Skietery in Nelspruit eis 2

(Argieffoto)

Twee mense is dood en een ernstig beseer toe ’n skietery Sondagaand in Mbombela (Nelspruit), Mpumalanga, uitgebreek het.

Die voorval het hom omstreeks 21:00 in Branderstraat in die middestad van Mbombela afgespeel.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê drie mans is in ’n Volkswagen Polo deur ’n onbekende aantal gewapende verdagtes voorgekeer. Die verdagtes het in ’n blou dubbelkajuitbakkie gery.

“Die verdagtes het op die mans geskiet. Twee van die mans is in die proses doodgeskiet terwyl een ernstige skietwonde opgedoen het. Die verdagtes het daarna gevlug,” bevestig Mdhluli.

Die polisie en ER24-paramedici is omstreeks 21:45 na die toneel ontbied.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is twee van die mans in die pad aangetref. Een het ’n skietwond aan die kop gehad en die ander een ’n skietwond in die bobeen. Albei het reeds met paramedici se aankoms op die toneel aan hul beserings beswyk.

Die derde man is buitekant ’n nagklub in die straat met ’n skietwond aan sy been aangetref. Paramedici het hom op die toneel behandel voordat hy per ambulans na ’n nabygeleë hospitaal geneem is.

Mdhluli sê die polisie ondersoek twee aanklagte van moord en een van poging tot moord.

Enigiemand met meer inligting oor die voorval kan die Mbombela-polisiestasie se stasiebevelvoerder by 082 318 9843 bel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Misky ·

Pas daai derde persoon wat gewond is mooi op en laat hy vinnig praat en met waarheid vorendag kom. Daai blou-bakkie-ouens gaan hom ook wil stil maak

Persheks Adri ·

Nóg gewapende misdadigers wat moor! Cele, jy’t bloed op jou hande en baie ook!

Blomme ·

Beteken dit SA sal gewoond moet raak aan die tipe misdaad? Is skiet nou alledaags en word mense sommer so in die verbygang geskiet? Arme Suid Afrika!

Persheks Adri ·

Korrek Blomme dis hoe dit vir my ook voor kom! Dis hartseer regtig.

Harley Davidson ·

Drie mans in ‘n “wit polo” laat gewoonlik die gevaarligte afgaan in die buurt waar ek bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.