Skote klap in Boksburg

Argieffoto (Foto:
(Foto: David Ritchie/African News Agency/ANA)

Die polisie is steeds op soek na twee aanvallers nadat ʼn 24-jarige man van Freeway Park in Boksburg aan die Oos-Rand vanoggend in ʼn huisrooftog doodgeskiet is.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder in Gauteng, het gesê die man en sy ma was vanoggend uit hul oprit op pad, waar twee mans hulle voorgelê het.

“Die verdagtes het die slagoffers beveel om uit die motor te klim en saam met hulle in die huis in te gaan. Na bewering het die oorledene in ʼn struweling met die aanvallers betrokke geraak en hy is in die bolyf geskiet. Hy is op die toneel dood verklaar,” het Masondo gesê.

Die twee het daarna met leë hande gevlug en is steeds op vrye voete.

In ʼn afsonderlike voorval is twee mans vanoggend in Beyerspark, ook in Boksburg, danksy goeie samewerking tussen die polisie, veiligheidswagte en inwoners in hegtenis geneem, nadat hulle na bewering by ʼn huis daar ingebreek het.

Bure het die huiseienaar ontbied nadat hulle glo gesien het hoe die twee by sy huis inbreek.

“Die eienaar was reeds by die werk en is inderhaas huis toe, waar hy ʼn onbekende voertuig in sy oprit gevind het. Twee verdagtes het uit die voertuig geklim en op hom begin skiet. Veiligheidswagte in die omgewing het op die skietery gereageer en terselfdertyd die polisie ontbied,” het Masondo gesê.

Tydens ʼn skietery is een van die verdagtes gewond. Hy word onder polisiebewaking in ʼn hospitaal behandel.

Sy vermeende makker is ʼn paar straatblokke van die huis af in hegtenis geneem.

“Die polisie het beslag gelê op twee ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie en die voertuig wat die verdagtes gebruik het,” het Masondo gesê.

Die twee aanvallers het klaarblyklik nóg ʼn voertuig probeer kaap toe hulle op die vlug geslaan het.

“Die voorlopige ondersoek het bevind dat die motor wat die verdagtes gebruik het, vroeër vandeesmaand tydens ʼn huisbraak in Sinoville [in Pretoria] gesteel is. Klagte van poging tot moord, poging tot kaping, huisbraak, die besit van ʼn gesteelde voertuig en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie staar die twee in die gesig,” het Masondo gesê.

Die polisie sal ook ondersoek instel of dié twee met ander misdade verbind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter du plessis ·

Nee die polisie kom nie hulle mandaat na nie en die kriminele floreer.

PJC ·

Kort kort lees ń mens van die ongelisensieerde vuurwapens wat in rooftogte gebruik word. Dit wil voorkom of daar geweldig baie sulke wapens in omloop is. Die polisie moet liewers hulle aandag hierop toespits en ophou om wettige wapeneienaars te terroriseer. Dit maak ń mens geweldig negatief en wantrouig teenoor die polisie want jou wettige wapen is al beskerming teen misdaad omdat die polisie nie in staat is om hulle mandaat uit te voer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.