Sekuriteitwag vas wat gr. 11-leerder glo voor eksamen verkrag

(Argieffoto: Unsplash)

Stephen Makgobatlou, ʼn 48-jarige sekuriteitswag by ʼn hoërskool in Allemansdrift in Mpumalanga, is in hegtenis geneem nadat hy glo Vrydag ʼn 16-jarige gr. 11-leerder verkrag het.

Hy het Maandag vir die eerste keer in die hof verskyn en sal in aanhouding bly totdat hy komende Maandag weer in die hof sal verskyn.

Die leerder was glo besig om vir haar eksamenvraestel voor te berei toe die sekuriteitswag haar met geweld uit die klaskamer gedwing het.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die slagoffer was omstreeks 06:00 by die skool – sy was die eerste leerder wat die oggend vir skool opgedaag het.

“Die skoolhek was glo by haar aankoms reeds gedeeltelik oop en die veiligheidswag het langs die hek gestaan. Sy het hom met respek gegroet en na haar klaskamer gegaan om vir die eksamen voor te berei.

“Volgens die slagoffer het die skool se veiligheidwag oomblikke later na haar klas gekom en gesê hy soek na ʼn  verdagte wat by die skool probeer inbreek. Hy het die klas verlaat en later met ’n ysterstaaf teruggekeer.

“Die slagoffer sê die veiligheidswag het haar daarna opdrag gegee om saam met hom te gaan. Hy het haar glo aan haar klere getrek en gedreig dat hy haar met die ysterstaaf sou aanrand as sy enige geraas sou maak,” sê Mohlala.

Sy is na nabygeleë bosse gedwing waar die veiligheidswag haar na bewering verkrag het. Daar was in daardie stadium nog nie ander leerders of onderwysers by die skool nie.

Volgens Mohlala kon die slagoffer egter later daarin slaag om te ontsnap nadat die veiligheidswag haar alleen gelaat het om kos te gaan koop.

“Sy is opdrag gegee om nêrens heen te gaan nie. Hy het glo vir haar gesê dat hy haar met die ysterstaaf sal doodsteek en haar liggaam in die nabygeleë dam sal gooi as sy iets probeer.”

Sy het egter, nadat hy weg was, in die teenoorgestelde rigting gehardloop, vervoer gekry en die saak by die polisie gaan aanmeld.

Mohlala sê ʼn onmiddellike ondersoek is van stapel gestuur en die verdagte is dieselfde aand in hegtenis geneem.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale kommissaris van die polisie in Mpumalanga, sê ʼn skool is soos ʼn tweede tuiste vir leerders en dat enige persoon wat ʼn misdaad op die skoolterrein pleeg tyd agter tralies moet deurbring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.