Sanef besorg oor sluiting van koerant

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) het Maandag gesê hy is besorg oor die “vinnige sluiting” van die Afro Voice-koerant, voorheen bekend as die New Age.

ʼn Vergadering is verlede week Donderdag met verslaggewers van die Afro Voice belê waar hulle in kennis gestel is dat die koerant sy laaste uitgawe publiseer.

Mahlatse Mahlase, voorsitter van Sanef, het gesê die koerant is al sedert die begin in omstredenheid gehul toe Vuyo Mvoko, die koerant se eerste redakteur, saam met ander senior redaksielede bedank het nog voor die eerste uitgawe die lig gesien het. Die omstredenheid het voortgeduur.

“Van die kwessies sluit in die eienaarskap deur die Gupta-familie. Die koerant het ook van die begin af geweier om oplaaggetalle te publiseer. Die koerant was afhanklik van die regering en ongeveer 50% van elke oplaag is gratis aan staatsdepartemente en regeringsorganisasies versprei.

“Staatsinstellings het boonop ook die ‘New Age-ontbyte’ gefinansier. Die geld het na die New Age toe gegaan, terwyl Suid-Afrika se staatsuitsaaier, die SAUK, in ʼn finansiële verknorsing was en die 45 minuut lange ontbytprogram gratis moes uitsaai,” het Mahlase bygevoeg.

Mahlase het gesê toe die ooreenkoms in 2012 onderteken is, het ʼn 30 sekonde-advertensiegleuf op die SAUK R18 000 gekos. In Junie 2017 het die SAUK aan die parlement gesê hy het koste van R20 miljoen aangegaan. Dié uitgawes het aan die lig gekom ondanks beamptes wat vroeër aan die parlement gesê het, alhoewel die SAUK nie enige inkomste verdien het nie, het hy ook nie enige kostes aangegaan nie. Die kontrak is daarna aan die Spesiale Ondersoek-eenheid (SO) oorhandig vir verder ondersoek.

“Die New Age-koerant het ook van die begin af ʼn omstrede ‘goeie nuus’-agenda (sommige beskryf dit as propaganda) gevolg. Die agenda is aangepas om die vorige president, Jacob Zuma, se sienings oor die politiek en sy omstrede ‘wit monopoliekapitaal’-veldtog te dryf met alternatiewe beriggewing oor ‘staatskaping’,” het Mahlase verduidelik.

Die Gupta-familie het die koerant in 2017 aan die voormalige woordvoerder vir die regering, Mzwanele Manyi, verkoop. “Ondanks openbare skeptisisme, was daar tog ʼn verwagting dat die koerant sy moeilike verlede sou kon afskud. Tien maande later het die koerant nou egter sy deure gesluit.”

Mahlase het gesê Sanef is bewus daarvan dat verslaggewers deurgaans aan die ontvangkant was van die koerant se omstrede verlede. “Ons glo hierdie is nie ʼn hoofstuk in ons mediageskiedenis waarop ons trots moet wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eeder Besorgd oor ·

Eks eerder besorgd dat hierdie beweging besorgd is oor die sluiting van n propaganda en valsnuusbuis. Dit verklaar waarom hoofstroommedia so oneties is.

Ink ·

Wanneer mens dink aan ‘ink’ dan gaan dit meesal oor skryf . Nogtans is daar ook dr-ink, kr-ink, w-ink, kl-ink ens. en dan natuurlik ‘sink’ soos wat hier gebeur het. Onthou dat kundigheid altyd deurslaggewend is anders gaan jy ‘n traan pink . . .

David ·

So af en toe is daar goeie nuus ook – die “Gupta”-koerant is gesluit !

Hennie ·

So kom die New Age riool publikasie ook tot sy einde…wonder hoekom? Sekerlik niks te doen met ANC befondsing wat saam met die Zuptas opgedroog het nie…

Helen ·

Glad nie’n ramp nie, dit was ‘n “one track pony” wat meer skade as goed gedoen het. Propaganda soos min en beslis nie bedoel vir alle landsburgers nie. Ek het hom in die asdrom gegooi sonder om hom ‘n tweede blik te gee (hy was gratis) in ons kantoorblok uitgegee.

Casper Labuschagne ·

Dit is hartseer, want buiten die plakkate asook voorblad van die Daily Sun, is dit die enigste ander koerant wat my laat skaterlag oor sy verregaande politieke absurditeite. Om een puik koerant te hê, is dit noodsaaklik dat daar ook ‘n boel slegte koerante bestaan en die sluiting van die heel slegste veroorsaak bloot dat elke ander koerant self ‘n trap nader aan die titel as heel slegste koerant beweeg.

Pieter Schoombee ·

Sanef. Sanef. Sanef. New Age / Afro Voice was nooit ‘n koerant nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.