Sanral en ander benodig waarskynlik reddingsboei

Sanral (Argieffoto)

Sanral (Argieffoto)

Sanral gaan waarskynlik een van die groeiende lys van staatsbeheerde ondernemings word wat weer ’n reddingsboei vanaf die belastingbetaler sal moet kry, het die vakbond Solidariteit vandag gesê.

Die instansie het in die laaste finansiële jaar ’n verlies van R1,1 miljard gely. Ten spyte daarvan het sy bestuur R24,3 miljoen in salarisse en bonusse huis toe geneem. Nazir Alli, Sanral se uitvoerende hoof, se vergoeding het byvoorbeeld met 11,6% van R3,61 miljoen in 2014 tot R4,03 miljoen in 2015 gestyg.

Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê finansieringskoste het grootliks tot hierdie verlies bygedra. “Terselfdertyd het handelsdebiteure van ongeveer R950 miljoen tot R4,6 miljard tydens die laaste finansiële jaar gestyg. Tolskuld het grootliks tot dié styging bygedra. Sanral sukkel blykbaar om uitstaande tolrekeninge na kontant om te sit, wat toekomstige kontantvloeiprobleme kan inhou.”

Volgens Van Onselen beloop Sanral se langtermynlenings tans R36,7 miljard. “Groot gedeeltes van dié skuld is aangegaan om die e-tolprojek te finansier. Indien onvoldoende fondse ingewin word om dié skuld te delg, sal Sanral in alle waarskynlikheid nog een van die semistaatsinstellings wees wat in die komende jare deur die belastingbetaler ‘gered’ sal moet word. Dit moet in die konteks daarvan gesien word dat ʼn groot gedeelte van Sanral se omset reeds uit staatstoelae bestaan.”

Sanral is egter nie die enigste kandidaat vir ’n reddingsboei nie. By die SAUK en die SAL beweeg prestasie en salarisse ook in teenoorgestelde rigtings. Volgens dr. Eugene Brink, senior navorser by die SNI, het die SAUK ʼn verlies van R401 miljoen in die laaste finansiële jaar gely, terwyl sy operasionele bestuurder, Hlaudi Motsoeneng, nie eerlik was oor sy kwalifikasies nie en sy salaris binne ’n jaar met R1 miljoen (of 31%) gestyg het. Die verlies word juis aan stygende uitgawes, soos salarisse, toegeskryf.

“Die SAL se jaarverslag het getoon dat dit ’n verlies van R2,6 miljard in 2014 gely het. Dit is meer as dubbeld die R1,2 miljard-verlies wat in die vorige finansiële jaar gely is. Daar verdien die bestuur salarisse wat min of meer strook met dié by Sanral.

“Geen private maatskappy kan op hierdie grondslag voortbestaan nie. Die aandeelhouers sou lankal onttrek en die bestuur sou afgedank word. Maar by staatsondernemings word verpligte belastinggeld roekeloos gebruik om insolvente ondernemings te red en swak presterende politieke bestuurders te beloon.”

Van Onselen sê Sanral is een van vele semi-staatsinstellings wat sy dienste onder staatsdwang op die publiek afdwing. “Dit is onder meer swak bestuur, vermeende korrupsie en ondeurdagte projekte by instellings soos Sanral, SAL en die SAUK wat belastingbetalers bind tot besteding waaroor hul in werklikheid min sê het. Daardeur word belastingbetalers deur wanfunksionele staats- en semistaatsinstellings as gyselaar gehou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gjorg

Nou word Sanral in dieselfde asem as die SAUK en SAL genoem….julle maak seker ‘n grap. Sanral is die ENIGSTE staatsinstelling wat nog elke jaar ‘n skoon audit kry sedert sy totstandkoming. Die enigste rede hoekom hulle sukkel is omdat oningeligte mense weier om e-tol te betaal. Ja Piet, Susan en Jan Alleman, dis julle skuld….trots daarop?

Ursula Marx

Ek betaal e-toll van die begin af. Hier’s ‘n idee SANRAL en SAID. Siende dat ons belasting geld SANRAL uit die penarie gaan red, gee belasting korting aan die handjie vol e-toll betalers.

Johann Marx

Ek wil ook my e-tol betaal……sodra SANRAL vir my die “regte” rekening, BETYDS stuur sodat ek kan kwalifiseer vir afslag. Verder sê die krediet-wet dat enige instansie wat krediet wil toestaan EERS die persoon aan wie die krediet toegestaan word, sal “credit check” om te bepaal of daardie persoon die krediet kan terug betaal. Het SANRAL dit gedoen met elke motoris wat onder hulle stellasies deur ry? Ek kan ook nie verstaan hoe SANRAL die “koste” by elke stellasie bereken nie? Die stellasies is nie ewe ver uit mekaar nie, nie teenoorgestelde kante van die hoofweg nie, daar is opritte… Lees meer »

Peet Schabort

Ek is gelukkig in staat om draaie om daardie goed te ry wat so ginnegaap oor die paaie.
Vertel my egter waarheen gaan ons jaarlikse voertuiggeld ?

Fanie

Oegh!! En van die rasse skrede verhogings in e-tol gelde hoef mens seker nie te raai hoekom.
Ons werk net vir petrol en e-tol.