier nog nie n dodelike siekte uitgebreek het nie, is net genade.

Andre ·

…A en C sal maar hier ook ‘n kulkunstenaar moet aanstel, soos met Eskom!

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Suid-Afrika se ongebreidelde bevolkingsaanwas plaas ongekende druk op die infrastruktuur van volhoubare watervoorsiening en ‘n effektiewe rioleringstelsel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.