Shoprite laat misdadigers les opsê

Misdaad by Shoprite-winkels het in ʼn jaar se tyd met 16% afgeneem. (Foto: Verskaf)

Die Shoprite-groep het Maandag gesê dat ernstige misdaad by sy onderskeie kettingwinkels, tussen Julie 2020 en Mei 2021 met 16% afgeneem het. Dit sluit gewapende rooftogte en inbrake in.

Danksy ʼn inhuisspan, is skuldigbevindings in meer as helfte van die misdaadvoorvalle by dié winkels verseker.

Shoprite skryf die daling toe aan die groep se doeltreffende veiligheids- en voorkomingsmaatreëls en die rol wat hy in die inhegtenisneming en vervolging van misdadigers speel.

“Die groep doen meer as sy plig om klante en werknemers te beskerm.

“Die interne span is betrokke by die hele proses – van die identifisering van verdagtes, die teenstaan van borgtog en samewerking met die polisie én Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) tot die verskaffing van bewyse in die hof.”

Volgens Oswald Meiring, Shoprite se sekerheidshoof, bestaan dié kundige interne span onder andere uit voormalige speurders en polisiebeamptes, informante, data- en misdaadontleders en ’n strafregprokureur.

Luidens ’n verklaring wat deur Shoprite uitgereik is, het lede van dié span al 752 hofverskynings bygewoon en gehelp om 64% skuldigbevindings te verseker. Dít, sê Shoprite, beteken altesaam meer as 303 jaar tronkstraf vir dié oortreders en 46 jaar opgeskorte vonnisse.

“Die span het ook ’n kernrol in 200 inhegtenisnemings gespeel.

“Die meeste van die sake wat tans in die hof voorkom, is vir gewapende roof (54%) terwyl 26% vir misdade soos diefstal, brandstigting, aanranding, plundering, inbrake en bedrog is,” sê Meiring.

“Ons as groep fokus op die bekamping van misdaad omdat dit die regte ding is om te doen. Ons glo verder dat inhegtenisnemings en vonnisse vir dié misdade eindelik as afskrikmiddel dien en misdaad verminder.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.