Skok oor bekende dorpenaars glo vee steel

(Foto: Save the Beasts. Stop the Slaughter, Facebook)

Die gemeenskap van Zeerust en Lichtenburg, Noordwes, is geskok dat sewe gesiene inwoners Donderdag vasgetrek is vir veediefstal.

Willem Petrus Boshoff (46), Carel Stephan Wallis (47), Ntlhothana Motswabangwe (33), Rapula Letsapa (25), Johannes Wessel (49), Simon Wessel (47) en Janine Hill (50) sal Dinsdag in die landdroshof in Molopo verskyn waar hulle formeel om borgtog sal aansoek doen.

Dit volg nadat altesaam 42 stuks vee van ongeveer R500 000 teruggevind is, nadat dit van ’n pastoor in die omgewing gesteel is.

“Dit is ’n skok om te sien hoe mense wat jy ken, gevang word vir iets soos veediefstal,” sê Naude Pienaar, adjunkbestuurder van Agri Noordwes, aan Maroela Media.

Volgens Pienaar het die Wessel-broers en Wallis grootgeword in Lichtenburg en ook daar skoolgegaan. Hulle werk as veespekulante in die omgewing. Hy kon nie veel meer oor die ander vier verdagtes sê nie.

Die sewe verdagtes is Donderdag omstreeks 02:00 in die Ottoshoop-omgewing in hegtenis geneem nadat hulle klaarblyklik op heterdaad betrap is.

Luidens ’n verklaring uitgereik deur die Noordwes-regering, is Piet Tlhabanyane, die eienaar van Zeekoeivallei-plaas naby Ottoshoop, deur sy veewagter in kennis gestel van die veediefstal op sy plaas.

Tlhabanyane het daarna ander boere in kennis gestel van die diefstal.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die verdagtes se bakkie is op ’n ander plaas tussen Mahikeng en Lichtenburg opgespoor.

“Die polisie is ontbied en die verdagtes is in hegtenis geneem terwyl hulle probeer het om die plaas te verlaat. Altesaam nege stuks vee is agterop die bakkie gevind. ’n Vragmotor wat met die diefstal verbind word, is ook deur die polisie onderskep. Daar was 18 beeste op die vragmotor, waarvan die bestuurder nie rekenskap kon gee nie,” sê Mamothame.

“Verdere ondersoek deur die polisie het hulle na Windheuwel-plaas daar naby gelei, en 14 vermoedelik gesteelde vee is ook daar gevind.”

Die sewe verdagtes word onder meer van diefstal en die vervoer van lewende hawe padlangs sonder ’n permit aangekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Danie ·

Ek sak my kop in skaamte.Nou het julle groot probleme met armoede en swaarkry.

Goldy ·

Veespelulante, ek hoor dis maar deel van wat hulle maar doen

Haibo ·

Die rykes word ryker en die armes ploeg maar voort…siek spul suurstofdiewe daai.

Theunis ·

Sluit hulle toe en gooi die sleutels weg. Nie plek vir diewe in die samelewing nie.

Di ·

Hulle het goed geleer by die skelm ANC kaders. If you can’t beat them, join them

Sandra ·

Nou daal hulle op elke veedief se vlak met hulle gestelery

Windhond ·

Tronk toe – moenie eers probeer om by “begin” verby te sluip nie – geen R200-00 nie, sommer reguit tronk toe – wys net regtig hoe ver ons volk agteruit gegaan het – sies

Harley Davidson ·

Wat n skande ,daai gesegde van if you can’t beat them join them is nie van toepassing hier nie .

Christian Grobler ·

Iets se vir my dis dalk nie die eerste keer nie. Hulle is net nou uitgevang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.