Skool in rou ná twee onnies sterf

Francois Grundelingh. Foto: Faccebook

Die Carolina-gemeenskap in Mpumalanga is geruk nadat twee geliefde onderwysers van ʼn plaaslike skool vandeesweek in ʼn motorongeluk gesterf het.

Zelmarie Fourie (25) en Francois Grundelingh (25), albei onderwysers aan die Carolina Akademiese Skool, is dood toe ʼn bakkie Woensdagmiddag op die N4 naby die Van Dyksdrift-afrit glo van agter teen hul VW Polo gebots het. Fourie het op die toneel gesterf, terwyl Grundelingh na ʼn hospitaal gehaas is waar hy later breindood verklaar is.

Nollie de Beer, skoolhoof van die Carolina Akademiese Skool, het aan Maroela Media gesê Fourie en Grundelingh het nie ʼn bloedverwantskap gehad nie, maar het saam grootgeword en na mekaar as broer en suster verwys.

“Francois het as ʼn weeskind grootgeword en het deur sy lewe by verskillende pleegouers beland. Hy was in ʼn stadium ook by die Fouries en het soos Zelmarie se boetie in hulle huis grootgeword. Hy het altyd na haar as sy suster verwys,” het De Beer gesê.

Volgens De Beer was Fourie en Grundelingh op pad Witbank toe om te gaan fliek toe die ongeluk gebeur het. “Ons weet nog nie wat presies gebeur het nie omdat die ongeluk nog deur die polisie ondersoek word. Ek vermoed egter dat hulle in ʼn reënbui ingery het en dat die Polo toe spoed verminder het om by die padomstandighede aan te pas. Ek vermoed die bakkie het nie spoed verminder nie en het van agter teen hulle vasgery,” het hy gesê.

Hy het gesê die wrakstukke toon ook duidelik dat die bakkie voor skade opgedoen het en die Polo aan die agterkant van die voertuig.

De Beer sê hy verneem die bestuurder van die bakkie het van die toneel gevlug. Kapt. Khanyisile Zwane, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat die bestuurder van die bakkie by die polisie se aankoms op die ongelukstoneel nie op die toneel was nie. Sy het gesê die bestuurder is nog nie sedertdien opgespoor nie. Die polisie ondersoek die voorval.

Zelmarie Fourie. Foto: Facebook

Grundelingh het sedert Februarie as ʼn wetenskaponderwyser vir die intermediêre fase by Carolina Akademiese Skool gewerk, terwyl Fourie in Mei as ʼn wiskundeonderwyser vir die intermediêre en senior fases aangesluit het.

Volgens De Beer is die leerders en personeel by die skool in rou gedompel na die skielike verlies van twee geliefde onderwysers. “Ons het Donderdag sielkundiges, beraders en plaaslike predikante hier by die skool gehad. Lede van die beheerliggaam was ook hier en ons het ook ʼn youth coach wat almal gehelp het om die leerders en personeel by te staan nadat ons hulle die nuus meegedeel het.

“Ek het Donderdag teen 11:00 ʼn boodskap aan al die ouers gestuur dat hulle hul kinders kan kom uitteken en huis toe neem en die personeel het ook vroeër huis toe gegaan. Ek het net gesien almal was baie ontsteld en ons sou nie sinvol kon skoolhou nie. Vandag is alles weer terug na normaal of so normaal soos dit kan wees. Die leemte is egter steeds daar.”

De Beer het gesê ʼn gesamentlike gedenkdiens vir Fourie en Grundelingh sal volgende week in Groblersdal gehou word, terwyl die skool ook Dinsdag by die plaaslike NG Kerk ʼn gedenkdiens sal hou wat deur leerders, ouers en die gemeenskap bygewoon sal word.

Fourie sal in Knysna begrawe word, terwyl Grundelingh in Groblersdal ter ruste gelê sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Denise ·

Dit is baie hartseer sulke pragtige mense sterkte aan hul ouers!!!

