SAUK-werkers spreekbeurt oor afleggings in parlement geweier

(Foto: Karen Sandison/ANA)

Gewone werkers van die SAUK, wat deur reuse-afleggings in die gesig gestaar word, gaan oënskynlik nie ʼn geleentheid kry om hul insette daaroor aan die parlementêre komitee oor kommunikasie te lewer nie.

Phumzile van Damme, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, het Sondag gesê die party is teleurgesteld in die ANC se klaarblyklike weiering om werkers ʼn spreekbeurt te gee.

Die komitee vergader vandeesweek twee dae lank en die afleggings by die openbare uitsaaier is ook op die agenda. Daar is egter geen tydgleuf beskikbaar gestel vir gewone werkers om die LP’s te kom toespreek nie.

“Die DA het gevra dat die openbare uitsaaier se personeel genooi word om hul perspektiewe te gee oor die afleggingsproses en dat twee dae vir insette deur die bestuur en werkers daarvoor opsy gesit moet word.

“Dit lyk of ons versoek sonder verduideliking van die hand gewys is. Albei kante van die storie sou die parlement ʼn geheelbeeld van die proses gegee het,” het Van Damme gesê.

Die DA gaan nou die komiteevoorsitter, Boyce Maneli, vra vir ʼn verduideliking, asook aandring dat personeel wel genooi word.

Van Damme sê die komitee sou onder normale omstandighede ʼn oorsigbesoek aan die SAUK gebring het om na werkers se griewe te luister en dat die afsonderingstydperk nie beteken dié oorsigrol mag agterweë bly nie. “Dit beteken die parlement moet kreatief wees. ʼn Aanlyn vergadering met verteenwoordigers van SAUK-werkers sou gepas gewees het.”

Die SAUK se salarisrekening is hemelhoog en die gevolg van jarelange wanbestuur. Net verlede maand het die SAUK die parlement ingelig dat hy dié rekening met R700 miljoen moet sny net om gelyk te breek. Die DA sê dit gaan nie net oor blote syfers nie, maar ook oor die inkomste en welstand van mense.

“Dit is belangrik dat dit met sensitiwiteit hanteer word en alle werkersgriewe moet behoorlik deurtrap word.”

Van Damme sê nou is ook nie die tyd vir politiekery nie. “Die ANC het glo ʼn vergadering met die SAUK gehad en geëis dat die afleggings gestuit word omdat die party nie voor volgende jaar se plaaslike verkiesing in die verleentheid gestel wil word nie. Dit is onregverdig teenoor die SAUK se bestuur en werkers.”

Die party sê hy hoop sy versoek word gunstig oorweeg en dat die parlement nie net vir die top-bestuurslui beskore is nie, maar ook vir gewone mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

J ·

Pas die NOAG SE ARK strategie toe … om die SAUK te red.

Een olifant (vetkat anc kader) wat oorboord gegooi word kan 100 000 miertjies (gewone werkers) op die boot hou en laat oorleef.

Tyd om van die Hlaudi gespuis ontslae te raak!

JohanR ·

Soe die belastingbetaler sal aanhou om AL die SAUK se groot salaris paket te betaal, en daar sal geen aflegings wees nie net sodat die ANC nie sleg lyk by die stembus in 2021. Wow….what a huge Checkers plastic bag full of rubbish are the ANC not!

Sarel ·

Dan moet werkerscin ander sektore soos Denel.ook ‘n Spreekbeurt kry! Hierdie Sektore is Bankrot bestuur en nog neem.niemand verantwoordelikheid of word enige iemand vervolg nie. Niemand verskaf ook antwoorde nie.

Isabella ·

Goeiste net mooi alles is n wanbestuur !!!!!
Wanr gan die bekwame mense in poste gesit word… dit kan mos nie so aangaan…wanr gan Suid Afrikaners besef ons land gan nooit hestel as ons nie n regering in plek sit wat bevoeg is om die land te regeer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.