Skietery by Riverlea eis vyf

(Foto: Shutterstock)

Vyf mense is doodgeskiet in wat vermoedelik ʼn voorval van bendegeweld tussen onwettige mynwerkers in Johannesburg is.

Die liggame is die naweek by die Zamimpilo-nedersetting, naby ʼn verlate mynskag in die omgewing van Riverlea gevind, het die polisie Sondag gesê.

“Die voorlopige ondersoek wys dat twee vyandige groepe onwettige mynwerkers in die gebied op mekaar gevuur het en dat dit tot die dood van mense gelei het,” sê lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder in Gauteng.

Lede van die polisie se taktiese reaksie-eenheid en die openbare orde-eenheid is in die gebied ontplooi en vyf sake van moord is aanhangig gemaak.

James Lorimer, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne, sê inwoners het vertel dat mans, gewapen met outomatiese vuurwapens, deur die buurt beweeg en gevuur het.

“Een inwoner sê hulle het ʼn swaar gewonde man en vrou op die sypaadjie buite hul huis gehelp terwyl hulle gewag het op ʼn ambulans om te kom.

“Ander inwoners sê ʼn man is gewond en deur die polisie weggeneem. Video’s wat rondgestuur word, wys gewapende mans wat deur die gebied beweeg en die geluid van voortgesette outomatiese geweervuur. Nog ander inwoners sê een van die bendes het die gebied verlaat met wat gelyk het soos twee liggame wat in komberse toegedraai is,” sê Lorimer.

Die Zamimpilo-nedersetting bestaan uit honderde sinkhutte waar die meeste van die inwoners oënskynlik buitelanders is en die primêre bedrywighede onwettige mynwerk en onwettige goudverweking is.

“Die nedersetting is ʼn paar meter van Hoofrifweg en is geleë tussen Riverlea en Industria. Dit lê bo-op die ondergrondse Transnet-brandstofpypleiding en ʼn groot hoëdrukwaterpyp.

“Dit is nog ʼn bron van kommer. As onwettige mynbedrywighede enige van die pypleidings beskadig, kan groot getalle mense sterf of beseer word,” sê Lorimer.

Gevegte tussen strydende faksies woed al maande lank in die omgewing van Zamimpilo en volgens Lorimer is die “polisie gewoonlik afwesig”.

“Of hulle nou betrokke is of nie, dit lyk nie of hulle enige openbare verklarings daaroor doen nie. Dieselfde geld vir polisieoptrede, indien enige, teen onwettige myners landwyd. Die versuim van die polisie om die publiek op hoogte te hou – en wat hulle daaraan doen – is onaanvaarbaar in ʼn demokrasie.

“Tot daar ʼn doelbewuste en planmatige poging is om misdadigheid te pak wat met die onwettige mynbedryf verband hou, gaan die regering aanhou om dele van Suid-Afrika te verloor en die polisie gaan eenvoudig diegene wees wat die liggame oplaai nadat die skietery klaar is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Ek persoonlik dink dat baie polisielede self baat vind by hierdie onwettige mynbedrywighede, daarom word daar niks aan die spul gedoen nie. Glo daar is duisende van hulle in hierdie land en die Regering en polisie gooi ‘n blinde oog en versuim om iets hieraan te doen. Ons land het verval in een kriminele hool vandat die korrupte ANC die land regeer.

Danie ·

Vuurwapens en misdaad in SA nou n algemene verskynsel.Is ons op die laagste vlak van polisie onbekwaamheid? Die sogenaamde SA polisie Diens,die weermag? En die korrupte regstelsel is slegs daar vir eie gewin.

Dup ·

Kyk in watter toestand sekere Afrikastate is,dan sal jy ñ idee kry van waarheen SA oppad is.Misdaad,anargie en algehele verval is ons voorland.

Republikein in die Wes Kaap ·

Terwyl politieke leiers toekyk en saam skep is daar niks wat algehele verval gaan stop nie.

Ben ·

Hoekom pomp hulle nie net die myne vol water nie. Dan is al die probleme opgelos. In die verlede het hulle dan van die ou myne gebruik vir die stoor van ru olie.

domheks ·

Wekom, welkom alles buitelanders, hier is BAIE goud om uit te haal! Kom hier is ook vrouens vir julle en die staat maak die kinders groot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.