Skietery by kerk ‘wys op tekorte binne polisie’

Foto: SAPD

Die Gautengse provinsiale wetgewer se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid het sy kommer uitgespreek oor moontlike uitdagings binne die polisie se misdaadintelligensie-eenheid en hul vermoë om georganiseerde en beplande misdade op te spoor en te voorkom.

Dít ná ʼn skietery Saterdag by die International Pentecostal Holiness Church in Zuurbekom aan die Wes-Rand, wat die lewe van minstens vyf mense geëis het. Maroela Media het oor die naweek berig dat mans, vroue en kinders wat glo op die perseel woon tydens die aanval as gyselaars geneem is.

“Wat die komitee veral bekommer, is dat van diegene wat in hegtenis geneem is ook lede van die polisie, Johannesburgse metropolisie en departement van korrektiewe dienste is,” het die komitee Maandag in ʼn verklaring gesê. “Hierdie mense is veronderstel om lede van die gemeenskap te beskerm.” Die polisie het Saterdag minstens 40 verdagtes in verband met die skietery en gyselaarsdrama in hegtenis geneem.

Een van die voertuie wat deurgeloop het onder ‘n koeëlreën in Zuurbekom. Foto: Facebook

Die komitee meen alle aanduidings dui daarop dat die voorval goed vooraf beplan en gekoördineer is en daarom vooraf deur die polisie se misdaadintelligensie bespeur en verhoed kon gewees het. “Veral aangesien wetstoepassers betrokke was.

“Die land gaan reeds gebuk onder ʼn pandemie wat die lewe van talle Suid-Afrikaners eis. Ons kan ons nie tans in ʼn situasie bevind waar meer lewens verlore gaan weens sinnelose moorde nie,” lui die verklaring.

Die komitee doen ʼn beroep op die strafregstelsel om dié wat verantwoordelik is vir hierdie misdaad tot verantwoording te roep, om ʼn voorbeeld te stel vir ander wetstoepassingsowerhede dat hul gedrag ten alle tye bo verdenking moet wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

Die Kommitee prast teen die wind of sal ek sê skop teen die prikkels. Eerbare hardwerkende mense word nie tot die dienste toegelaat nie.

Fedup ·

Is this kind of behaviour as well as those responsible suppose to shock us?

Misky ·

Ons straf regstelsel is heeltemal te lig en krimminele weet hulle kom weg met moord. Hulle is nie bang nie en dink nie 2 keer om die wet te oortree nie. GEEN maar GEEN respek en gesag meer in gesagsposisies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.