SA’ners verdrink in skuld terwyl rentekoerse bly styg

(Foto: Stephan Phillips/Unsplash)

Die jongste – en besonder skerp – verhoging van die repokoers was ’n nare verrassing vir veral die talle Suid-Afrikaners wat besig is om in skuld te verdrink – en minstens een ekonoom waarsku nog ʼn styging lê voor.

Ekonome sê ’n verhoging van 50 basispunte is veral slegte nuus vir Suid-Afrikaners wat reeds moeilik afbetaal aan huisverbande, voertuiglenings óf daardie gewraakte kredietkaart wat al meer gevee moet word om die motor met brandstof te vul of selfs ’n bord kos op die tafel te sit.

“As ʼn land is ons in die hoogste voedselinflasiesiklus sedert 2009; ons is op die hoogste prima uitleenkoers sedert 2009 en as die ekonomie aanhou krimp soos in die laaste deel van verlede jaar, gaan ons ʼn resessie tegemoet,” waarsku Yael Geffen, uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby’s International Realty.

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee se verhoging van 50 basispunte – veel hoër as die verwagte verhoging van 25 basispunte – het die repokoers Vrydag op 7,75% en die prima uitleenkoers op 11,25% te staan gebring.

Diegene met skuld gaan steier

Geffen meen die Reserwebank moes Suid-Afrikaners ʼn blaaskans gegee het.

“Niemand kry salarisverhogings wat R5 500 se maandelikse verbandterugbetalingsverhogings in 18 maande kan akkommodeer nie. En dít is die geval vir elke huishouding in die land wat tans ʼn huisverband van R2 miljoen aangegaan het.

“Die situasie is onhoudbaar: mense gaan hul huise en hul lewensbestaan verloor,” waarsku Geffen uit ’n eiendomsoogpunt.

“Die basiese lewenskoste is buite beheer vir die meeste Suid-Afrikaners,” beaam Greg Dart, direkteur van High Street Auctions.

“Voedselinflasie is die hoogste in 14 jaar, beurtkrag verloor nou meer werkgeleenthede as kilowatt-ure terwyl vervaardiging ure lank stilstaan. Al meer klein ondernemings se deure gaan in die volgende kwartaal sluit.”

Dart sê die private sektor is nie blind vir die feit dat dit die Reserwebank inflasie in bedwang moet hou nie. “Maar dalk het hy ’n plan B nodig, want die huidige plan werk duidelik nie.”

“Ons het almal geweet nog ʼn koersverhoging sou voor die einde van hierdie kwartaal kom, maar die MBK moes verlede week die Amerikaanse Sentrale Bank se voorbeeld gevolg het en die verhoging tot 25 basispunte beperk het.”

Dart sê die monetêre beleidskomitee se “onvoorspelbaarheid” is boonop nie goed vir beleggersvertroue nie.

“My beste raad vir verkopers is om pryse realisties te hou en vir kopers om hul huiswerk te doen; belê in bates wat langtermynopbrengste sal lewer.”

Neil Roets, hoof van Debt Rescue, maan ook dat al hoe meer Suid-Afrikaners gaan sukkel om hul skuldterugbetalings by te hou.

“Met elke opeenvolgende koersverhoging sukkel huishoudings al hoe meer om die begroting te laat klop en die besteding aan noodsaaklikhede is eenvoudig meer as mense se inkomste.”

Wink nog ʼn verhoging?

Die ekonoom Dawie Roodt sê die jongste rentekoersverwagting gaan waarskynlik boonop nie die laaste een vir hierdie jaar wees nie. Hy meen Suid-Afrikaners kan oor twee maande nog ʼn koersverhoging verwag.

“Afhangend van wat met inflasie gebeur, gaan dit dan waarskynlik die laaste verhoging wees. Met ʼn bietjie geluk kan die Reserwebank dalk teen die tweede helfte van die jaar koerse begin sny. Dit sal byvoorbeeld afhang van die wisselkoers en die internasionale olieprys,” sê Roodt.

Roets stem saam dat verbruikers moontlik later vanjaar na ʼn mate van verligting kan uitsien.

“Soos gewoonlik is dit die kwesbaarste huishoudings wat die swaarste las gaan dra in die styging van voedsel- en brandstofpryse wat altyd op rentekoersverhogings volg. Dit gaan lyding veroorsaak vir Suid-Afrikaners wat eiendom-, voertuig- en kredietkaartskuld afbetaal en kan miljoene huishoudings in die middelinkomste- en hoërinkomstegroep knak.”

Prof. Raymond Parsons, ekonoom by die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, sê dit was onvermydelik dat die monetêre beleidskomitee sou voortgaan met sy rentekoersverhogingsiklus aangesien die stryd teen inflasie nog nie gewonne is nie.

