Seun se dood in staatshospitaal ‘erger as ’n gruwelfliek’

Andrew Deysel (Foto: Verskaf)

’n Ma van die Oos-Rand is bitter oor die behandeling wat haar volwasse seun voor en ná sy dood by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg ontvang het.

“Die manier waarop hy behandel is en die manier waarop ek sy liggaam moes gaan uitken, was erger as ’n gruwelfliek. Hy het nie verdien om so behandel te word nie,” vertel Yolanda Deysel van Alberton oor haar seun, Andrew.

Sonja Smith-Janse van Rensburg, besturende direkteur van Sonja Smith Funeral Group, sê dit is ongelukkig talle Suid-Afrikaners se werklikheid wanneer hulle hul geliefdes ná hul afsterwe in ’n staatslykshuis moet gaan uitken.

Sy meen daar behoort meer gedoen te word om dié nare ervaring vir Suid-Afrikaners meer draaglik te maak.

‘Hulle het hom nie eens skoongemaak nie’

Andrew Deysel (30) is volgens die nadoodse ondersoek op 10 September in die hospitaal se waakeenheid dood, nadat hy op 9 September ’n operasie vir ’n mantelvliesbreuk ondergaan het.

Yolanda beweer nou daar was komplikasies gedurende die operasie, iets wat hospitaalpersoneel volgens haar nooit aan haar gesê het nie.

Sy het haar seun se bebloede liggaam die dag ná die operasie in die hospitaal se lykshuis aangetref.

“Ek kan nou nog die bloed ruik waarin hy gelê het. Hulle het hom nie eens skoongemaak nie. Hul yskaste was ook nie koud nie. Hulle het hom uitgestoot op ’n trollie en die lyksak oopgemaak. Hy het nie klere aangehad nie.”

Sy vertel die bloed het by sy mond en neus uitgeloop en sy kop was opgeswel. “Dit het gelyk of iemand hom op sy kop geslaan het. Die suster het sy arm uit die sak geruk om sy vingerafdruk te neem. Sy was hardhandig. Toe sy later probeer om sy arm terug in die sak te sit, het dit gelyk asof sy sy arm gaan breek.

“Die begrafnisondernemer het gelukkig toe ingetree en gehelp.”

Smith-Janse van Rensburg sê daar is ongelukkig sekere amptelike riglyne wat gevolg moet word wanneer ’n pasiënt in ’n staatshospitaal tot sterwe kom. Dit sluit in ’n formele uitkenning van die liggaam.

Smith-Janse van Rensburg sê nou daar behoort duidelik onderskeid getref te word tussen ’n formele uitkenning van die liggaam en ’n besigtiging van die liggaam om afskeid te neem.

“Ek sê altyd ’n lykshuis is nie die plek om afskeid te neem nie.”

Smith-Janse van Rensburg raai kliënte aan om verlangse familie of selfs ’n polisiebeampte eerder as die naaste familie te stuur om die uitkenning te doen.

“Daardie prentjie kry jy nooit weer uit jou kop nie. Die liggaam is nog nie in daardie stadium voorberei nie.

“In sommige staatshospitale lyk dit ook amper soos in die flieks. En jy kan jouself indink: Jy stap by ’n lykshuis in en ’n laai wat lyk soos ’n liasseerkabinet word oopgetrek en hier staan jy en jy moet sê: Ja, dit is my kind.

Argieffoto bloot ter illustrasie.

“Dit is ’n traumatiese ervaring.”

Smith-Janse van Rensburg gee toe dat sy in die geval van Andrew “uit ’n waardigheidsoogpunt” sou verwag dat sy liggaam skoongemaak sou word voordat die familie hom moes uitken.

Sy glo ook nie dit was nodig dat Andrew se vingerafdrukke in Yolanda se teenwoordigheid geneem moes word nie. “Ja, dit is ’n wetlike vereiste, maar dit hoef nie op daardie oomblik te gebeur nie. Dit kon vooraf of later gedoen word.

“Dit is egter ongelukkig so dat hospitaalpersoneel soms gedesensiteer [ongevoelig gemaak] word weens die aard van hul werk. Sy sê personeel behoort deernis te toon en elke gestorwe pasiënt te behandel asof dit die eerste pasiënt is om by die betrokke hospitaal tot sterwe te kom. “Daar behoort ook sagkens met die familie omgegaan te word.”

