‘Siek’ werker by EFF-betoging trekpas gegee

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Tania Broughton, GroundUp

ʼn Werknemer van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wat in 2020 gesien is waar hy “sing en hande klap” tydens ʼn EFF-betoging toe hy eintlik siekverlof gehad het, is finaal die trekpas gegee.

Regter Graham Moshoana van die Johannesburgse arbeidshof het Maandag ʼn vorige uitspraak deur die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (KVBA) tersyde gestel. Die KVBA het vroeër bevind dat Benneth Mathebula se afdanking wesenlik onbillik was en dat hy heraangestel en terugbetaal moet word vir die tyd wat hy sonder ʼn werk gesit het.

“Toe hy gemaak het asof hy siek was, was sy bedoeling om die SAID te mislei,” het Moshoana beslis en bygevoeg dat Mathebula se afdanking regverdig was.

Van die bewyse in die saak was dat Mathebula op 7 September 2020 ʼn boodskap aan sy bestuurder, Pule Mantso, gestuur het en gesê het hy “voel nie goed nie”.

Hy het die volgende dag nog só ʼn boodskap gestuur waarin hy dieselfde gesê het.

Op 9 September 2020 het hy ʼn dokter geraadpleeg en hy is tot 11 September “weens ʼn mediese toestand” afgeboek.

Terwyl Mantso in hierdie tyd die nuus op die televisie gekyk het, het hy gesien hoe Mathebula aan ʼn betoging deelneem wat deur die EFF teen die kleinhandelgroep Clicks gereël is.

Mantso het gesien hoe hy “sing en hande klap”.

Mantso het besluit om Mathebula skriftelik te konfronteer. Mathebula het in reaksie hierop gevra hoe dit onder Mantso se aandag gekom het.

“Dit het onder my aandag gekom toe ek jou op die 19:00-nuus gesien het, maar ek verwag het dat jy siek sou wees,” het Mantso gesê.

Mathebula het vir Mantso gesê dat hy op daardie dag medikasie geneem het en “ʼn bietjie beter gevoel het”.

Hy het aangevoer dat ʼn vriend by hom besoek afgelê en voorgestel het dat hy hom na Sandton vergesel.

“Ek het niks verkeerd daarmee gesien nie, eintlik het ek gedink dis dalk goed om uit die huis te kom en bietjie my bene te strek, want ek was nie bedlêend nie,” het hy gesê.

“So, dit is waar dat jy my dalk gesien het. Ongelukkig het ek die volgende dag erger siek geword, daarom het ek jou laat weet.”

EFF-lede sing en dans voor Clicks. (Foto: EFF/Twitter)

In November dieselfde jaar is Mathebula van oneerlikheid by die SAID aangekla. In Maart 2021 is hy skuldig bevind en ontslaan.

Hy het ʼn onbillike ontslaggeskil na die KVBA verwys waar kommissaris Faizel Mooi in sy guns bevind het.

Die SAID het egter die arbeidshof genader om Mooi se uitspraak te hersien en tersyde te laat stel.

Moshoana het bevind dat dit ʼn gemene saak was dat Mathebula aan die betoging deelgeneem het op ʼn dag waarop hy die “vermetelheid” gehad het om aan die SAID te kenne gegee dat hy nie gesond voel nie.

“Hoewel hy nie gesond genoeg was om werk toe te gaan nie, was hy gesond genoeg om aan ʼn betoging deel te neem.

“Dit moet so wees dat toe hy aan sy bestuurder voorgehou het dat hy nie goed voel nie, hy nie opreg was nie,” het die regter bevind.

“As hy aan sy bestuurder aangedui het dat hy vir die dag verskoon wil word om aan die betoging deel te neem, sou hy nie ontslaan gewees het nie.”

Die regter het gesê Mathebula het eers twee dae later mediese hulp gesoek en die doktersertifikaat “het nie op ʼn afstand voorgestel dat die mediese toestand waarmee hy gediagnoseer is voor die dag van die ondersoek voorgekom het nie”.