Cherokee ·

Hy lyk na ‘n vriendelike ou en wat ‘n pragtige vroumens! Een, slegs een onbedagte move wat jy met jou kar kan aanvang kan dinge soveel anders maak as beplan. Saterdagmiddag het ‘n motorvervoervragwa gelaai met Maseratis by die hawe uit gery en langs my beland. Ek het die Maseratis deur gekyk vir ‘n sekonde te lank en toe was die rooi robot voor my. Die skade was nagenoeg R25 000 aan my kar en die Kia voor my. Kyk wat jy doen op die pad!

marianne ·

Twee pragtige mensies, ek glo nie, die een sou sonder die ander, Lon voortgaan nie. Aan hul ouers, die kinders, die skool onx innige simpatie en gebede.

SjN ·

Tragiese gebeurtenis, sterkte aan die naasbestaandes, bestuurder was dalk besig met n selfoon, kan ook die oorsaak wees.

Arina ·

@SjN. Moet eerder nie iets sê as jy nie weet wat gebeur het nie. Vir jou informasie het sy beheer verloor omdat die pad nat was, al ooit gehoor dat jou kar kan aqua plein as jy n plas water tref. Dit was niemand se skuld nie dit was net n ongeluk. Sy het nooit n foon gebruik terwyl sy bestuur het nie. Dit was my sussie

Hanna ·

Baie sterkte Arina. Ek het ook al beheer oor my voertuig verloor op die snelweg net na ‘n reënbui. Mense oordeel so vinnig. Ek dink egter SjN verwys na die bestuurder van die bakkie. Maar steeds, dis net ‘n bespiegeling.

Jakoba ·

My innige simpatie vir die ouers and susters en broers wat hulle geliefdes aan die dood moes afstaan, my hart is seer vir hulle. Ek hoop hulle trek die bestuurder van daardie bakkie gou vas. Wil al te veel lyk of daardie bestuurder of nie ‘n liksensie gehad het nie of onder die invloed was.

Gesiggie ·

2 Pragtigge jong mense… my Innige meegvoel aan die Familie en vriende- soos broer en suster sal hul weer mekaar ontmoet in die Hemel… hoop die man wat verantwoordlik was vir die dade… sal vinnig gevang word RIP Zelmarie en Franscois…

Arrie en Miranda v Heerden ·

Francois was maats met een v my seuns toe ons nog in Groblersdal gewoon het. Hy was n pragtige seun t.s v sy omstandighede. Dis ongelooflik tragies dat hy en Zelmarie agv n ander persoon se nalatigheid moes sterf. Mag ons Vader al hul geliefdes in hierdie tyd vertroos!

ashley ·

Daar is nie gese dat die baklkie skuld moet kry nie so ek stem nie saam met jou antwoord nie. Wag vir feite voor ons klippe begin gooi!

Henry ·

As jy onskuldig is hkm dan weg hardloop van n ongeluks toneel af my stiefdogter en seun wasi lank terug in ongeluk saam hulle pa nie waar die drywer ook weggehardloop het en later blaam op die pa gesit het gelukig was daar n poliesie kaptien wat als gesien gebeur het my kinders darem veilig maar my dogtertjie sit met neurologiese brein skade so as jy onskuldig is bly op die toneel moenie hardloop nie en as jy skuldig is ook want dit wys jy kan jou fout erken en die nagevolge dra van jou dade sterkte aan die famielie en naasbestaandes God waak oor julle

Carien ·

Mense, die pad was nat en Zelmarie het soos Arina gesê het, beheer verloor. Dit was nie die persoon in die bakkie se skuld nie. Bloot net omstandighede wat tot die ongeluk gelei het. Sy was beslis nie op haar foon nie en was baie verantwoordelik. So nou vra ek asb, as iemand nie weet wat gebeur het nie, moenie afleidings maak en familie en vriende daardeur ontstel nie. Dis twee pragtige mense wat hulle lewe verloor het, kom ons respekteer dit.

snoefie ·

n ander berig noem dat die bestuurder van die bakkie nooit die toneel verlaat het nie.

Heeltemal reg ·

Heeltemal reg, hy het eers alles klaargemaak en nee hy was nie op die foon,lees haar sussie se verduideliking. Troos almal liewer hierdie gesin en bakkie bestuurder, dit was buite almal se beheer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.