SA regering verklaar dispuut oor sitrusuitvoere

Die regulasies hou ‘n reusebedreiging vir die plaaslike sitrusbedryf se uitvoere na die EU in. (Foto: Vaalbos Trust)

Die Suid-Afrikaanse regering het ʼn dispuut by die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) verklaar en gevra vir verdere konsultasie oor die nuwe regulasies oor die kouebehandeling wat sitrusuitvoere uit Suid-Afrika bedreig.

Die Europese Unie (EU) se staande komitee vir plante, diereprodukte, voedsel en voer (Scopaff) het in Junie vanjaar ingrypende nuwe maatreëls aangekondig oor kouebehandeling vir lemoene wat na die streek uitgevoer word, glo in ʼn poging om vals kodlingmot hok te slaan.

Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SASKV), sê ten spyte van heelwat besware van verskeie ander lande, waaronder Europese markte wat tans Suid-Afrikaanse lemoene invoer, is die nuwe regulasies afgekondig en op 14 Julie vanjaar in werking gestel.

Chadwick sê die feit dat die EU-owerhede die regulasies probeer afdwing het ʼn skamele 23 dae nadat dit bekend gestel is, het dit onmoontlik gemaak vir Suid-Afrikaanse produsente om daaraan te voldoen. Dit het ook gewys presies hoe ongeregverdig en diskriminerend die wetgewing is.

Dit het boonop verwoestende gevolge vir die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf, sê hy.

Ingevolge WHO-ooreenkomste mag lede nie diskrimineer teen invoere vanuit verskillende streke nie, hulle mag nie sanitêre en tegniese hindernisse vir handel instel wat diskriminerend is, of wat nie gegrond is op internasionale standaarde of goeie wetenskaplike bewyse nie.

“Dit is duidelik dat die EU se beskermingsgesinde vals kodlingmot-invoermaatreëls teen Suid-Afrika hierdie bepalings oortree,” sê Chadwick.

Suid-Afrika het reeds 21 teenstrydighede in die nuwe voorgestelde fitosanitêre maatreëls geïdentifiseer wat teen die riglyne van die WHO is en waaraan die EU veronderstel is om te voldoen.

“Hierdie oortredings het reeds ʼn uitwerking op ʼn geraamde 3,2 miljoen kartonne sitrus ter waarde van R605 miljoen gehad, met berigte van honderde vraghouers met Suid-Afrikaanse sitrus wat met aankoms deur EU-owerhede teruggehou word,” sê Chadwick.

“Sonder onmiddellike politieke ingryping is daar die bedreiging dat die EU-owerhede die besendings gaan vernietig.”

Die plaaslike bedryf hou voet by stuk die kouebehandeling wat ingevolge die nuwe regulasies voorgeskryf word, is teenstrydig met wetenskaplike bewyse, wat dit ʼn arbitrêre en onnodig beperkende maatreël maak.

Die vereniging sê die departement van handel, nywerheid en mededinging en die nasionale regering het reeds verskeie pogings aangewend om die geskil te besleg. Die saak is nou vir oorweging na die WHO verwys.

“Die SASKV verwelkom die departement se stap om die dispuut aanhangig te maak en dit tot op multilaterale vlak te neem,” sê Chadwick.

Die krisis hou nie net ʼn gevaar in vir die volhoubaarheid en winsgewendheid van plaaslike produsente en die 140 000 werksgeleenthede wat die sektor skep nie; dit gaan ook lei tot minder en duurder sitrus in Europese supermarkte.

Chadwick sê daar kan eenvoudig nie toegelaat word dat ʼn polities gedrewe stap deur die Spanjaarde die voortbestaan van duisende plaaslike produsente en die werksgeleenthede wat hulle skep, verwoes nie. Daar kan ook nie toegelaat word dat die EU-owerhede miljoene kartonne topgehalte-sitrus vernietig nie.

“Die SASKV gaan voort om saam met die regering en alle belanghebbendes in die bedryf te werk om die kwessie met die dringendheid wat dit verdien, te hanteer en hoop om te verseker dat alle topgehalte-sitrusuitvoere na die EU ontvang en oor sy grense verwelkom sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

Dis nou die vrot vrugte wat die ANC kaders in die Durban hawe laat ophoop? Onbevoegd maar moan oor reëls. Tipies

Jaco ·

Vqndag kla die anti-wit ANC-regering oor die EU nie wit SA boere se sitrus invoer nie en môre oormôre onteien dieselfde ANC daardie selfde wit boere sonder vergoeding.

My siening ·

ANC MENTALITEIT kos die land baie, onbevoeg en wil alles op neuk wat hulle in beheer is van!

Swerwer ·

Glo nie dit is direk op die boere gemik nie maar eintlik op die Regering wat ons land tot Rommelstatus laat val het en nie hul werk ten volle en betyds by die hawens uitvoer nie. Alles waaraan die ANC/EFF nog gevat het, het geduik. Een na die ander is alles opgemors en dan word daar maar weer op die blankes beroep gedoen om te help om die gemors te probeer red.

Christine ·

Hierdie is ‘n manier om ons uitvoere te sabboteur. Net na ons fantastiese sitrusoeste bekend geraak het, het die EU met die maatreëls vir ons na vore gekom. Dis moedswillig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.