SAPD-lede eersdaags in hof vir ontvoering, afpersing

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: SAPS)

Twee polisiesersante van Dobsonville in Gauteng is op aanklag van ontvoering, afpersing en die besit van gesteelde goedere in hegtenis geneem. Hulle sal Maandag in die Roodepoort-landdroshof verskyn. Nóg twee beamptes word in verband met dié aanklagte gesoek, maar is tans voortvlugtig.

Lizzy Suping, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), sê vier polisiebeamptes het Vrydag na bewering na Payneville in Springs gery om die perseel van ʼn verdagte te deursoek.

Hulle het die verdagte in hegtenis geneem en beslag gelê op R35 000 asook goud, weegskale en 25 liter suurvormende kwik.

“In die polisievoertuig het die vier beamptes na bewering meer geld van die verdagte geëis, wat hy nie gehad nie. Hulle het hom glo aangesê om vriende te bel om hom te help om geld bymekaar te maak. Sy vriende kon ook nie help nie,” het Suping gesê.

Dit is nie bekend hoeveel geld die beamptes geëis het nie.

“Die polisiebeamptes het hom glo meegedeel dat hy in hegtenis sou bly todat hy die geld kon kry om hulle te betaal. Die verdagte se vriend het die voorval by Opod aangemeld wat saam met die polisie en die Johannesburgse metropolisie gewerk het om die betrokke beamptes en polisievoertuig op te spoor.”

Die voertuig is in Roodepoort opgespoor, met net twee van die beamptes in die voertuig. Die geld en goedere waarop beslag gelê is, is in hul besit gevind.

“Die twee sersante word tans by die Roodepoort-polisiestasie aangehou terwyl die ander twee beamptes nog voortvlugtig is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Casper ·

Nou ja daar het jy dit.Nog 4 polisiebeamptes betrokke by misdaad.Die apppel vrot van bo af.

Lillian ·

Skreiende skande! Dié wat beloof het om hul land se mense te beskerm en te dien is self krimineel. Maar wat, as die bestuur korrup is kan mens seker nie beter verwag van die res nie

Harley Davidson ·

Dit sal altyd so wees todat sa opgedeel word in onafhanklike state sodat elke volk homself kan regeer.

Christine ·

Ons tronke is vol! Dis hoekom selfs moordenaars weer op straat beland.

Boer ·

Die keuringsproses om nuwe SAPD-mense aan te stel is nie reg nie, hulle doen nie behoorlike agtergrondondersoeke nie. Kyk maar na die grootste misdadiger (Bheki Cele) wat in beheer is.

Eugene ·

Stel minister van ontvoering en afpersing aan. Een van die dae het ons net ministers in die ramp-phosa regering.

Christine ·

Roodepoort polisie is korrup! Daar gaan vele sulke goed aan en polisie word omgekoop deur die kriminele! Daar gaan meer sulke sake voorkom en ek hoop hulle verloor hulle werk! Toe ek aan ‘n polisiebeampte vertel van ‘n korrupte polisieman by Roodepoort wat saam met die kriminele werk, het die Beampte gemaak of hy my nie hoor nie. Hulle weet wat aangaan! Dis ‘n siek spul by daai polisiestasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.