Siya Kolisi kry Covid-19-toetsuitslag ná vrou positief toets

‘n Foto van die gesin wat Siya Kolisi op Instagram gedeel het.

Die Springbokkaptein Siya Kolisi het bekend gemaak dat hy negatief vir Covid-19 getoets het nadat sy vrou, Rachel, vroeër aangekondig het dat sy die virussiekte onder lede het.

Rachel het die afgelope naweek op Instagram gesê sy het die dag in die swembad deurgebring en het aangeneem sy het ʼn sinusinfeksie. “Ek het besef ek kon niks ruik nie, so ek het dadelik in isolasie gegaan tot ek my positiewe uitslag gekry het,” het die rugbyman se vrou gesê.

“Dit was by tye rof en vreesaanjaend, veral as jy klein kindertjies het wat nie verstaan dat hulle nie aan jou mag raak nie. My hart breek vir diegene wat alleen in ʼn hospitaal hierteen moet stry, terwyl hulle nie weet of hulle hul geliefdes weer gaan sien nie.

“My hart breek terselfdertyd vir die gesondheidswerkers wat onophoudelik werk en onderbeman is, terwyl ander nie die veiligheidsmaatreëls ernstig opneem nie.”

Rachel het ook ʼn beroep op mense gedoen om ʼn gesprek te hê met diegene wat die pandemie nie ernstig opneem nie. “Mense is besig om te sterf.”

Siya het hom kort daarna ook tot die sosialemediaplatform gewend om sy toetsuitslag bekend te maak.

“Dit was ʼn wipwaentjierit. Ek het negatief getoets [vir Covid-19], waaroor ek geweldig dankbaar is. Om te sien hoe moeilik dit vir Rachel was, was nie maklik nie – veral omdat ek nie fisiek by haar kon wees nie,” het Siya geskryf.

 

“Dit het beslis ook sy tol op die kinders geëis om nie hulle ma by ons te hê nie. Ek het al die huishoudelike verantwoordelikhede oorgeneem en vir die eerste keer ooit besef ek hoe dit moet wees wanneer ek gaan toer. Dit is nie maklik nie.”

Siya het mense ook gevra om te help om die verdere verspreiding van die virus te help stuit.

“Dankie aan al die mediese werkers wat die ekstra myl stap om ons geliefdes te versorg wanneer ons nie kan nie.

“Kom ons onthou die erns van die virus en doen alles wat ons kan om diegene om ons te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.