Seeskilpadsentrum vra hulp met broeilinge

Wanneer verdwaalde en verlore seeskilpadjies deur die seeskilpad-reddingsnetwerk gered en na die seeskilpad-bewaringsentrum by die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad gebring word, word besonderhede van elke skilpadjie, soos gewig, aangeteken om vordering te monitor. (Foto: Twee Oseane-akwarium-stigting)

Deur Elize Parker

Die dak van die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad is jaarliks ʼn besige plek om te wees, vanaf Maart tot Augustus, wanneer personeel en vrywilligers van dié bewaringsentrum aan die werk spring om sowat 50 tot 300 uitgespoelde seeskilpadjies te behandel sodat hulle in die see vrygelaat kan word.

Vanjaar moes die span reeds van einde Februarie af bontstaan om die eerste broeilinge te ontvang. Aan die hoof van die bewaringsentrum staan Talitha Noble. Sy en haar span neem die broeilinge oor by die seeskilpad-reddingsnetwerk wanneer stappers, strandgangers, veldwagters en hengelaars om hulp vra.

“Min dinge is so bevredigend as om gesonde waterskilpaaie weer in die see vry te laat. Ons is dankbaar vir elke netwerkwerker en lede van die publiek wat die noodlyn skakel,” sê sy.

Sy het reeds op skool, in 2009, as vrywilliger by die Twee Oseane-akwarium aangesluit. Noble is in 2016 die taak opgelê om die seeskilpad-reddingsnetwerk vir die bewaringsentrum, in samewerking met vrywilliger Tracey Whitehead, op ʼn formele basis te bestuur en te groei.

“Met die broeilinge kry ons te make met twee spesies, karet- en leerrugskilpadjies.”

Die twee spesies kom aan die suid- en ooskus van Suid-Afrika voor. Hulle leef in vlak kuswater naby subtropiese strande en die volwasse skilpaaie is 700 cm tot 1 000 cm lank. Die ou grotes weeg normaalweg meer as 80 kg.

Beide spesies se wyfieskilpaaie kom snags in die broeiseisoen, in die laatsomer, verskeie kere strand toe na die strande aan die suidekant van Mosambiek en noordekant van KwaZulu-Natal.

Die wyfies kan dan meer as 80 eiers op ʼn slag in die sand lê. Na 60 dae grawe die babaskilpadjies hulself uit die sand uit en waggel snags see toe.

Tracey Whitehead (derde van regs) is deel van die uitreikprojekte na gemeenskappe om bewusmaking te skep vir die optel van uitgespoelde seeskilpadbroeilinge op strande in die Wes-Kaap. Sy is die koördineerder van die Twee Oseane-akwarium-stigting se bewaringsentrum se program vir broeilinge. (Foto: Twee Oseane-akwarium-stigting)

“In die oseaan word hulle dikwels deur die Agulhasstroom meegesleur. Hulle is te klein om te swem en dryf kuslangs in die stroom na die Wes-Kaap. Gedurende hierdie tyd is hulle blootgestel aan roofvoёls, plastiek en ander besoedeling. Naby die Wes-Kaapse strande word die water kouer en hul liggaamstemperatuur daal gevaarlik.

“Die seeskilpad-reddingsnetwerk in die Wes-Kaap bestaan reeds uit meer as 600 lede. Noble en haar span val elke jaar, in Februarie, vir twee weke in die pad om die netwerklede op te lei en toe te rus met toerusting soos reddingshouers waarin die diere vervoer kan word.”

Die hoof van die Twee Oseane-akwarium-stigting se bewaringsentrum vir seeskilpaaie in Kaapstad, Talitha Noble, met ʼn ‘pasiёntkaart’ waarop ʼn seeskilpad in die kwarantynafdeling se inligting aangebring word. (Foto: Elize Parker)

Die reddingsnetwerk is nie formeel by die akwarium gebaseer nie, maar bestaan uit lede van die publiek. Tracy Whitehead is die een wat die lede en reddingswerk koördineer. Die lede woon naby netwerkpunte langs die kus. Hulle neem gestrande seeskilpaaie, broeilinge of volwassenes, in ontvangs nadat die seeskilpad-reddingsnetwerk se noodlyn gekontak is.

Die netwerkvrywilligers tref dan reëlings om diertjies na die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad te vervoer, waar Noble en haar span die diere ontvang.

Vanjaar is daar al 58 waterskilpadjies, vanaf strande so ver as Plettenbergbaai, Struisbaai en Sedgefield, ontvang.

