Seun skuil terwyl pa doodgeskiet word

Die owerhede by die huis waar die tronkbewaarder doodgeskiet is. (Foto: Rusa)

’n 12-jarige seun van KwaZulu-Natal moes vandeesweek in sy kamer skuil en hoor hoe sy pa, ’n tronkbewaarder van beroep, in ’n ander vertrek doodgeskiet word. Die kind het ure lank in sy kamer weggekruip totdat hulp opgedaag het.

Reaction Unit South Africa (Rusa) sê beamptes is Donderdag vóór 08:00 na die gesin se huis in Hazelmere ontbied. Die beamptes het met hul aankoms die pa se lewelose liggaam in ’n slaapkamer aangetref.

Dit was duidelik dat hy verskeie kere geskiet is.

Die seun het glo 01:00 daardie oggend gehoor hoe sy pa aan iemand skree om hulself te identifiseer. ’n Skoot het daarna gevolg. Die seun het sy pa om hulp hoor skree en nog verskeie skote is afgevuur.

“Die seun het in sy kamer weggekruip en telefonies kontak gemaak met sy ma wat in Umlazi, suid van Durban, KwaZulu-Natal, woon. Sy het hom gevra om in sy kamer te bly terwyl sy reëlings getref het om na Hazelmere vervoer te word.”

Die ma kon ná ’n ure lange gespook nie vervoer reël nie en het eindelik ’n vriend van die pa om hulp gevra. Dié is toe na die huis waar hy op sy vriend se liggaam en die seun afgekom het.

Daar was in dié stadium geen teken van die moordenaar(s) nie.

Volgens Rusa is die motief vir die moord onbekend.

Die polisie het bevestig ’n saak van moord word ondersoek.

Maroela Media het Vrydag die departement van korrektiewe dienste genader om kommentaar en wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

TRAGIES! Wat moes die arme kind nie deurmaak nie! Hierdie aanslag het dalk iets te doen met sy beroep as tronkbewaarder. Kriminele binne in gevangenisse ook totaal en al in beheer van die tronke!

Wondermaarnet ·

Arme kind. Hoop die skuldige/s word vinnig vasgetrek.

Hannelie ·

Die berig is so duidelik dat die ma heel moontlik iets hiermee te doen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.