Skrap van rooilys verwelkom  

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die toerismebedryf en ander betrokkenes het die Verenigde Koninkryk se opheffing van sy reisverbod teen 11 Afrikalande, insluitend Suid-Afrika, verwelkom.

“Dit is welkome nuus, maar die drie weke wat Suid-Afrika op die rooilys was, het onberekenbare skade aan werksgeleenthede en lewensbestaan in die streek veroorsaak, met min waarneembare voordele vir gesondheidsuitkomste in die VK,” het David Frost, uitvoerende hoof van die Suider-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa), gesê.

Tshifhiwa Tshivenghwa, uitvoerende hoof van die Toerisme Sakeraad van Suid-Afrika (TBCSA), meen die wetenskaplike bewyse is duidelik dat die Omikron-variant vir die meeste mense ʼn ligte siekte tot gevolg het wat geen bedreiging vir openbare gesondheid inhou nie.

“Miljoene mense reg oor Suider-Afrika is afhanklik van toerisme vir ’n inkomste, en nog duisende gesinne wag angstig om te weet of hul geliefdes tuis sal wees vir die vakansie.”

Die Flight Centre Travel Group het ook die aankondiging verwelkom. Euan McNeil, besturende direkteur van die Flight Centre-groep in Suid-Afrika, het gesê dit is welkome nuus vir die reis- en toerismebedryf. “Die VK is een van ons grootste bronmarkte, so die besluit op 26 November om Suid-Afrika op die rooilys te plaas, was absoluut verwoestend vir uitgaande en inkomende reise. Dit het ons ekonomie en miljoene werksgeleenthede in hierdie sektore in gevaar gestel.

“Hierdie belangrike besluit deur die Britse regering dui hopelik op ʼn einde aan die ad hoc- en arbitrêre instelling van reisbeperkings in die toekoms. Ons is vol vertroue dat ander bestemmings dié voorbeeld sal volg en weer hul grense vir Suid-Afrika sal oopmaak.”

Die gasvryheidsbedryfsliggaam Fedhasa het gesê die rooilys het geweldige skade aan die streek se internasionale handelsmerk aangerig.

Rosemary Anderson, nasionale voorsitter van Fedhasa, het ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om diplomatieke gesprekke met hul Westerse eweknieë voort te sit oor hoe die ontdekking van verskillende variante die toekoms hanteer moet word.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het intussen gesê die stad wag reeds met ope arms om Britse reisigers te verwelkom.

“Toerisme is ʼn reusebydraer tot die Kaapse ekonomie en verskaf aansienlike werksgeleenthede gedurende die piektoeristemaande van Desember en Januarie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Martin ·

Omtrent tyd dat Boris se Brexit eiland wakker skrik en besef dat Omikron wêreld wyd is en nie afkomstig is vanaf Suid Afrika nie.

Anel ·

So dis net die Kaap wat swaar kry? Hoe verwaand! Nog nooit van hulle gehou nie! Die hele land se tourisme kry swaar, van die bosveld tot die kus. So wat maak hulle tog so spesiaal?

Danie ·

Anel, rustig. Niemand se dat dit net die Kaap is wat swaarkry nie maar dit is die provinsie wat die meeste buitelandse reisigers kry en daarom word hulle die hardeste getref. Kaapstad kry darem baie meer Britse toeriste as Brandfort in die Vrystaat.

Tubac ·

Ope arms verwelkom? Beslis twee kandidate.: Die toerisme bedryf en die Kriminele bedryf.

Aanhouer ·

Hopelik is hierdie Omicron variant die bewys van die ‘verwelking’ van Covid 19. Het nou ň plato bereik.

Juliet ·

Weet iemand dalk of ander lande ook sal oopmaak? Spesifiek Mauritius?

Mallie ·

Ja nou hef hulle dit op en vanaand 15 Des kondig die president weer sleutelgrendel tyd aan. Wat n grap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.