Vir Noble is dit ʼn groot voorreg om die span by die goed toegeruste bewaringsentrum te lei. Sy het haar graad in marinewetenskap aan die Universiteit van Kaapstad behaal.

“Ek bewonder lede van die publiek en die reddingsnetwerk vir hul toewyding. Dikwels sal mense twee ure in die nag vanaf die reddingstrand na Kaapstad ry om die diertjies lewendig aan ons te besorg.”

Die skilpadjies word dan in die broeilingpoele by die bewaringsentrum geplaas, waarvandaan hulle na groter poele verhuis sodra hulle in die volgende herstelfase is. Mettertyd sal hulle deur die span ter see vrygestel word.

Die sentrum is in staat om 85% van die skilpadjies wat hulle red weer vry te laat in die oseaan. Net die groot skilpaaie word toegerus met satelliet-etikette wat hul swemroetes monitor. In die natuur oorleef slegs een of twee uit elke duisend wilde seeskilpaaie tot volwasse ouderdom.

“Hierdie, en ook ander seeskilpaaie, wys soveel karakter om onnatuurlike uitdagings soos plastiekbesoedeling te bowe te kom. Ons eer hulle moed en respekteer hulle durf.”

Noble se droom is om elke verlore en verdwaalde seeskilpadjie aan die Wes-Kaapse kus te red. Sy sal ook graag mettertyd ʼn alleenstaande seeskilpadsentrum wil inrig.

Deel van die visie is om die bewaringsentrum uit te bou tot ʼn gevorderde navorsingsinstansie. Die sentrum het juis onlangs ʼn navorsingsdeurbraak gehad. Die span was verras om te verneem dat een van die grootste ambassadeurs van die sentrum, Bob – ʼn groen skilpad wat in Januarie 2023 vrygelaat is – toe al die tyd ʼn wyfie is.

Bob was agt jaar lank in ʼn rehabilitasieprogram by die bewaringsentrum. Bloed is op haar vrystellingsdag getrek. Toetse, wat deur een van die voorste endokriene-laboratoriums gedoen is, het nou gewys dat die dier vroulik is.

Sy is die eerste seeskilpad in Suid-Afrika waarvan die geslag op dié manier bepaal is.

Die seeskilpadjies is nie die enigste van hul soort met ʼn tuiste by die poele op die dak of in die akwarium se groter water-uitstallings nie.

Die I&J Ocean-uitstalling was onlangs juis ekstra besig toe Nobomvu, ʼn amper volwasse seeskilpad, vanaf die opslaanwaterpoel op die dak in die groter wateruitstalling geplaas is vir die laaste fase van haar herstelproses.

“Ons respekteer al die pyn wat hierdie skilpaaie moet verduur. Hulle het soveel geduld met ons hantering om hulle in hul behandelingsprogramme deur al die fases te neem.”

  • Die seeskilpad-reddingslyn se nommer is 083 300 1663.
  • Die seeskilpad-reddingsnetwerk maak staat op befondsing deur die publiek aangesien die stigting ʼn organisasie sonder winsbejag is. Skilpadjies kan ten volle teen R6 000 per skilpadjie, of ook gesamentlik deur ʼn groep aangeneem word. Vul die fondse van Twee Oseane-akwarium-stigting aan met ʼn donasie op dié skakel.

Die plastiese voorwerpe (regs) is een van die redes waarom die seeskilpadjies verswak wanneer hulle in die oseaan na die suide swerf, omdat hulle daarvan insluk en sodoende beseer word. (Foto: Twee Oseane-akwarium-stigting)

Wat om te doen wanneer jy ʼn gestrande seeskilpad op ʼn Wes-Kaapse strand vind:

  1. Moenie die seewaterskilpad in die water terugsit, probeer kos of water gee of probeer toemaak nie. Plaas die dier wel in die skadu.
  2. Kontak die seeskilpad-reddingsnetwerk se noodlyn op 083 300 1663.
  3. Volg die riglyne wat deur die netwerkkoördineerder gegee word.
  4. Moenie seeskilpaaie self vervoer nie, aangesien die spesies op die lys van bedreigde of beskermde diere (TOPS-lys) is en ʼn vervoerpermit van die departement bosbou, visserye en die omgewing nodig is.

Een van die 55 nuwe aankomelinge wat reeds hierdie seisoen met die oseaan afgeswerf het in die Agulhasstroom, op ʼn strand uitgespoel het en deur die seeskilpad-reddingsnetwerk na die Twee Oseane-akwarium se bewaringsentrum gebring is. (Foto: Twee Oseane-akwarium-stigting)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.