Groter waterprobleme SA se voorland

Die Rooiwal-watersuiweringsaanleg. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die water wat aan byna die helfte van die land verskaf word, voldoen nie aan die nodige gehaltetoetse nie, terwyl die meeste munisipaliteite (57%) gebruikers ook nie inlig as die gehalte van drinkwater versleg nie.

Dié en ander onthullings wat in die departement van water en sanitasie (DWS) se jongste blou- en groendruppelverslag bekend gemaak is, wys dat Suid-Afrika op ʼn ernstige waterkrisis afstuur.

ʼn Volgehoue agteruitgang in die gehaltebeheer van water is in die bloudruppelverslag opgemerk. Die bloudruppelverslag fokus op die huidige toestand van die land se drinkwaterinfrastruktuur, behandelingsprosesse en watergehalte.

Altesaam 46% van drinkwaterstelsels voldoen nie aan mikrobiologiese standaarde nie, en 44% van water voldoen nie aan chemiese standaarde vir veilige menslike gebruik nie.

Hiermee saam is 277 van die land se 985 watervoorsieningstelsels in ʼn kritieke toestand, 184 in die mediumrisiko-kategorie en 122 in die hoërisikokategorie. Talle van die stelsels is byna op die rand van hul kapasiteit.

Die watervoorsieningstelsels wat tans die swakste vaar, is in die Vrystaat, die Oos-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en die Noord-Kaap.

“Hierdie afwaartse neiging versterk die behoefte aan gereelde oudits om ʼn tydige ommeswaai en volgehoue verbetering in die stand van sake te verseker,” lui die verslag.

Die provinsies wat oor die algemeen die beste vaar, is die Wes-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal – ook die drie digbevolkste provinsies.

Die verslag wys daarop dat die versuim om kontrakteurs, laboratoriums en diensverskaffers te betaal ʼn algemene probleem is en daartoe lei dat dienste nie gelewer word nie, vertraag of in geheel gestaak word.

Baie munisipaliteite het boonop nie wateronttrekkingsmagtigings in plek nie, meet nie hul onttrekkingsvolumes nie, of oorskry hul toegelate kwotas.

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê die gebrek aan wateronttrekkingsbestuur het ʼn beduidende impak op waterhulpbronbeplanning en ‑bewaring vir die land in geheel.

“Hierdie skets ʼn uiters kommerwekkende prentjie, veral omdat dit duidelik is dat munisipaliteite onbevoeg is en nie die vermoë het om basiese dienste soos skoon drinkwater te lewer nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir omgewingsake by AfriForum.

“Wat nog meer kommerwekkend is, is dat munisipaliteite nie hul inwoners in kennis stel wanneer waterkwaliteit in gedrang is nie en dit lewensgevaarlik kan wees.”

Hoewel minister Senzo Mchunu huiwer om die huidige situasie as ʼn krisis te bestempel, is dit volgens WaterCAN inderdaad presies wat dit is. WaterCAN is ʼn afdeling van die drukgroep Outa.

“Daar is ʼn algehele agteruitgang in voldoening aan standaarde, so hoe is dit nie ʼn krisis nie?” sê dr. Ferrial Adam, bestuurder by WaterCAN.

Die verslag raam dat R4,694 miljard jaarliks nodig is om die watervoorsieningsbates in stand te hou, wat 15% van hul geraamde waarde van R217,34 miljard is. Die verslag sê die werklike besteding van 27% aan bedrywighede en instandhouding “blyk meer as voldoende te wees”.

Tog voer WaterCAN aan dat as dit reg bestee is, sou die verslag nie jaar op jaar op mislukte waterstelsels gedui het nie.

Riool ook probleem

Die groendruppelverslag konsentreer op rioolafvalwaterstelsels deur aan te dui watter behandelingsaanleg in ʼn bedenklike toestand is, wat die hoofoorsake daarvan is en op watter manier ingegryp kan word om die situasie te verbeter.

Vanjaar se verslag skets weer ʼn donker prentjie oor hoe die 867 rioolafvalwaterbehandelingswerke by munisipaliteite landwyd vaar.

Altesaam 67,6% van munisipale rioolafvalwaterbehandelingswerke val in die hoë- en kritieke-risiko‑kategorieë. Dit beteken dat dié aanlegte nie in staat is om rioolafvalwater tot aanvaarbare vlakke te behandel nie.

Die helfte van die rioolafvalwaterbehandelingswerke wat ondersoek is, het nie eens vloeimeterlesings om die operasionele kapasiteit te verifieer nie. Pomp- en pypleidingfoute beteken dat nie alle afvalwater eers die rioolafvalwaterbehandelingswerke bereik nie.

Volgens die verslag is slegs 9% ʼn lae risiko, en 25% ʼn medium-risiko.

Slegs 15% van rioolafvalwaterbehandelingswerke voldoen aan mikrobiologiese beperkings, hoewel minstens 90% nakoming vereis word.

“Die oorblywende 85% van rioolafvalwaterbehandelingswerke voldoen nie aan mikrobiologiese beperkings nie en dit dui daarop dat die uitvloeisel van hierdie rioolafvalwaterbehandelingswerke ʼn ernstige gesondheidsrisiko vir mense inhou as gevolg van die teenwoordigheid van patogeniese bakterieë in die uitvloeisel,” lui die verslag.

Slegs 10% van rioolafvalwaterbehandelingswerke voldoen aan chemiese standaarde.

