Skietery ná plaaseienaar boewe op heterdaad betrap

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Kent Williamson)

Die polisie in Musina, Limpopo het ʼn groot soektog van stapel gestuur ná ʼn groep gewapende mans Dinsdag omstreeks 20:00 op ʼn plaas toegesak en items van meer as R100 000 gebuit het.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê twee werknemers was in hul plaashuis – naby die plaaseienaar se huis – toe die gewapende verdagtes hulle oorrompel en met vuurwapens gedreig het.

“Die verdagtes het die werknemers na die eienaar, wat nie in daardie stadium tuis was nie, se huis gedwing. Hulle het die kluis oopgebreek en die huis geplunder. Twee windbukse, ʼn haelgeweer, matrasse, klere, sakke, komberse, selfone en nog items is gesteel,” sê Ledwaba.

Hulle het glo die gesteelde goedere in die plaaseienaar se voertuig, ’n Mahindra-bakkie met ʼn sleepwa, gelaai. Volgens Ledwaba het die eienaar egter met ʼn ander voertuig by die huis opgedaag en die boewe op heterdaad betrap net toe hulle van die toneel wou vlug.

“Die eienaar het hulle gekonfronteer en ʼn skietgeveg het ontstaan. Tydens die skietery het die verdagtes die eienaar se voertuig gestamp. Hulle het uit die Mahindra gespring en van die toneel weggehardloop.”

Die polisie is dadelik ingelig en ʼn saak van sakeroof word ondersoek.

Enigiemand met inligting wat die polisie kan help om die verdagtes in hegtenis te neem, word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Sitsula Dakalo, by 064 829 8050/015 534 7401 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Karoo ·

Skiet jy ‘n man vandag as hy weghol dan kyk jy in hoeveel moeiliheid jy kom. Die “geluk” hy het hulle betrap en sy goed is meer veilig as onveilig. Ons kan van mekaar verskil.

Waarom ·

My broer se skoonsuster is 3 jaar terug in Musina in die maag geskiet op haar plaas, en na vele operasies het sy 4 maande later gesterf. Sy was 71 jaar oud. Die polisie het tot vandag nog geen een in hegtenis geneem of enige vordering met die saak gegee nie. Dit is oral in die land gevaarlik maar so grensdorp is nog meer gevaarlik.

Jannie van Niekerk ·

Om een of ander rede weier die (ANC) polisie volstrek om die woord plaasaanval te gebruik, Roof klink seker vir hulle beter. ‘n Plaasaanval bly egter ‘n plaasaanval al ontken ons President dat so iets bestaan

Bolandse Nooi ·

Want: as hulle iets erken (dat dit bestaan), dan moet hulle iets daaromtrent doen en op hierdie stadium pas dit hulle om blanke volksmoord en plaasmoorde te ONTKEN. Jy weet mos: daai ding wat hulle volstruis-tegniek noem – steek jou kop onder die sand in, dan sien jy niks, maar as die donderweer jou alie raakslaan, is dit iemand anders se skuld.

Jakes ·

Tipies hierdie slegte gespuis wat roof en moor maar wanneer hulle betrap word hardloop hulle weg. Kannie groter lafharts kry as hulle nie.

Shakespeare ·

Plaas enige berig maar dit moet polities korrek wees om nie op die arme agtergeblewenes se delikate toontjies te trap nie.
Hulle is tog so broos. Die naakte waarheid is taboe.

Aggie ·

Plase is deesdae oorlogsvelde. Jy moet vooraf waarskuwingsstelsels hê en jou beste geweer moet nie in ‘n kluis wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.