Sinkgat jare later nog net so groot

Die sinkgat is vir die afgelope drie jaar nog nie reggemaak nie (Foto: Lehlogonolo, Twitter)

Motoriste is gefrustreerd en mismoedig oor ʼn reusesinkgat op die Delmas-pad (R50) – tussen Bapsfontein en Pretoria-Oos – in Gauteng wat al die afgelope drie jaar ’n groot kopseer is. Dié pad is ʼn hoofroete wat deur ʼn menigte padgebruikers benut word en motoriste word nou genoop om van alternatiewe en dikwels verder roetes gebruik te maak.

Die verkeer word tans via die R25-Wes en dan die R21-Noord herlei.

’n Sloot is drie jaar gelede gegrawe waar die sinkgat gevorm het. Die sloot is regdeur die padoppervlak en is sowat een meter diep en 1,5 meter breed. Die sloot is om te verhoed dat iemand daar ry.

’n Inwoner van Springs – wat gereeld van hierdie roete gebruik maak – vertel geen herstelwerk is die afgelope drie jaar aan die sinkgat gedoen nie. Sy maak gebruik van die alternatiewe roetes om by haar werk in Pretoria uit te kom. Volgens haar vat dit meer tyd uit haar dag.

Die sinkgat op die R50 (Foto: Verskaf)

“Ek het nou die dag weer verby die sinkgat gery om te kyk of daar iets gedoen word, maar dit lyk nog presies dieselfde,” vertel die inwoner anoniem aan Maroela Media.

Volgens Melitah Madiba, woordvoerder van die departement van paaie en vervoer, is die departement besig om ’n diensverskaffer te bekom om die sinkgat te herstel.

Die departement het reeds in 2019 ’n ondersoekverslag oor die moontlike oorsaak en ontwerpoplossings laat doen om die gat te herstel. Sy het egter geen kommentaar gelewer oor waarom die herstelwerk sedertdien sloer nie.

“Die gebied is afgesper om te verseker dat motoriste nie die sinkgat tref nie. Padgebruikers word ook aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak,” het Madiba bevestig.

Die inwoner sê sy is uiters bekommerd dat daar niks aan die sinkgat gedoen gaan word nie.

“Ek is bevrees ons raak dinge gewoond en hou nie aan om druk te plaas op dié wat verantwoordelik is vir herstelwerk nie. As die sinkgat ontdek word, spring almal vinnig en beveilig die gebied, maar daarna gebeur daar nie veel nie,” sê die leser.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Tiptol ·

Daar word mos nou gesê dat dit honderde jare en miljarde rande gaan neem om ons paaie reg te maak. Daardeur is bevestig dat dit nooit gaan gebeur nie, maar dat daar wel ‘n geleentheid gaan wees vir kaders om hulle sakke vol te stop.

Burgermeester ·

Daar is ‘n reusesinkgat op die Delmas-pad!

Ek hoor die regering kyk hierin.

Pieter ·

Ek is glad nie verbaas nie – Ekurhuleni se gewoonte! Daar is twee ander sinkgate wat ook reeds geruime tyd net so le, een op Snake Road en een tussen Benoni en Brakpan.

Pieter ·

En die een op die pad tussen Voortrekkerhoogte en die Swartkop renbaan is steeds daar, na ongeveer sewe jaar. Dis nie ‘n Ekurhuleni probleem nie. Dis ‘n Suid Afrika probleem.
Die verskil tussen ‘n sinkgat en ‘n pothole is net die grote, maar nie een van die twee word reggemaak nie.

pompies ·

Nou praat jy en wie is in beheer van die Tswane Munisipaliteit??? Dit is nie net die kaders wat slapgat is nie die ander klomp is net so useless.

Renier johannes ·

Hulle kan dit nie reg maak nie want al die geld is in hulle sakke

Lillian ·

maar ons almal weet mos daar is geld vir “parties” maar nie vir infrastruktuur nie.

Misky ·

So die gat word dieper gegrawe dat dit veiliger is en niemand kan inval nie…… ek sien nie die logika daarin nie.

Willem ·

En hier by Carletonville is dit presies die selfde. Maak pad toe en dan klaar

domheks ·

Op R501 het dit 5 jaar geneem om te herstel. Eish, die geld is op!! alles in my sakke!!

Riaan ·

Decolonization van die paaie. Die ANC sal so aangaan totdat elke pad in SA weer ‘n grondpad is.

Nie Verbaas ·

Ek sal daarvan hou om die ANC se talle redes te hoor vir die sloer van die projek.

Mariana ·

Dit wil voorkom of ons weer terugbeweeg na die bos. Toe daar geen paaie was nie en paaie deur boere en ander uitgery is deur die veld, hul eie paadjies, twee spore. En altyd is daar nog verskonings. 3jr later en hul soek nou iemand om dit te herstel. Lagwekkend. Dis omdat die verkeerde mense in die poste sit, mense met geen kwalifikasies en die wat weet sit op die kantlyn. Ek hoop regtig mense gaan in 2024 reg stem, want so kan ons nie langer aangaan nie, intussen kan hulle nog lekker skep aan die gravy op die wegholtrein. Iewers moet daar verbetering kom.

JohanR ·

Jy kan net lag of huil! As daai gat al daar is vanaf 2019 dink net hoe lank hulle gaan vat om die Parlement weer reg te kry – kom ons se 2027.

efjy ·

Ek dink die persoon wat verantwoordelik is vir die herstel moet rekenskap gee hoekom die herstelwerk so talm en indien nodig geskors word. Almal verdien hengse salarisse en die land gaan tot niet aangesien niemand meer omgee nie. In elk geval nie die regering nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.