Sassa sal afgekeurde Covid-19-aansoeke heroorweeg

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) sal afgekeurde Covid-19-aansoeke hersien en bepaal waarom dit verwerp is.

Paseka Letsatsi, woordvoerder van Sassa, het in ʼn verklaring gesê die hoë getal afgekeurde aansoeke het vrae laat ontstaan en Sassa het besluit dit sal deugsaam wees om die aansoeke eers te heroorweeg voor dit aan ʼn appèlproses onderwerp word wat duur en tydrowend sal wees.

“Byna 50% van aansoeke het vroeg in Junie nie gekwalifiseer volgens die kriteria nie. Meer as 70% van die afgekeurde aansoeke het óf WVF-voordele ontvang of daarvoor gekwalifiseer, aldus die databasis wat Sassa gebruik het om deur die aansoeke te sif,” het Letsatsi verduidelik.

“Sassa het gevolglik besluit om ʼn bygewerkte databasis te versoek om die afgekeurde WVF-sake te hersien, in plaas daarvan dat die betrokke aansoekers appèl moet aanteken.”

Uit dié proses het dit aan die lig gekom dat 85% van die WVF-sake wat vroeër nie goedgekeur is nie, eintlik kwalifiseer. “Dit moes goedgekeur gewees het en die persone word individueel in kennis gestel waar ʼn gunstige besluit geneem is. Elke betrokke persoon sal ʼn SMS ontvang wat versoek dat hulle bankbesonderhede moet verskaf. Dit is belangrik om so vinnig as moontlik op die SMS te reageer en op die skakel klik wat verskaf word.”

Letsatsi het gesê persone, wie se aansoeke goedgekeur word, moet nie die skakel met enigiemand anders deel nie, omdat elke skakel met ʼn spesifieke ID-nommer verbind word vir vertroulikheidsredes.

Meer as twee en ʼn half miljoen aansoekers het reeds ʼn betaling ontvang van die meer as 3,2 miljoen persone wat aansoek gedoen het vir die Covid-19-toelaag.

Sassa werk ook saam met die departement van maatskaplike ontwikkeling om die proses te finaliseer waarvolgens persone appèl kan aanteken indien hulle voel dat hul aansoeke onregverdig afgekeur is. Die proses sal binnekort op die webwerf https://www.sassa.gov.za/ beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wanda ·

Ek het in Mei maand aansoek gedoen en geld eers 22ste Junie ontvang.Het toe probeer aansoek doen vir Junie,dit wys ek het klaar aansoek gedoen.Wonder net wnr ek dan nou kan aansoek doen weer vir Junie.En hulle sē mens kan elke maand aansoek doen,help veel as hulle 4 weke vat om te betaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.