Sitrus mag EU binnegaan ná ooreenkoms

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Susbany, Pixabay)

Altesaam 300 van die 509 vraghouers met sitrus van Suid-Afrika mag Europa nou binnegaan nadat die regering ʼn skikkingsooreenkoms met die Europese Unie (EU) bereik het.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het Woensdag gesê dat hulle tans daaraan werk om die oorblywende besendings ook uit die hawe te kry.

Die EU het einde verlede maand besluit om vraghouers wat van Suid-Afrika in Europa aangeland het, terug te hou onder die vaandel van splinternuwe regulasies wat die EU op ’n onwettige wyse op Suid-Afrikaanse sitrus afgedwing het.

Dié ingrypende nuwe maatreëls is in Junie deur die EU se staande komitee vir plante, diereprodukte, voedsel en voer (Scopaff) aangekondig oor kouebehandeling vir lemoene wat na die streek uitgevoer word, glo in ʼn poging om vals kodlingmot hok te slaan.

Die wet is op 14 Julie afgedwing, maar die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) vereis dat daar ʼn tydperk van ses maande moet verloop in die proses om ʼn nuwe handelsregulasie in te stel.

“Ten tyde van die publikasie van die nuwe maatreëls was daar gesertifiseerde besendings wat reeds na die EU vertrek het, asook sommige wat in die proses was om uitgevoer te word,” lui die departement se verklaring.

Die departement het in ’n vergadering en deur skriftelike kommunikasie aan die Europese Kommissie (EK) verduidelik dat die datum onredelik was.

“Dit het geïmpliseer dat besendings wat vanaf 14 Julie in Europa aankom, aan die nuwe maatreëls moes voldoen. Die redelike datum met betrekking tot voldoening aan nuwe maatreëls sou gewees het vir besendings wat Suid-Afrika op 9 Julie 2022 verlaat het, met inagneming van vereiste aanpassings van stelsels en kommunikasie na die verskillende regulatoriese terreine, wat minstens drie weke van publikasie af vereis het.”

Die Sitruswerkersvereniging van Suider-Afrika (CGA) het vroeër gesê dat die nuwe regulasies slegs vir lemoene geld, maar dat ander sitrus ook nou teruggehou word.

Volgens die departement het owerhede van die EU fitosanitêre sertifikate nodig gehad wat aan die nuwe maatreëls voldoen.

Die departement het onder meer na dokumente gekyk wat vir pomelo, sagte sitrus en kouebehandelingsvoldoening op lemoene vereis word, en die fitosanitêre sertifikate met die korrekte bykomende verklarings vanaf 22 Julie  vervang.

Daar was egter steeds ’n probleem met die lemoenbesendings totdat die bedryf in ’n vergadering op 25 Julie gelykstaande maatreëls aan die departement voorgelê het. Dié maatreëls behels die behandeling wat op hierdie besendings toegepas is onder Suid-Afrika se stelselbenadering vir vals kodlingmot.  Die departement het onderneem om met die EU deur die betrokke nasionale plantbeskermingsorganisasies (NPPO’s) te onderhandel om dié maatreëls te oorweeg.

“Die eerste amptelike brief is op 27 Julie 2022 aan die Nederlandse NPPO gestuur en ’n positiewe reaksie is op 28 Julie ontvang.

“Dit is gegrond op hierdie ooreenkoms dat ’n reëling getref is om vervangingsfitosanitêre sertifikate vir lemoene met ’n gelykstaande kouebehandelingsverklaring uit te reik. Die uitreiking van dié vervangingsfitosanitêre sertifikate vir lemoene het op 1 Augustus begin.”

In nog ʼn vergadering met die sitrusbedryf op 3 Augustus, het die departement ingestem om ander hawens wat toegang na die EU bied, by die ooreenkoms in te sluit nadat nog ʼn positiewe reaksie van Italië op gelykwaardige kouebehandelingsverklarings ontvang is.

Hawens waar besendings van Suid-Afrika verwerp is, sluit in Denemarke, Frankryk, Duitsland, Italië, Nederland, Portugal, Spanje en Swede.  Meer as 2 000 vraghouers word deur die blokkerings geraak, wat op sowat R500 miljoen neerkom.

“Tot dusver hersertifiseer die departement lemoenbesendings wat in die Nederlandse en Italiaanse hawens teruggehou is, en ons het bevestiging ontvang dat hierdie besendings tans by die hawens uitgeklaar word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.