Ses vas ná jaagtog in Pretoria

(Foto verskaf deur die Valke)

Ses verdagtes, tussen 27 en 42 jaar oud, is Saterdag in Pretoria in hegtenis geneem op verskeie aanklagte, waaronder sameswering om gewapende roof te pleeg, poging tot moord, die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie, die besit van ʼn gesteelde motor en dat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het.

Die persone is in hegtenis geneem deur die Valke se eenheid wat georganiseerde misdaad ondersoek saam met die SAPD se lugvleuel, spesiale taakspan, Tshwane- taktiese reaksie-eenheid, Gauteng-verkeerspolisie, die honde-eenheid, Tracker Connect en Badboyz Security.

“Die span het reageer op inligting oor ʼn sindikaat wat moontlik verbind kan word met gewapende rooftogte in Gauteng en dat hulle besig was om nog ʼn gewapende rooftog in Pretoria te beplan,” sê lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Die groep is strategies ontplooi en ʼn konvooi voertuie, met vervalste nommerplate, is in Hatfield opgemerk. “Toe die verdagtes die polisieteenwoordigheid opmerk, het hulle in verskillende rigtings weggejaag. ʼn Jaagtog het gevolg.”

Twee verdagtes, in ʼn Volkswagen Caddy, is in Pretoriastraat in Silverton naby ʼn vulstasie voorgekeer en in hegtenis geneem. Volgens die voorlopige ondersoek is die voertuig in Oktober 2021 in Pretoria-Wes as gesteel aangemeld.

ʼn Ander span het ʼn Volkswagen GTI Golf 7 agternagesit. ʼn Hoëspoedjaagtog het gevolg en toe beamptes gepoog het om hulle in Alwynweg in Nellmapius voor te keer, het hulle op polisiebeamptes gevuur en die beamptes het teruggeskiet.

“ʼn Polisiekonstabel van Gauteng-misdaadintelligensie, is saam met twee ander insittendes in die motor in hegtenis geneem.”

Een van die verdagtes, ʼn siviele burger wat ʼn volledige polisieuniform aangehad het, het skietwonde opgedoen. Hy is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.

Beamptes het beslag gelê op ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie.

Vervalste Valke-regalia is ook gevind.

“Nóg ʼn konstabel, ook van misdaadintelligensie, is later met die sindikaat verbind en in hegtenis geneem. Sy was in besit van ʼn Nissan X Trail van misdaadintelligensie wat vervalste nommerplate gehad het.”

Die verdagtes sal Maandag in die Pretoriase landdroshof verskyn. Nog inhegtenisnemings kan nie uitgesluit word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hannes ·

Twee konstabels van misdaadintelligensie is betrokke by gewapende roof en ons oorgewig Freddy Krueger dink hy is deel van die wenspan.
Plunder van fondse, omgekeerde rassisme en selfveryking is duidelik die ANC se hoogste prioriteit.

Pannies ·

As hulle net al die korrupte en onbevoegde polisielede wegjaag, sal misdaad drasties afneem.

Andre ·

Ons kan nie dit doen nie, ons sal net met 10 polisie manne/vroue sit!

Jack ·

So Cele is dus onomwonde die hoof van die bende misdadigers in die land. Hy het selfs n paar manne daar poste gegee en die res is dalk gewese sapd lede. Wetben orde het verval en dit sal nou afhang van ons of dit sal voortduur. Die privaat sekuriteit het meer lede as sie sapd en ons moet hulle dus meer aanwend as die land se nuwe sapd. Cele kan maar sy rampokkers hou.

Boon ·

Dis goeie voorbeeld van wolf wat in skaap wagter se klere werk. Lyk of SAPD van bo tot onder deurtrek is van korrupsie .

Antoinette ·

Om jou werksplek se voertuig te gebruik en die nommerplate te vervang ten einde misdaad te pleeg is een van die laagste dade waaraan ek kan dink.
Tien uit tien vir almal wat betrokke was by die inhegtenisname van die misdadige spul. Ek wonder maar net hoeveel van die nuwe rekrute (nogal 20 000 as ek dit nie mis het nie) wie na alles waarskynlikheid aangestel is sonder om agtergronde na te gaan of enige vaardigheidstoetse of psigiese kwessies na te gaan, is eerlike en bevoeg genoeg vir die taak. Mooi gekyk maar het net swart gesiggies gesien. Daar IS darem ander bevolkingsgroepe in die land met eerlike en bevoegde jongelinge in die land wat ook graag en opreg smag om misdaad te beveg. Die immer geskokte Cele sal waarskynlik nooit sy les hier leer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.