Skrif dalk aan muur vir Herold-skool

Herold in die Wes-Kaap. (Foto: Susan Purén)

Dit wil lyk of die skrif aan die muur is vir die Franken Primêre skool in Herold, die piepklein dorpie aan die noordelike punt van die Montagu-bergpas naby George.

Die skool, waar sowat 330 leerders uit die omgewing onderrig word, staan op die terrein van die plaaslike Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) en die predikant onderhandel reeds etlike maande om die perseel te verkoop, glo om vir sy pensioen voorsiening te maak.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn plaaslike boer die grond in 1933 aan die De Villiers-gemeente van die destydse NG Sendingkerk geskenk het en dat die transportakte in 2006 na die VGK oorgedra is. Die arm bruin gemeenskap, wat meestal op plase in die omgewing werk, het deur die jare geld ingesamel en eiehandig die skool en kerk opgerig.

Leerders word met die skool se eie busse uit die omgewing aangery en almal kry twee maaltye per dag by die skool. Die huidige skoolhoof, Moses Carolus, het ook gesorg dat Franken Primêr nou tot gr. 9 onderrig aanbied sodat die kinders ouer en beter voorberei is wanneer hulle koshuis toe gaan om hul skoolloopbaan in George of Oudtshoorn te voltooi.

Maar deesdae gons dit in Herold, want die gerug dat die predikant eiehandig besig is met onderhandelings om die skool te verkoop het ʼn werklikheid geword. Ds. David Elias het dit reeds die afgelope twee Sondae tydens die erediens afgekondig en ná die derde afkondiging, wat hierdie Sondag gemaak gaan word, sal hy met sy planne kan voortgaan.

Volgens die afkondiging is “deskundiges” in onderhandelings om die skool te verkoop en dat die kerk nie langer die skool kan “dra” nie. Wie die sogenaamde deskundiges vanuit Herold is, is nie duidelik nie.

Al wat die lidmate weet, is dat hul dominee ʼn konsultant aangestel het om hom by te staan. Die konsultant is die man wat al die omliggende grond besit, die sakeman Theo Adams. Die kerk en die skool is in die middel van sy grond en Adams beoog dat sy swartbemagtigingsmaatskappy dit vir behuising gaan ontwikkel.

“Die kerk wat kwansuis nie die skool kan ‘dra’ nie is eintlik lagwekkend,” sê een van die jarelange lidmate wat gevra het om anoniem te bly.

“Die skool dra eintlik die kerk want die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) betaal huurgeld aan die kerk en dit betaal Elias se salaris. Hy betaal vir niks nie en bly boonop verniet in die pastorie.”

Die WKOD het tot die einde van November om te besluit of hy die skool wil koop en die gemeente en ouers vrees dat die skool aan ʼn private persoon verkoop gaan word as die departement nie betyds ʼn besluit maak nie. Die gevolg sal wees dat die skool gesluit word.

Boonop wou die gemeente nog nooit hul skool verkoop nie omdat dit ʼn bate is en elke predikant wat hulle oor die jare bedien het, se salaris gewaarborg het.

“Ons mense is woedend want die skool en kerk is die spil waarom die gemeenskap draai. Hulle is geweldig trots op die skool want dit spog met ʼn rits akademiese en sportprestasies in die Wes-Kaap.”

Wat die mense nog kwater maak, is dat die VGK se algemene en streeksinode sowel as die plaaslike ring geen hulp of ondersteuning aan die gemeente gee nie en dat al hul klagtes oor die predikant se optrede tot dusver op dowe ore geval het. Hulle het glo met koekverkope geld ingesamel om prokureurs aan te stel om hul saak hof toe te neem. Toe die geld nie genoeg was nie, het hulle oral probeer om regshulp te kry. Maar hulle sê dit is asof hulle saak net nie belangrik genoeg is nie.

Die Moderator van die VGK, dr. Llewellyn MacMaster, het aan Maroela Media gesê die gemeentes is almal outonoom en dat hy nie kan toetree tot die De Villiers-gemeente se geskil met Elias nie.

“Dit is ʼn saak vir die ring van Zoar waaronder die gemeente val.”

Sowat 70 lidmate het Woensdag ʼn brief onderteken wat hulle aan die ring van Zoar gestuur het om hul misnoeë met die situasie te kenne te gee en beswaar teen die verkoop van die skool aan te teken. Hulle wag nog op ʼn antwoord.

Op sy beurt het Elias die laaste jare na bewering die lewe vir die leerders al hoe moeiliker gemaak. Hy het glo nie die geld wat die skool vir elektrisiteitverbruik aan hom oorhandig het aan Eskom oorbetaal nie, wat die kragtoevoer later afgesny het. Sonder krag kon die skool nie funksioneer nie en daar moes inderhaas reëlings met Eskom getref word om die aansluiting te herstel.