ʼn Gebrek aan personeel, veral bekwame personeel, is ʼn probleem, met 43% van rioolafvalwaterbehandelingswerke wat geen instandhoudingspanne het nie.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake, sê die wanbestuur van riool veroorsaak ʼn bose kringloop wat ook die gehalte van drinkwater kan beïnvloed.

“Dit gaan uiteindelik ʼn reuse-invloed op die koste van drinkwater hê omdat dit al hoe duurder gaan word om water te suiwer. Gegewe die kritieke toestand van bykans ʼn derde van die land se watervoorsieningstelsels, kan dit egter reeds tot lewensgevaarlike situasies lei”

Te veel water verlore

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die geen water nie-verslag oudit plaaslike owerhede se waterverliese en bepaal of die munisipaliteite aan beste praktyke voldoen om dié verliese hok te slaan.

Algehele waterverliese nasionaal – as gevolg van lekkasies in die verspreidingsnetwerk – staan op 40,8%.

Meer as 140 waterdienste-owerhede is geoudit, waarvan slegs vier munisipaliteite 90% of hoër prestasies ontvang. Dit beteken al hierdie munisipaliteite – wat Overstrand, die Stad Kaapstad, Midvaal en Swartland insluit – beskik oor die infrastruktuur, vaardighede, stelsels en prosesse om optimale bestuur en vermindering van waterverliese te ondersteun.

Altesame 65 munisipaliteite is in ʼn kritieke toestand (50% of minder behaal) en 24 munisipaliteite het 0% ontvang aangesien hulle nie inligting oor waterverliese voorsien het nie.

“As daar na die inhoud van hierdie verslae gekyk word, staan ʼn mens in ongeloof oor die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Thembi Nkadimeng, se onlangse uitlating dat daar ʼn merkwaardige verbetering by munisipaliteite is,” sê De Vaal.

“Die voorsiening van skoon drinkwater, wat ʼn basiese mensereg is, verswak jaar na jaar en die getal dorpe wat met waterprobleme sit, word ook net groter.”

Mchunu het in die verslag gesê daar gaan opgetree word teen die munisipaliteite wat die lewens van Suid-Afrikaners in gevaar stel.

“Ek is in gesprek met die minister van samewerkende regering om te verseker dat die regering drasties ingryp,” het hy gesê.

WaterCAN het hierdie aankondiging verwelkom, asook dat die ontnugterende verslae aan die publiek bekendgestel is.

“Hoewel die verslae die toestand van die krisis illustreer, is dit beter om duidelike, betroubare inligting te hê as ʼn aanduiding van waar ons staan ​​en ʼn basislyn vir verbetering,” sê Adam.

“Daar is aansienlike ruimte vir verbetering, maar ons wil sien dat diegene in beheer van die mislukte stelsels tot verantwoording geroep word, en duidelike en konsekwente regstellende aksie toegepas word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Hendrik ·

Dit is feitlik net #Kleinfontein en #Orania wat geen water probleme het nie.

Althes ·

Die regering skend burgers van SA se basiese regte. Die belastingbetaler moet hulself kruppel betaal aan staatsdienswerkers wat eenvoudig nie hul werk doen nie.

tweeling ·

Julle sal nie optree teen kaders nie, dis hoekom niks verbeter nie

koos ·

Lekker man, die majority voter moet maar vir hom kry terwyl hy vrek aan cholera. Dis mos waarvoor hy gestem het.

Vernon ·

Daar is eenvoudig nie hoop vir ons nie,nie met hierdie lui cANCer aan bewind nie.
Hulle kan nie,wil nie,geen kennis nie.

Jan Jacobs ·

Dit gebeur as klaas baas word, alles is besmet damme, riviere boorgate noem maar.

Isobel ·

JA en wie moet ons bedank. Net die ANC niks in die land is op standaard nie.

John ·

Solank as wat ons kan betaal vir ‘n alternatief, vir so lank sal niks verander nie. Dis makliker om “weer” daarvoor te betaal as om die mense wat die probleem veroorsaak aan te vat.

Dit sluit in sekuriteit, medies, skole, etc.

Die dag wanneer daar wel nie meer alternatiewe is nie gaan dit te laat wees. Gemak is ons grootste vyand tans.

Christo ·

Vorige regering het planne in plek gehad, Daar was voorsienning geskep vir elke moontlike scenario. Die huidige regering het geen plan nie. Al sou hulle ook `n plan gehad het, sou dit nie werk nie, want die befondsing daarvoor word weggedra.

Marous ·

Dekades al gewaarsku hieroor. Cholera gaan covid soos ‘n kleuterskool laat lyk in die hool . Hou maar dop .

Duck ·

Ek is hier in die Wes Kaap, en ek vertrou ook nie die water nie, blykbaar is dit veilig maar ek kook maar en verkoel vir drink water. Glo darm al die kieme en virusse sal nie 100 Grade Celsius oorleef nie.

Papsak ·

Ja nee kyk vandat anc regering oor gevat het is alles een groot gemors nooit krag meer nie nou nog sonder water hulle gee regtig niks om vir die land en mense nie hoe gouer hulle uit gelig kan word hoe beter SA verkoop stukki vir stukkie en sleg verarm regtig

Andre ·

…die A en C het ander prioriteite as water !
Hulle moet skep terwyl dit pap reën; hulle weet die einde is in sig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.