Sigaretsluikhandel geen twakstorie

sigarette

(Foto: Klimkin/Pixabay.com)

Die sluikhandel in sigarette in Suid-Afrika is soos ’n wegholveldbrand. Ofskoon altesaam R16 miljoen se onwettige stompies in Augustus in onderskeidelik die Durbanse hawe en Kaapstad geblus en R30 miljoen se gekonfiskeerde twak in Junie vernietig is, vloei broodnodige belastinggeld hieruit steeds soos water deur ’n stukkende sif.

Dis allermins ’n ontluikende mark, meen British American Tobacco, een van die wêreld se grootste sigaretvervaardigers. Batsa, dié groep se plaaslike filiaal, sê Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld wat (die vyf maande lange dampiedemper tydens die Covid-19-inperking ten spyt) toegelaat het dat onwettige sigarethandelsmerke sy topverkopers word.

’n Verslag deur die Suid-Afrikaanse Tabakinstituut, wat intussen ontbind het, het in 2018 reeds getoon dat Suid-Afrika met een van die grootste onwettige markte ter wêreld te kampe het, jaarliks miljarde rand in belastinggeld verloor en wettige sigaretvervaardigers smoor.

Volgens Batsa is minstens 33% van alle sigarette wat in Suid-Afrika verkoop word, onwettig, terwyl die verkoopsyfer in die informele sektor tot 42% opskiet. Dit word geraam dat minstens R19 miljard se belastinggeld in die huidige boekjaar voor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se neus in rook gaan opgaan.

Volgens Bloomberg sal Suid-Afrika waarskynlik R11,5 miljard in belasting op sigarette en verwante produkte in die jaar tot Maart 2022 invorder, teenoor die nasionale tesourie se begrote R13,1 miljard. Edward Kieswetter, SAID-kommissaris, het verlede jaar gesê dit sal jare neem om die kriminele onkruid uit te roei wat tydens die rookverbanning wortel geskiet het.

Batsa het in ’n verklaring gesê ’n onlangse studie deur ’n onafhanklike wêreldwye konsultantfirma in opdrag van die South Africa Tobacco Transformation Alliance (SATTA) het bevind dat sigarette wat vir goedkoper as R26,55 per pakkie verkoop word, nie van ’n ekonomies lewensvatbare kommersiële onderneming afkomstig kan wees nie.

Dié studie het bevind dat tot 90% van alle onwettige sigarette in Suid-Afrika vervaardig word en dat jy ’n pakkie sigarette vir so min soos R6 kan opraap. ’n Vroeëre studie deur die Universiteit van Kaapstad het bevind dat 90% van rokers hul hande (natuurlik teen buitensporige pryse) gedurende die inperking op dampies kon lê.

“Aksynsbelasting vir ’n pakkie van 20 sigarette beloop R18,78. As alle relevante koste bygevoeg word, soos rou materiaal, produksiekoste, vervaardigingsmarge, verspreidingskoste, kleinhandelmarge en BTW, behoort die prys per pakkie R30,95, maar nie minder nie as R28, te wees,” lui Batsa se verklaring.

Batsa is in ’n prysbekgeveg gewikkel met Gold Leaf Tobacco Corporation (GLTC), wat onder meer die Savannah-, Voyager-, Sharp- en RG-handelsmerke vervaardig. GLTC stel ’n minimumprys van R22 per pakkie voor, terwyl Batsa se hoofbestuurder, Johnny Moloto, meen dit is ’n lagwekkende poging van die groep om hom as toegewyde taksbetaler te takseer.

“Aangesien die invorderbare belasting op ’n R22-pakkie sigarette minstens R21,65 beloop, sê die GLTC dus dat hulle die koste van grondstowwe, produksie, verspreiding en kleinhandelmarges vir slegs 35c kan dek en steeds ’n wins kan toon.

“Belastingontduikende vervaardigers wat verlede jaar se verbod uitgebuit het, kos Suid-Afrikaners groot bedrae geld in ’n tyd waarin elke sent tel. Dit is niks anders nie as ’n noodtoestand wat ’n volledige ondersoek na die hele bedryf vereis,” het Moloto gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

marius ·

Wat het geword van die kamtige tabak epidemie ? Verdwyn saam met jul minister ? Niks anders as een vet geld maak skelmspul nie .

Persheks Adri ·

Alles te danke aan kopdoek! Sy en haar kinders het baie geld gemaak en steeds is hulle nie vervolg nie!

Jeffrey ·

Daai goedkoop sigarette is walglik sleg met n vreeslike wrang nasmaak, ek konnie meer my pakkies Blou Piet bekostig nie, toe hou ek maar eerder heeltemal op voordat ek perdemis rook.

Hardekwas ·

Almal weet wie die onwettige sigarette verkoop, behalwe SARS. Uiters vreemd.

Misky ·

Hierdie hele storie en verlore belasting het absoluut niks met ons uit te waai nie. Gaan klop aan by madam kopdoek – sy sit seker steeds en tel!!!! Wanneer word sy vervolg en verantwoordelik gehou?

Di ·

Die Regering kan net hulle self blameer hiervoor. Wil mos dit so lank verban het en biljoene aan belasting verloor. Dit het die geleentheid geskep vir hierdie onwettige verkope om te floreer en gaan nie gou verdwyn nie.

Michael ·

Die regering oor belas smokes. Niks gaan vir gesondheid sorg of paaie of enige iets nuttig nie. En dis meer as 80% onwettige rook goed wat verkoop word in SA. Wie sal R35 vir n pakkie betaal as jy R8.50 kan betaal? Die regering het die mark geskep, hoe kan hul nou kla oor die sluik handel? Hulle gebruik die belasting vir alles behalwe nuttige goed..

Swerwer ·

Almal weet mos wie aan bewind van die land is, geen verrassing nie. Dit is Logika. En kyk maar wie sit agter dit.

Kokerboom ·

Soortgelyk aan kabeldiefstal, bendegeweld, onwettige immigrasie en vele meer…die regering het net NIE die wil en vermoee om dit te stop. Die “comrades” is self betrokke!!

Andre ·

So vang slim sy baas….wonder wat het geword van Gunston, Lexington, John Rolfe en verskeie ander bekende soorte sigarette…sien dit nie meer op die rakke nie?
Word aksyns belasting nie op die waarde van die pakkie gehef nie? Met ander woorde as Batsa sigarette maak teen sê R30 per pakkie, dan betaal hul soos hul sê, maar sê nou net ek kan dit maak teen R10 per pakkie, gaan ek nie dieselfde % belasting betaal op my pakkie nie? Ek kan tog nie betaal op meer as die waarde nie? Lyk my die monopolie is besig om ineen se sort……

Frank John ·

Om soveel net tax te betaal vir enige produk is belaglik. Dit klink meer soos georganiseerde misdaad soos die destydse “Mafia” . Maar nou is ons government die organized crime bosses. Tot hulle anderste bewys sal ek dit bly glo.

Natasha ·

Ek rook gelukkig nie, maar my hart het daai tyd vir mense wat rook gebloei. Wat het die regering gedink gaan gebeur? En nou vang slim sy baas…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.