Die skool se water wat van hul buurman, Theo Adams, se plaas af kom, is ook gestop en daarna het Elias die skool gedwing om hul nuwe boorgat te sluit en hul watertenks te verwyder omdat hy nie toestemming daarvoor gegee het nie. Sedertdien bring elke kind daagliks ʼn houer met water van die huis af sodat hulle die skool se spoeltoilette kan gebruik.

ʼn Biomassa-verwarmingstelsel wat die klaskamers in die winter sou verwarm, moes glo ook op Elias se aandrang verwyder word – weereens omdat hy nie toestemming gegee het dat dit geïnstalleer word nie. Die verwarmingstelsel was aan die skool geskenk omdat dit baie koud word in die omgewing en soms in die winter sneeu. Van die kinders haal reeds voor sonsopkoms die skoolbus en moet selfs oor bergpasse stap omdat die bus nie bo in die berge waar hulle woon, kan omdraai nie.

Al die bewerings word bevestig in die prokureursbriewe tussen die WKOD, die gemeente en die ontwikkelaar. Hoewel die meeste lidmate volhou dat hul skool nie te koop is nie, sê die WKOD die transaksie is nou by die departement van openbare werke (DOW) vir oorweging en dat dit ʼn lang proses is om so iets te beklink.

Elias het nie op navrae reageer nie, maar Johannes Jumat, die prokureur wat Adams en Elias verteenwoordig, het in Julie namens hulle vrae beantwoord. Daarin sê Jumat onder meer dat Adams se swartbemagtigingsmaatskappy nie belangstel om die skool te koop nie en dat hy ʼn professionele adviesdiens aan die VGK lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

quartus ·

Niks lelik bedoel nie…maar sover my kennis strek is daar net 30 dae in november…en nie 31 soos die berig deurgee nie..en verder aan die predikant of wat hy homself ookal roep,,,hartseer dat geld jou baas geword het!!!.geen skaamte nie..adder

Megan Swart ·

Dagsê quartus
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is reeds gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Sarel ·

Wel wel wel hierdie keer nie die NG Kerk nie.
Hirrdie man is nie die naam Predikant werd nie. Geen Ketkraad nie? Die Kerkbestuur klinkvir my was hulle hande.

Stefan ·

As dit als waar is (ons hoor net 1 kant van die saak) dan is dit skandalig.

koos10 ·

As dit inderdaad die waarheid is, vra ek net een vraag: waar is die kerkeraad?
In my opinie is ‘n predekant soos ‘n skool hoof. Hulle kan nie finansiele besluite neem sonder dat die beheerliggaam die goed keur nie.
Daar moet tog sekerlik ‘n grondwet vir die kerk bestaan wat bepaal wat met die bates moet gebeur, en ek lei af dat dit wel so is, daarom die 3 afkondiginge van die predekant.
Hier is meer aan die gang.

Kokerboom ·

Die storie wat lank aankom is uiter skleinlik en hoogs kinderagtig

Christina ·

As die grond aan die kerk geskenk is kan die predikant dit dan verkoop en boonop die geld vir homself neem? Moet die hele gemeente dan nie toestemming gee nie. Wat sê regsgeleerdes hiervan?

andre ·

Duidelik soos daglig het ons nie hier met n man van God en n Etiese sakeman te doen nie.

anniekiewiet ·

Dit klink glad nie goed nie. Hoe kan daardie skoolkinders en hul ouers alleen teen n (soos dit klink) grondbaron en n predikant veg? Wat as iemand die plek baie meer aanbied as wat daai man wat daar wil ontwikkel, dit doen.
Mag iemand met kennis hulle hulp kan gee en saam daardie wa deur die drif trek. As die moderator nie wil toe tree nie, waar is die ring dan? En hoe is dit moontlik dat die sg predikant die plek kan verkoop en dan die geld vir hom vat?

Saartjie ·

Goeie vraag! Die moderator van die VGK moet tog seker geestelike leiding aan die Broeder Predikant verskaf en hom op die euwel van sy weë wys? Dr MacMaster se redenasie laat my al te baie aan Oorle Pontius Pilatus dink … ook aan die Engelse spreekwoord: Bad things happen when good people do nothing!

KlipRSA ·

Ek kry die gemeenskap baie jammer. Geldgierigheid, verwoes alles.

Mallie ·

Vra vir die ANC. Die blankes en die boere is moeg gegee en op geoffer. Jammer vir die kinders, maar dis hoe die ander opereer.

Maggies ·

Dis mos nie die predikant se eiendom nie. Hoe kan hy dit verkoop om vir homself ‘n pensioen besorg? Iewers is daar ‘n slang in die gras.

Neelsie ·

Hier is ‘n groot slang in die gras. Die sg swartbemagtigingsmaatskappy en die “predikant” , wat kry hulle daaruit?

Coolbanana ·

Hulle moes nooit die transport akte aan hom gegee het nie!

