Sewe SA’ners verongeluk in Botswana

Die A2 in Botswana. (Foto: Pinterest)

Sewe Suid-Afrikaners is die naweek in ’n motorongeluk in Botswana dood.

Die polisie in Botswana sê ’n groep van 14 Suid-Afrikaners was Sondagmiddag in ’n ongeluk by die Ranaka-aansluiting op die A2-snelweg betrokke.

Dipheko Motube, woordvoerder van die polisie in Botswana, sê die groep Suid-Afrikaners het ’n kerkdiens in Kanye – sowat 80 km vanaf Gaborone – bygewoon en was op pad terug na Suid-Afrika toe die Toyota Hiace-bussie waarin hulle gereis het teen ’n Range Rover gebots het.

Vyf Suid-Afrikaanse vroue en twee Suid-Afrikaanse mans, almal tussen 37 en 72 jaar oud, is op die ongelukstoneel dood verklaar.

Vier passasiers van die Range Rover – almal burgers van Botswana tussen 9 en 39 jaar oud – het ernstige beserings opgedoen.

Dié vier beseerdes is ná die ongeluk saam met vier beseerde Suid-Afrikaanse vroue en drie beseerde Suid-Afrikaanse mans in ’n hospitaal opgeneem vir mediese behandeling.

Die oorlewende Suid-Afrikaners het almal “verskillende beserings” opgedoen, aldus Motube.

Die onderskeie bestuurders van die bussie en Range Rover is nie ernstig beseer nie.

Motube sê die presiese oorsaak van die ongeluk word in dié stadium nog ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.