SA’ners uit Wuhan vertel van siellose afsondering

Crystal Reynolds en haar verloofde Tyrone Steyn tydens die isolasietydperk in China.

“Daar is geen plek soos jou huis nie.”

Só vertel Crystal Reynolds, ʼn 25-jarige onderwyseres wat pas uit kwarantyn by The Ranch in Limpopo teruggekeer het huis toe – wéér na ʼn staat van algehele afsondering.

Sy is een van talle Suid-Afrikaners wat weke gelede uit Wuhan, China, teruggebring is na Suid-Afrika.

Reynolds en haar verloofde, Tyrone Steyn (25), werk die afgelope sowat twee jaar as Engelsonderwysers in Sianyang en is heeltemal onkant betrap toe China skielik ʼn staat van algehele afsondering weens die uitbreking van Covid-19 afgekondig het.

Reynolds sê een oomblik was sake nog normaal en die volgende was hulle vasgekluister in hul piepklein woonstel terwyl ʼn tussenganger weekliks vir hulle ʼn enkele sak kos kon bring.

Hulle kon dié sak teen sowat 60 yuan, of amper R150, koop. “Hulle sou die sak pak en almal het dieselfde kos gekry. Die groentepak kon net een keer per week aangekoop word.”

Steyn op die lughawe in China kort voor hul vertrek terug na Suid-Afrika.

Die twee kon die sak weekliks op ʼn sentrale punt gaan afhaal. “Hulle het ontsmettingsmiddel oor al die kos gespuit voordat dit deur ʼn hek vir jou aangegee is. Jy moes dit tuis dadelik was omdat die chemikalieë vinnig deur die kos begin vreet het,” vertel Steyn.

Vir hóm het dit soos iets uit ʼn rolprent gevoel. “Dit was heeltemal onwerklik. Die strate was leeg, geen voertuie, busse, treine of ʼn mens in sig nie.”

In ʼn stadium is hulle selfs met inhegtenisneming gedreig as hulle die woonstel sou verlaat.

Reynolds sê hulle het die tyd verwyl deur televisie te kyk – hoewel hulle bitter min van enige uitsendings kon verstaan – oefening te doen, kaart te speel, of flieks te stroom. Omdat soveel miljoene mense moes tuisbly, was die internet egter geweldig stadig. “Ons het probeer gesond bly en gelukkig was ons saam daar, anders het ons dalk heeltemal mal geraak,” vertel Reynolds.

Steyn sê dit was soos om in ʼn tronk opgesluit te wees. “Ons sou wakker word en lusteloos wees. Ons het later nie meer omgegee nie. Om hare te kam of tande te borsel was nie meer deel van die daaglikse roetine nie. Dae het verbygegaan en ons het heeltemal tred met die datum en tyd verloor.”

Hy sê jy kan ook net soveel tyd voor die televisie deurbring. “Om geïrriteerd wakker te word, het die norm geword – jy was later so gefrustreerd dat jy om geen rede nie sommer net in trane sou uitbars.”

Die afsondering sou aanvanklik 14 dae duur, maar die Chinese regering het dit daarna beduidend verleng. Dié nuus het hulle byna geknak.

“Dit het gevoel asof ons siele ons verlaat het,” sê Steyn oor dié ingrypende besluit.

Anré Kuipers (23), wat Engels by ʼn sentrum in Wuhan gegee het, sê die wêreld het oornag om hom toegemaak. Die meeste mense was nog met vakansie toe die afsondering ingestel is.

“Ek was stoksielalleen op die twaalfde verdieping van die gebou. Dit was nét ek en dit was effens creepy.”

Hy was byna 60 dae alleen só in afsondering.

Steyn en Reynolds was altesaam 54 dae lank in afsondering in China. Tot die nuus gekom het dat hulle na Suid-Afrika gerepatrieer kon word. Skielik was daar weer hoop.

Die twee én Kuipers was deel van die groep van 114 Suid-Afrikaners wat eindelik verlede maand uit China na Suid-Afrika teruggekeer het.

Kuipers neem ‘n selfie saam met die vlieëniers wat gehelp het om hulle na Suid-Afrika te repatrieer.

Reynolds sê hulle het ʼn enkele dag voor die vlug sou vertrek eers bevestiging daarvan gekry. Hulle moes binne ʼn dag as’t ware hul lewe oppak – maar Reynolds sê hulle wou in die omstandighede nie langer daar aanbly nie. Hulle het gepak wat hulle kon, want dít was ʼn vlug wat hulle nie wou misloop nie, vertel sy.