Neelsie ·

Die transportakte is aan die VGK oorgedra nie aan die predikant. Dus moet die VGK verantwoordelikheid aanvaar. Hulle kan nie soos Pilatus terugstaan en hulle hande in onskuld was. Aan wie is die predikant verantwoordbaar?

Deon ·

Geld geld geld geld, kan mens so vraatsug raak vir geld? En dit nogals n sg predikant.. Waar is die onderwys dept in hierdie saak, n skool gaan toemaak!!

Pieter Rubeus ·

Dit hang af wat dit titel akte se bewoording is. Maar soos ek dit sien is die predikant nie die eienaar van die grond, skool of kerk nie en kan dit nie verkoop word nie. Hy het ook geen sê in die water, verwarming of veranderings op die grond as dit nie deur ‘n gemeente of kerkraad aanvaar is nie wat behoorlik gedokumenteer moet word. Die feit dat hy nie die geld aan Eskom oorbetaal het kom neer op diefstal en bedrog. As ek die gemeenskap is sal ek ‘n bedrog klag aanhangig maak by die NVG of die Valke en ophou sukkel met prokureurs wat net so skelm soos hul kliente is.

Ben ·

ñ Predikant is net ñ man wat deur die kerkraad aangestel word om te preek. Die gemeente is die “baas” van die kerk.
Die maklikste is. “Fire” hom. Hy het nie dié sê nie.

Casper ·

Die predikant is so veragtelik en geldbehep day ek nie eers verder wil kommentaar lewer nie.Verkondig die woord en aan jou sal gegee word.

Chris ·

As ek reg verstaan, is die “Pastoor” ‘n man deur God geroep om die mense met God’s woord te bedien. Daar word nie aan die arme kinders gedink wat in moeilike omstandigdhede by die skool moet uitkom nie. Pastoor en Adams het ander planne. Dink vir ‘n slag aan die kinders wie geregtig is op opvoeding en die lewe vir hul en hul ouers beter te maak.

Johann ·

Kan Afriforum nie asb hierdie mense bystaan nie? Hulle is arm, maar doen dinge vir hulle self en probeer ‘n beter lewe vir hul kinders verseker. Skande dat ‘n Predikant so maak. Ek hoop Afriforum sien en lees hierdie kommentaar van my kant af. Groot asb Afriforum gaan help hierdie mense!

Lynette ·

Ek lees die berig en hoe Verder ek lees, hoe kwater word ek vir julle part. Eerstens is die Predikant geen herder vir sy gemeente nie, want hoe verantwoord hy die sny van water, kragtoevoer, ens en dit nogal teen die mense wat sy salaris betaal. Wie het nou eintlik die hef in die hand. Die kerk se oorhoofse gesag behoort hom te skaam, want hulle is besig Om lekker SA se nasionale sport te speel t.w. Gee aan daai bok( ” Passing the buck.”.) A nee a, wanneer hierdie arm gemeenskap werk Om iets op die been te bring staan julle en Ds. Elias bakhand Om julle tiendes en offerandes te kry. Hier is gemenespel aan die gang, want die parasiet, skuus Predikant en Nog iemand is besig Om volksbesit onder jul mense te probeer uit te verkoop. My raad is. Kry Alle dokumente, kwitansies, Elke brief, berig en klagte wat jul op skrif Kan kry bymekaar. Maak gewaarmerkte kopieë van alles en begin aanstuur na almal wat jul moontlik Kan help. Ek praat nie net van die ouens wat jul Al genader het nie.

Lynette ·

Stuur aan na Min. Motsega, Pres. Ramaphosa, Carte Blanche. Moet net nie jul oorspronlike dokumente onder die oë laat uitgaan nie. O ja, wat van jul vra ‘ n oudit op die kerk Om te kyk of Alles daar reg is. Sterkte met julle stryd. Hou dit net wettig.

Raakvatter ·

Eish, ek is nie meer op praktiserende rol, maar as ek was sou ek so saak aan neem. Alle prokureurs, ten minste Noordelike Provinsies, MOET elke jaar ten minste een pro bono saak doen per jaar. In my dae (2010) geen voorsrifte, vir wie jy wil :-)

christo ·

Geldgierigheid was nog altyd die wortel van súlke bedrieglike besluite. Die predikant se optrede is bedrieglik.
Valse prediker as jy my sou vra. Hoekom raak die kerkraad nie ontslae van hom nie. Dit sal wys wees om die WKOD te betrek om die ekonomiese vatbaarheid en die sosiale uitwerking van die skool op die gemeenskap indien die skool gesluit word.

Blomme ·

Predikant wat nie die belange van die kinders op die hart dra nie! Wat het geword van ‘Laat die kindertjies na my toe kom en verhinder hulle nie’… Lyk dan hy is speek in die wiel tot hul geleerdheid!

Karina ·

Ek stem saam met julle opinies. As hy ‘n predikant is, is hy ‘n Kind van God, maar sy dade spreek boekdele wat se soort mens hy is. Skors hom as predikant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.