Seuns verdrink in rivier

Polisieduikers op die toneel. (Foto: SAPD)

Die liggame van twee Oos-Kaapse seuns is Dinsdag uit die Swartkopsrivier in Kariega (Uitenhage) gehaal nadat hulle die naweek saam met maats daar gaan swem en onder die water verdwyn het.

Jerome Cowie (11) en Corné Boesak (12) het Sondag saam met vier ander seuns die rivier probeer oorsteek, maar in die middel van die rivier moeg geword.

Een van hul maats het omgedraai om hulle oor die rivier te help, maar hulle het in die proses onder die water verdwyn.

Al die ander seuns het uit die water geklim en huis toe gegaan. Die seuns het hul ouers eers later meegedeel wat met hul maats gebeur het nadat hul ouers hulle oor die vermiste seuns uitgevra het.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê ’n soektog is van stapel gestuur en polisieduikers het Dinsdag omstreeks 10:00 Jerome en Corné se liggame uit die water gebring.

’n Geregtelike doodsondersoek word nou gedoen.

“Die polisie doen ’n beroep op ouers om te verseker dat daar altyd volwasse toesig is wanneer kinders rivier toe gaan om te swem, aangesien die slagoffers meestal nie kan swem nie,” sê Swart.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eiervrug ·

Hoop die ander seuns sit bietjie en dink oor hierdie…. Het hulle gehoop die probleem gaan wegraak as hulle vir niemand daarvan vertel nie???????

Swerwer ·

Kan nie glo dat hul nie gehardloop en hulp gaan soek het nie. Iets klink nie vars nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.