“Dit het gelyk of Mathebula misbruik gemaak het van die SAID se beleid dat ʼn werknemer wat vir twee dae of minder siek is nie ʼn mediese sertifikaat benodig nie.”

Die regter het gesê kommissaris Mooi het staatgemaak op spekulatiewe bewyse dat Mathebula nie bedoel het om sy werkgewer te mislei nie.

“Die waarskynlikhede dat hy nie siek was nie, is oorweldigend. As hy kon hande klap en sing, moet dit volg dat hy sy kontraktuele pligte sou kon uitvoer.

“Sy eerste reaksie toe hy gekonfronteer is, was egter nie een van ʼn eerlike werknemer nie … en sy pogings om homself verder te verduidelik was flou.”

Moshoana het bevind dat die KVBA se uitspraak nie die grondwetlike samestelling en vereistes geslaag het nie en dit tersyde gestel.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Steyn ·

Tipiese rooi oorjas mentaliteit, waar is sy “comrades” nou om hom te ondersteun?

Piet 6 ·

Dit is nie die einde nie. Die EFF sal dit nie daar los nie. Hulle sal strate toe gaan en brand.

skurweberg ·

Die wat die regte ding wil doen en leef word nie meer die kans gegun om dit te doen nie.

Harley Davidson ·

Dissipline moet toegepas word om die Suid Afrikaanse norm van maak wat jy wil sonder enige nagevolge teen te werk.

Shakespeare ·

Agtergeblewe nou en vir altyd want basiese etiek ontbreek totaal.

skurweberg ·

Ek sou die ouers wat hierdie kinders gemaak het van kinderverwaarlosing wou aankla, Dis deel van hulle aandeel aan die onreg teen die mensdom.

Rocco ·

Goeie nuus. Raak ontslae van al die vrot appels in die regering en staatsdiens.

Plaaskind ·

Die vrot appels is 98% van die regering en staatsdiens, ongelukkig ‘n nare werklikheid.

Delia ·

So wat nou? Moes hy maar sy werk behou. Damned if you do and also if you dont

Danie ·

Oneerlike werker daar nie medisyne vir onnosel opstokers nie.Gekry waarna hy gesoek het.

Roek ·

So wat gebeur nou met Mnr Mooi , as hy/sy, sy sout werd was en geweet het hoe om sy job te doen sou baie tyd en geld gespaar gewees het , wie is nou verantwoordelik vir die kostes ?

Fran ·

Hy gaan seker weer maklik ‘n ander werk kry want hulle gaan nie ‘n behoorlike agtergrondondersoek doen nie.

blia ·

Ek het ook al ‘n werknemer afgedank met soortgelyke omstandighede. Gelukkig het die KVBA in ons geval die afdanking as billik beslis.

skurweberg ·

Dis maar een geval, Hulle misbruik die stelsel reeds vandag 1994, sonder gevolge. ‘n MENTALITEIT sonder enige gewete. Hulle. vervoer vriende en doen inkopies met staatsvoertuie en in werkstyd. Alles te doen met ‘n gebrek aan skaamteloosheid, verantwoordelikheid, werksetiek en waardes sonder enige gevolge.

Di ·

Nou het hy tyd om AL die EFF betogings by te woon. Malema moet hom maar betaal vir al sy harde werk

Janice ·

Dankie regter. Dit is die kaliber mense wat in die departement werk wat verantwoordelik is vir hoe ons hardverdiende geld gebruik word. Geen wonder die land sit waar dit sit nie.

Heinrich ·

Oneerlike EFF werknemers by die Inkomste Diens…dit verduidelik baie.

Wikkie ·

Ek sal vir hierdie regter stem as staatspresident.
Ek gee vir hom ‘n staande applous. Wel gedaan. Mag dit die toon stel en ‘n voorbeeld wees vir die korruptes.

Tsek! ·

Maar meneer wergewer die man was en is dalk nogsteeds siek…hy stem vir die EFF?! Dis n erge siekte daai!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.