Sakevertroue in Wes-Kaap hoogste in SA    

Kaapstad, Wes-Kaap. (Foto: Zoe Reeve / Unsplash)

Sakevertroue in die Wes-Kaap is nie net die hoogste van al nege provinsies in Suid-Afrika nie, maar ook hoër as die land se algehele sakevertrouevlak.

Die jongste RMB/BEO-indeks oor sakevertroue dui aan dat sakevertroue in dié provinsie vir die derde agtereenvolgende keer toegeneem het.

Volgens die puntetoekenning van die indeks het sakevertroue in die Wes-Kaap met drie punte gestyg: van 37 uit 100 in die vierde kwartaal van die 2023-boekjaar tot 40 uit 100 in die eerste kwartaal van die 2024-boekjaar.

Mireille Wenger, die DA se provinsiale woordvoerder vir finansies en ekonomiese geleenthede, sê hoewel daar nog baie werk is om te doen, wys die indeks dat die provinsie beslis op die regte pad is – veral as die werkskeppingskoers in die Wes-Kaap ook in ag geneem word.

“Wanneer ons na die RMB/BEO-indeks kyk tesame met die feit dat vier uit vyf (78,9%) van alle werkgeleenthede wat oor die afgelope vyf jaar geskep is, in die Wes-Kaap was, kry ons ʼn goeie aanduiding dat ons ekonomiese aksieplan ‘Growth for Jobs’ uitwerking het.”

Dié aksieplan het ten doel om groei in die private sektor te bewerkstellig om teen 2035 ʼn florerende ekonomie van R1 biljoen (“trillion”) te hê wat tussen 4% en 6% groei, aldus Wenger.

“Dit is die derde agtereenvolgende styging in sakevertroue in die provinsie, asook die styging wat sedert die tweede kwartaal van 2018 die langste volgehou is. Dit is ook kenmerkend dat sakevertroue in die Wes-Kaap veel hoër is as in Gauteng en KwaZulu-Natal, wat onderskeidelik op 23 en 18 punte vir dieselfde tydperk staan.

“Moenie ʼn fout maak nie, ons het nog baie werk om te doen. Maar hierdie [indeks] sê vir ons dat die beleide, planne en aksies wat die Wes-Kaap neem om die private sektor te bemagtig om te doen wat hy die beste doen – groei en werk skep – ʼn positiewe uitwerking op sakeondernemings in die provinsie het.”

Wenger meen die Wes-Kaap is veerkragtig te midde van heersende nasionale uitdagings. Sy skryf dit onder meer toe aan die sterk herstel van die toerismebedryf in die provinsie.

“Die Wes-Kaap is meer vasberade as ooit om nuwe ondernemings en beleggers na ons provinsie te lok en te verwelkom.

“Ons weet dat slegs die regte beleid, regte planne en beslissende aksie om ekonomiese groei te bereik tot voorspoed lei. Ons sal voortgaan om werk te skep om die lewensgehalte van Wes-Kaap se mense te verbeter.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Wel, in ‘n onafhanklike Wes-Kaap sal die BBP ten minste R10 biljoen/trillion wees teen 2035. Suid-Afrika hou ons tans terug. Maar weens die DA se houding gaan die radikales oorneem en dan is ons ook verarm met swak dienslewering. Wat verstaan Winde nie.

capie ·

Republikein in die Wes Kaap, Winde en Kie gaan die DA se ondergang wees. Ons moet hulle so gou moontlik in die Wes-Kaap uitstem sodat die regte veranderinge kan plaasvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.