‘Die legkaartstukke pas nie’

Yolanda vertel ’n olike Andrew is op 8 September (twee dae voor sy dood) na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem. Sy bloeddruk was in daardie stadium laag.

Daar gekom, is Andrew na die hospitaal se trauma-eenheid geneem. Yolanda het buite gesit en wag. ’n Dokter het later uitgekom en aan Yolanda gesê dat haar seun in septiese skok is.

Nog ’n dokter het later gesê Andrew het ’n mantelvliesbreuk en sal geopereer moet word.

Andrew is die betrokke aand om middernag geopereer. Die operasie het volgens haar tot 03:00 geduur. ’n Personeellid van die hospitaal het later gebel en gesê dat hy in die waakeenheid van die hospitaal aansterk en dat Yolanda haar seun later die middag kan besoek.

Andrew was met haar aankoms by die hospitaal daardie middag wakker, maar aan baie masjiene gekoppel. Hy was ook aan sy hospitaalbed vasgebind. Die personeel het aangedui dat Andrew herhaaldelik die pyp uit sy neus probeer ruk het.

“Hy was verskriklik geïrriteerd. Ek kon sien iets is nie reg nie,” vertel Yolanda.

“Ek is later daardie middag huis toe. Toe bel die hospitaal Sondag 07:00 om te laat weet dat hy 06:30 aan ’n hartaanval oorlede is.”

Yolanda het haar na die hospitaal gehaas waar ’n dokter met haar aankoms gesê het dat hy nié aan ’n hartaanval dood is nie, maar eerder ’n bloedklont deur die long.

Yolanda het besluit om ’n nadoodse ondersoek te laat doen. Die uitslae sou eindelik toon dat hy aan “onnatuurlike oorsake” dood is.

“Ek is nou nog nie seker waaraan hy dood is nie,” sê ’n gebroke Yolanda nou.

“Niemand kan ook vir my ’n duidelike antwoord gee nie. Al die stukkies van die legkaart pas nie in nie.”

Sy vermoed ook dit was nie die eerste of laaste geval van sy soort nie.

“Mense daar buite moet weet wat gaan aan [in staatshospitale].”

Maroela Media het reeds verlede Woensdag ’n navraag aan die departement van gesondheid gestuur om meer inligting oor Andrew se behandeling en eindelike dood te bekom. Die departement het ontvangs van die navraag bevestig, maar ná meer as ’n week steeds nie reageer nie.

Die departement se kommentaar sal in die berig bygevoeg word sodra Maroela Media dit ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

hpven ·

Tragies! Hoeveel mense moet nog sterf in die ANC regime se doodsakkers….?

Di ·

ONBEVOEGDE, useless mense word in poste aangestel wat GEENSINS die vermoe het om met pasiente te werk nie. Sit net daar vir die volgende salaris. Elke pasiente wat hulle na moet omsien, is in hulle oe net ‘n “oorlas”

OU SAAR ·

Presies Di.
Ek het eerstehandse ondervinding daarvan. Die betrokke verpleegster was openlik baie rasisties en vyandig teenoor my en die 1 ander blanke dame en 3 bruin dames wat ń saal gedeel het.
Ons klagtes het op dowe ore geval. Ek het later geweier dat sy aan my raak.
Maar behalwe vir die een vlieg in die salf het ek baie goeie behandeling gekry by ons staatshospitaal. Personeel was baie professioneel en vriendelik. Goed opgelei. Glo dis omdat ons op die platteland bly…

Skappie ·

So jammer dat jy deur hierdie goed moes gaan. Mag onse Liewe Jesus jou deur hierdie moeilike tyd dra.

Dromer ·

Dis bitter hartseer. My man is in Helen Joseph 4 Julie 2023 oorlede. Ek moet sê die versorgers van sy saal was regtig tops. Hulle het baie mooi na hom gekyk. Ek moes hom uitken die Woensdag. Hulle het hom reggemaak en uitgebring en die werker het my gevra Is this your husband. Ekt ja gesê en hyt my skouer n drukkie gegee en gesê take your time mam. Hyt my by my man gelos tot Avbob my man gevat het.

Miskruier ·

Dieselfde het met my man gebeur in n privaat hospitaal. Moenie haat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.