“Die omvang van die toename in leenkoste was nietemin verbasend,” sê hy.

Maroela Media het vroeër berig drie lede van die komitee het ten gunste van die goedgekeurde verhoging gestem, terwyl twee lede ten gunste van die laer verhoging van 25 basispunte was.

Parsons sê die vraag is nou of hoër rentekoerse bevorderlik is vir die groei wat Suid-Afrika nodig het om buitelandse beleggers te lok.

“Dit sou gehelp het as die MBK verduidelik het hoekom twee lede van die komitee, wat na dieselfde data kyk, ʼn styging van 25 basispunte verkies het. Dit lyk of die afwaartse risiko’s vir ekonomiese groei grootliks begin saamval met die opwaartse risiko’s vir inflasie.

“Die bewyslas vir die MBK in huidige ekonomiese omstandighede kan nie absolute sekerheid wees nie, en daarom bly ʼn versigtige benadering die beste. ʼn Klein foutjie in monetêre beleid kan ons nou duur te staan kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Roebs ·

Alles word duurder en my salaris kom nie by alles uit nie. En dan sorg ek ook nog vir my ouers.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sê dankie vir die staatsamptenare se ruim verhogings.

Amelia ·

Behalwe vir mense wat huis koop moet die wat huur ook meer betaal is n bose kringloop dan is daar ook nog kinders wat versorg moet word met skoolgeld wat hemelshoog is ai mens moet als tot op die been sny

Nommer 7 ·

Ouers kan aansoek doen vir die lnkomste konsessie afslag wat die minister van onderwys toegestaan het. Met skoolgeld van bv R25,000 per jaar, is daar alteeds ‘n afslag vir ouers wat R700,000 of minder per jaar verdien. Sien Staatskoerant 29311.

Harley Davidson ·

Dit is wat dit is, die meerderheid hou aan stem vir die onbevoegde regering wat net na hulself kyk en alles vernietig.

domheks ·

Dit is hoog tyd dat skoolgelde afgeskaf word. Daar word miljarde aan universiteit studente bestee. Hoekom moet skoolgaande kinders dan nog enigsins betaal? Skool is verpligtend universiteite is nie!
Dan kan ouers beter vir hulle kinders sorg – sonder die las van skoolgeld.

Di ·

Stemm 100% saam. Meeste sit op universiteite en SLAAG nie en ons belasting betalers betaal daarvoor. In die verlede moet ons ouers SELF die geld opdok om ons kinders universiteit toe te stuur. Alle mos mahala in die land vir die “previous disadvantaged”

De Bok ·

Onder geen omstandighede. Die mense wat betaal vir die onderwys, bepaal wat die kinders leer. Ek skip liewer ‘n maaltyd per dag voor ek gaan toelaat dat die staat my kinders onderrig in hulle wereldbeeld

KAIROS ·

besig om almal gelyk te maak, deur almal op hulle kniee te forseer. Slegs die in posisie kan nog bekostig om te lewe

Veldskoen ·

Buitelandse beggers gaan nie skielik oortuig word deur ‘n 50 punt verhoging terwyl daar vooruitsig is vir ‘n verlaging later die jaar nie. As julle buitelandse beleggings soek, maak Eskom reg en los die repokoers. Verbruikers het nodig om te spandeer. Ons inflasie stem nie uit verbruikers aanvraag nie. Dit is agv baie duur en onstabiele energie toevoer asook brandstof pryse.

melaney ·

Miskien moet finansiële instansies minder advertensies (of glad nie) aan hulle kliënte stuur wat betref kredietkaarte ens. Baie kliënte vind dit moeilik om “nee” te sê. Dit is eenvoudig net te aanloklik.

De Bok ·

Mense moet na die wysheid van die Spreuke digter luister, en onnodige skuld vermy soos die plaag. Skuld is slawerny.

Danie ·

Dalk moet mense ophou met in kompetisie met die Jones’se te wees. Dit is in elk geval net klatergoud…

De Bok ·

Suid Afrika is stadig maar seker besig om te de-industrialiseer a.g.v. Eskom se probeleme. Dit veroorsaak dat alles duurder word. Die rentekoers se stygings is ‘n onafwendbare resultaat. Verwag gerus nog inflasie en nog rentekoers stygings.

As jy in Suid Afrika bly, is swaarkry jou voorland. Dit is wat ons bedoel as ons se Afrika is nie vir sissies nie. Is jy gereed vir die taai tye wat kom?

Ons gaan binne die volgende dekade ervaar wat dit beteken dat Christus on enigste hoop is. Die vraag is: Is Christus jou enigste hoop?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.