Sewe vakke ‘net nie genoeg’

Hannah du Plessis (Foto: Verskaf)

Vir Hannah du Plessis van die Hoërskool Pearson in Gqeberha, was sewe vakke net nie genoeg nie. Sy het tydens haar skoolloopbaan altyd probeer om uit haar gemaksone te bly, daarom het sy sommer tien vakke in matriek geneem. “Ek het nog altyd myself uitgedaag.” Nou spog sy met nege onderskeidings.

Hannah het gewerk om ʼn beurs – in enige vorm – te verdien. “Ek weet ek het baie hard gewerk. My grootste uitdaging in matriek was om eerste in my graad te wees en bo 90%  vir al my vakke te kry. Ek doen dit vir my toekoms!”

Haar vakke in matriek het ingesluit rekeningkunde, ingenieursgrafika en ‑ontwerp, en lewens-en fisiese wetenskappe.

Hannah borrel wanneer sy vertel oor haar harde werk deur die jare. Hierdie jaar studeer sy BCom aktuariële wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Sy weet sy sal baie huis toe verlang, want Hannah se gesin is baie heg. Sy is die enigste kind, maar hulle twee Yorkshireterriër‑hondjies, Zero en Sparky, is soos susters vir haar. Sy droom om eendag naby haar gesin te woon en ʼn suksesvolle beroep te hê. Hannah wil veral al haar aktuariële eksamens deurkom en vir Investec-bank werk.

Sy het verlede jaar op die skool se leerlingraad gedien. “Dit het my baie van leierskap geleer en om na ander se opinies en idees te luister.” Sy het ook vir haar skoolkoerant geskryf en was deel van ʼn projek met die naam “No plastic fantastic”, waar sy kon help om die omgewing skoon te hou.

Hannah stel voor dat voornemende toppresteerders elke dag ʼn bietjie moeite doen met hul werk sodat die harde werk kan opbou. “Wees konsekwent,” sê sy.

  • Hannah het addisionele wiskunde as vak gehad. Dié vak is egter nie ingesluit by die inligting wat die departement van onderwys oor leerders se uitslae bekend gemaak het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.