Skole gereed vir Covid-19 – MRK-opname

(Argieffoto: Unsplash)

In die meeste skole landswyd dra leerders maskers, word ontsmettingsmiddels gebruik en leerders en onderwysers se temperatuur gemeet. Só wys ʼn opname wat die Menseregtekommissie (MRK) onder skole gedoen het. Die meeste skole is ook gereed vir ander grade om terug te keer en kommunikeer doeltreffend met ouers oor die verloop van omstandighede. Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch wys boonop daarop dat hongersnood, mishandeling en ongelykheid onder kinders kan toeneem as skole gesluit bly

ʼn Uitgebreide debat oor of skole weer moet sluit te midde van die Covid-19-pandemie het opnuut ontstaan nadat verskeie onderwysvakbonde geëis het dat skole sluit en eers weer oopmaak nadat die pandemie ʼn piek bereik het. Die MRK wys daarop dat, indien skole weens Covid-19 gesluit bly, leerders teen die einde van Julie vanjaar tussen 20% en 50% van die geskeduleerde skooldae sou verloor het.

Gushwell Brooks, MRK-woordvoerder, sê alhoewel die MRK die standpunt ondersteun dat kinders so gou as moontlik moet terugkeer skool toe, hy ook die bekommernis begryp dat leerders en opvoeders se reg tot gesondheid beskerm moet word.

Brooks sê die MRK het onlangs ’n elektroniese opname onder openbare skole in Suid-Afrika gedoen om die gereedheid van skole te bepaal om bykomende leerders te ontvang nadat die skole op 26 Maart gesluit het. Nagenoeg 20% van skole in Suid-Afrika, 4 485, het aan die opname deelgeneem.

Die opname het die volgende gewys:

Gesondheid- en veiligheidsprotokol

  • In al nege provinsies, het meer as 90% van die skole bevestig hul leerders dra maskers by die skool en 95% van die skole het bevestig hul personeel dra maskers.
  • In Gauteng, die Noord-Kaap, die Wes-Kaap, die Vrystaat en Noordwes het meer as 80% van die skole lopende water. Minder as die helfte (47%) van skole in die Oos-Kaap het lopende water, 59% in KwaZulu-Natal, 78% in Mpumalanga en 74% in Limpopo het lopende water.
  • Die meeste skole (90%) in Gauteng, Vrystaat, die Noord-Kaap en die Wes-Kaap beskik oor ontsmettingsmiddels. Die ander provinsies lyk soos volg: 81% in die Oos-Kaap, 78% in KwaZulu-Natal, 69% in Noordwes en 69% in Mpumalanga.
  • In al die provinsies word meer as 95% van die skole se leerders en personeel se koors gemeet. In Noordwes, die Noord-Kaap, die Vrystaat en KwaZulu-Natal het 90% van die skole bevestig hul personeel is opgelei om die koorsmetings uit te voer.

Leerder- en personeelbywoning

  • Sowat 74% van skole het meer as 80% personeelbywoning gerapporteer. Sowat 72% van skole het meer as 80% leerderbywoning aangemeld.
  • Altesaam 76% van skole het meer as 80% bywoning van steunpersoneel aangemeld.

Oorsigbesoeke deur die provinsiale onderwysdepartemente

  • 64% van skole landwyd sê hulle het oorsigbesoeke van hul provinsiale onderwysdepartement ontvang.

Beplanning

  • Meer as 70% van die skole sê hulle het planne gereed vir wanneer bykomende grade in Augustus na skole terugkeer. Skole beskik egter nog nie oor leermateriaal vir kinders wat nog nie by die skool is nie.

Kommunikasie met ouers of versorgers

  • Meer as 70% van die skole het met ouers of versorgers gekommunikeer oor die datums waarop leerders terugkeer skool toe. Hulle het ook ouers of versorgers ingelig oor die omstandighede wanneer kinders sou terugkeer en oor die gesondheid- en veiligheidsmaatreëls wat ingestel is.
  • Net 44% van die skole het ouers ingelig oor assesseringsplanne vir leerders (insluitend take, toetse en eksamens).
  • Sowat 61% van die skole het ouers ingelig dat hulle die opsie het om hul kinders tuis te onderrig.
  • Altesaam 59% van die skole het bevestig hulle het ouers ingelig dat hulle by die departementshoof moet aansoek doen as hulle wil hê dat hul kind heeltemal, gedeeltelik of voorwaardelik van die verpligte skoolbywoning vrygestel moet word.

Die MRK is wel bekommerd oor ʼn gebrek aan toegang tot lopende water en leermateriaal, sowel as gebrekkige kommunikasie met ouers in sommige gebiede. Hy gaan van 8 Julie tot 30 Augustus skole monitor om aandag aan hierdie aspekte te gee.

Navorsers van Universiteit Stellenbosch, Unicef, Unesco en die WGO het boonop die volgende bekommernisse in ʼn onlangse navorsingsverslag uitgewys indien skole gesluit bly:

  • Hongersnood en wanvoeding gaan toeneem omdat kinders van arm gemeenskappe ʼn groot persentasie van hul daaglikse voedselinname by die skool se voedingskemas kry.
  • Akute wanvoeding veroorsaak dat kinders se die risiko om aan longontsteking, diarree en MIV/vigs te sterf, toeneem.
  • Die risiko vir kindermishandeling by huise asook angs en depressie kan toeneem onder kinders.
  • Kinders loop die risiko om alleen by die huis agter te bly as hul ouers gaan werk.
  • Kinders se geleenthede vir leer word van hulle weggevat.
  • Ongelykheid neem toe deurdat kinders in armer skole nie die geleentheid kry om leer voort te sit of hul lees- en wiskundevaardighede in te oefen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Hou kan hulle nie leermateriaal hê nie? Wat het hulle tot Maart maand gedoen? Nou ewe skielik het hulle niks!

Michael ·

Die betaalde verlof was te lekker. Nou wil hulle weer gaan rus terwyl ander moet werk sodat hulle salaris kan kry by die huis. Almal is nou bang en besorgd oor kinders en personeel-dis net verskoning om lui lui by die huis te bly teen betaling. Maak skole toe sonder betaling vir personeel-sso die res van alle werkers-en sien of hulle dan leermateriaal en siek personeel het

Johannes Andries ·

Dit is nou moeilik om te glo dat die universiteit beweer hulle navorsing wys dat kinders deur wanvoeding vigs optel. En dat kinders mishandel word by hulle ouerhuis? Hoe gevaarlik moet dit vir kinders dan wees om by hulle ouers in te woon? En wat gebeur in skool vakansie?
NEE DIE NAVORSING LAAT WENKBROUE LIG!!

En vir die mense regte kommisie wil ek net vra Het julle kinders op skool? Vir elke ware ouer is Sy kind se lewe kosbaar!!! En om met persentasies te werk, beteken hulle het geen gevoel vir elke kind wie se lewe bedreig word nie!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.