Simonstad-brand: Inwoners mag terugkeer huis toe

(Foto: JP Smith/Facebook)

Die brand by Simonstad is eindelik in bedwang gebring en inwoners wat vroeër gevra is om hul huise as voorsorgmaatreël te verlaat, mag nou weer terugkeer.

Sonica Lategan, woordvoerder van rampbestuur in Kaapstad, sê gegewe die brandbestrydingsoperasies wat nou ook aansienlik verminder is, is daar ook nie meer ʼn behoefte aan skenkings nie.

“Die rampbestuursentrum wil lede van die publiek en sakeondernemings wat broodnodige verversings oor die afgelope paar dae aan werkers op die voorste linies verskaf het, bedank,” sê Lategan.

“Die bydraes word geweldig waardeer.”

(Foto: JP Smith/Facebook)

Teen Saterdagoggend was verskeie paaie egter nog gesluit. Dit het ingesluit die kruising by Kommetjieweg en Redhillweg, die hoofpad by Glencairn, asook die hoofpad tussen Simonstad tussen Miller’s Point en Kaappunt.

By Miller’s Point, Partridgepunt en Smitswinkel het spanne Saterdagoggend nog die situasie gemonitor. Alle ander hulpbronne is reeds uit die gebied onttrek, sê Jermaine Carelse, woordvoerder van die stad se brand-en-reddingsdienste.

(Foto: JP Smith/Facebook)

By Glencairn monitor brandbestrydingspanne ook steeds die gebied vir enige opvlammings. Heelwat minder hulpbronne word nou daar benodig en daar is in hierdie stadium ook geen behoefte aan lugsteun nie.

“Ons kan nie die geweldige pogings wat dit van elkeen betrokke by die taak om hierdie situasie in bedwang te bring, genoeg benadruk nie. Dit sluit in nie net brandbestryders nie, maar ook ander redding- en wetstoepassingsagentskappe, vrywilligergroepe en lede van die publiek.”

ʼn Besluit oor watter paaie weer oopgestel gaan word, word deur die loop van die dag verwag.

(Foto: JP Smith/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.