Skuilings vir hawelose gesinne bitter skaars

Die skuiling word bedryf uit ʼn aangepaste skool. Die klaskamers is omskep in kamers en daar is ʼn speelarea vir kinders. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Matthew Hirsch, GroundUp

Die winter kruip al hoe nader en daar is ʼn desperate behoefte aan meer skuilings vir hawelose gesinne. Die Somerset-Wes-gesinskuiling, sowat 45 km van die Kaapstadse middestad, is een van enkeles landwyd waar gesinne toegelaat word om saam in hul eie kamers te woon. Die sentrum het al aansoeke van so ver as Johannesburg ontvang.

Die skuiling word bedryf uit ʼn aangepaste skool. Die klaskamers is omskep in kamers en daar is ʼn speelarea vir kinders.

Isolde Adams en haar twee tienerkinders woon al net meer as ʼn jaar by die skuiling. Sy was nege jaar by ʼn ander skuiling voor sy hier beland het.

“Ek was altyd op soek na iets beter. Hier kan ons op dieselfde plek bly. Ek kan ʼn ma wees. Hier kan ek myself wees sonder om voor te gee,” sê Adams.

Sy het haweloos geword weens ʼn kombinasie van gesinsgeweld en middelmisbruik, sê Adams.

Isolde Adams en haar twee tienerkinders woon al net meer as ʼn jaar by die skuiling. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deesdae werk sy as barista by ʼn koffiewinkel by die skuiling se vaardigheidsprogram. Sy het geleer hoe om bruintjies te bak en selfs ʼn lugbraaier te gebruik.

“Ek het my plek gevind. Wie sou kon dink dat ek sou koffie maak? Ek het geleer hoe om eienaarskap te neem van my eie foute. Ek hou my eenkant en doen wat van my verwag word.”

Drie jaar lank het sy in ʼn bos in Sir Lowryspas gewoon.

Haar seun speel deesdae provinsiale rugby vir die Westelike Provinsie en is ʼn jeugleier by ʼn plaaslike kerk.

“Ek het hierdie oorweldigende gevoel van dankbaarheid. Jy moet jouself knyp,” sê sy.

Die winter kruip al hoe nader en daar is ʼn desperate behoefte aan meer skuilings vir hawelose gesinne. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Algemene bestuurder Wayne Spammer sê die gesinskuiling het tydens die vlak 5-inperking van die Covid-19-pandemie in 2020 ontstaan.

“Dit was gek want jy het ʼn honderd mense probeer huisves. Jy kon nie beddens koop nie [want winkels was gesluit], maar ons kon matrasse en komberse in die hande kry. Die eerste paar maande was rof,” sê Spammer.

“ʼn Kind het hul pa en ma nodig. Dit sou makliker gewees het om te sê ons neem net ma’s en kinders in. Kinders het hul pa nodig.”

Enkelpa’s met kinders vind ook ʼn veilige hawe hier.

Spammer sê streng veiligheidsmaatreëls geld omdat daar kinders in hul sorg is. Die skuiling het ʼn elektriese heining, kameras en 24-uur-veiligheidsdienste.

Aansoekers moet ʼn dwelmtoets doen en indien dit positief is, moet hulle aan beradingsprogramme deelneem. Daar is ook maatskaplike werkers op die perseel.

Die Somerset-Wes-gesinskuiling is een van net ʼn handvol waar gesinne saam kan bly. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Die sentrum word bedryf danksy ʼn kombinasie van staatsubsidies en private skenkings.

Daar kleef ʼn stigma aan haweloosheid, verduidelik Spammer. “Dit kan môre jy wees. Hier is ʼn vrou wat vantevore skenkings aan die skuiling gedoen het. Sy het haar onderneming verloor en twee jaar later het sy by my sy skuiling gewoon. Baie [van die inwoners] het ʼn taai tyd gehad.”

Volgens die 2022-sensus was daar 9 743 hawelose mense in die Wes-Kaap. In daardie stadium was 3 310 mense in skuilings in die provinsie.

Esther Lewis, verbonde aan die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, sê die departement finansier 36 skuilings met 2 288 beddens per nag vir hawelose volwassenes. Daar is 39 maatskaplike werkers en 27 hulp- maatskaplike werkers wat tussen die skuilings onder meer met berading en hereniging help.

“Daar is baie redes waarom mense hulself op straat bevind en dit wissel van verslawing en misbruik, tot gedrag- of geestesgesondheidkwessies en veel meer. Daar sal dus altyd ʼn behoefte aan skuiling vir hawelose volwassenes wees,” sê Lewis.

“Haweloosheid is ʼn ingewikkelde kwessie wat ingryping van verskeie rolspelers benodig.

“Afhangend van die beskikbaarheid van geld, word daar gekyk na bykomende skuilings vir gesinne.”

Die gesinskuiling het tydens die vlak 5-inperking van die Covid-19-pandemie in 2020 ontstaan. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Anelle Erasmus, van Mould Empower Serve, sê daar is ʼn behoefte aan noodskuilings, gesinskuilings, en oorgangsbehuising vir die komende wintermaande.

“Hierdie opsies kan verskillende vlakke van hulp aan mense en gesinne wat haweloos is, bied. Gesinskuilings, waar die hele gesin saam kan bly, is deurslaggewend vir ʼn veilige en ondersteunende ruimte vir gesinne wat haweloos is,” sê sy.

“Die skuilings is noodsaaklik omdat dit gesinne verenig hou in krisistye en ʼn bestendige omgewing vir kinders bied. Daar is steundienste vir ouers en dit help om die siklus van haweloosheid te verbreek.”

Valerie Govender, van die U-Turn-bediening, sê skuilings en veilige ruimtes help om die probleem op kort termyn te verminder en te bestuur. Dit doen egter bitter min om die probleem op die lang duur op te los, tensy dit saam met behoorlik rehabilitasieprogramme gedoen word.

“Ons moet benadruk dat tensy mense gehelp word om van die straat af te kom en gesonde, onafhanklike burgers te word wat ʼn bydrae lewer, gaan die probleem met haweloosheid net toeneem,” sê sy.

Govender sê U-Turn werk saam met die Kaapstad-metro om ʼn meer omvattende en rehabiliterende strategie te ontwikkel.

“Dit was die kernstap wat afwesig was in die meeste reaksies op haweloosheid wêreldwyd,” sê sy.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, by die skuiling in Durbanville. (Foto: GroundUp)

Vroeër vandeesmaand het die stad ʼn nuwe skuiling in Durbanville geopen wat tot 40 mense kan huisves. Daar is ook planne om ʼn skuiling met 300 beddens in Groenpunt te open.

Heelwat uitsettings is die afgelope ruk in die Kaapstad se middestad gedoen – deur die balju en polisie – in samewerking met amptenare van maatskaplike ontwikkeling en wetstoepassers.

“Die stad staan sowat 3 500 mense per jaar by deur plasing in skuilings of verwysings na maatskaplike dienste. Ons belê ook meer as R220 miljoen oor die volgende drie jaar om waardige oorgangskuilings uit te brei,” sê Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.