Die groep het op 14 Maart weer voet op tuisbodem in Suid-Afrika gesit.

Kuipers sê hy was aanvanklik skrikkerig oor die ontvangs wat hulle hier sou kry. “Baie mense het ʼn groot lawaai oor ons terugkeer gemaak, maar daar was soveel mense langs die pad met borde waarop ‘Welkom tuis’ en ‘Welkom in Limpopo’ gepryk het.

“Die paaie is gesluit. Daar was geweldig baie sekuriteit, maar mense het ons terugverwelkom. Dit was ʼn baie emosionele ervaring.”

Reynolds en Steyn kort na hulle aankoms in Suid-Afrika.

Benewens die byna twee maande lange afsondering in China, moes hulle daarna 14 dae lank by The Ranch, ʼn oord in Limpopo, in kwarantyn gehou word.

Hiér was die WiFi ten minste stukke beter, skerts Reynolds. Én hulle kon die nuusuitsendings verstaan.

Hoewel die groep gevra is om nooit in groepies van meer as 10 mense byeen te wees nie, kon hulle stap om hul etes te gaan nuttig. Reynolds sê sy en Steyn het gekies om nie te veel met die res van die groep te meng nie in ʼn poging om hul kans om die virus op te doen, verder te verminder.

Steyn sê hulle kon die son weer sien skyn. Hulle het behoorlike maaltye gekry. En hy het nuwe respek vir die Suid-Afrikaanse regering, die weermag en plaaslike gesondheidswerkers.

Kuipers vertel hy kon aanvanklik nie ophou gesels nie. “By The Ranch was ons tussen ander Suid-Afrikaners. Ons kon rondbeweeg. Daar was soveel opgebondelde goed in my – ek het daardie eerste paar dae almal se ore aan die brand gepraat.”

Op die laaste dag voordat hulle uit kwarantyn sou kom, het pres. Cyril Ramaphosa en ander hooggeplaastes die groep in Limpopo besoek. Maandag kon hulle eindelik terugkeer na hul geliefdes – al was dit dan ook in verdere afsondering.

Kuipers by The Ranch in Limpopo waar hy en die res van die groep 14 dae in kwarantyn deurgebring het.

Steyn en Reynolds pleit nou by Suid-Afrikaners om die staat van afsondering ernstig op te neem en te gehoorsaam. “Bly tuis. Red lewens. Onthou, diegene wat die virus opdoen, word geïsoleer. Baie van hulle sterf alleen. Geliefdes het nie die kans om te groet nie.”

Reynolds sê sy steun ook die Suid-Afrikaanse regering se besluit om ʼn staat van algehele afsondering af te kondig. “Dié virus versprei soos ʼn veldbrand. Die regering het die regte stappe gedoen.”

Wanneer die afsonderingstydperk op 16 April verstryk – en indien dit nie verleng word nie – sal Reynolds en Steyn reeds byna vier maande in afsondering gewees het.

“Moenie dink jy of jou geliefdes kan nie siek word nie. Kom ons gebruik die tyd om onsself te genees, ons verhoudings, huwelike, gesinne en huise te herstel,” sê Steyn.

“Kom ons bid vir die wêreld en staan saam.”

Kuipers sê hy is nou in afsondering by sy huis in Kempton Park. “Ek is rustig. Ek kan in my huis chill of met my bakkie peuter.”

Hoe voel hy oor die verdere afsondering? “As mense nie dink dit is die regte ding nie, moet hulle net kyk wat in die res van die wêreld gebeur.”

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan ·

Mis ek dalk iets…nie een enkele van hulle het eens naastenby die virus opgedoen nie almal is blakend gesond en die sterftekoers vd virus is baie laer as tb kanker of hartsiektes…dink biekie daaroor..

AmY ·

Wag tot jy in ‘n Woonstelblok ingehok word.
Jy mag nie eens om die woonstelblok stap nie.
Jy mag net uitgaan wanneer jy iewers heen ry.
Ons vat gewoonlik die taxi, maar net een persoon per taxi (Bolt) word toegelaat.
Ons kon nêrens maskers kry nie.
Ons het kos gekoop vir drie weke, maar wat as die grendelstatus verleng word?
Ons is ingehok, met STAMPING FEET (24/7) bo ons.
Dis hel!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.