Slaggat op hoofpad eis twee lewens

Argieffoto ter illustrasie van ‘n slaggat in die pad.

ʼn Reuseslaggat op die R369 tussen Philipstown en Hanover in die Noord-Kaap het dié week die lewe van twee trokdrywers geëis. Dít nadat die plaaslike regering glo herhaaldelik gevra is om die swak toestand van die pad daadwerklik te verbeter.

Die drywer van die een voertuig, ʼn vragmotor en ʼn sleepwa wat met ystererts gelaai was, het na bewering beheer oor sy voertuig verloor toe dit die slaggat tref. Dit het daarna teen die tweede voertuig gebots wat volgens foto’s van die ongelukstoneel aan die Graintrans-maatskappy op Koffiefontein in die Vrystaat  behoort.

Die R369 is die roete waarlangs vragmotors ry wat ystererts van die mynbougebiede in die Kathu-Postmasburg-omgewing na die Koega-uitvoerhawe in Port Elizabeth vervoer. Gerhard Engelbrecht, die voorsitter van die Emthanjeni Belastingbetalersvereniging op De Aar, het aan Maroela Media gesê tot 50 volgelaaide trokke gebruik daagliks dié pad.

Foto’s wat op sosiale media versprei is, toon die verwronge wrakstukke van die vragmotors op ʼn reguit stuk teerpad, direk ná ʼn slaggat van minstens 2 m lank en 20 cm diep op die oppervlak. Direk ná die slaggat is daar remmerke wat wys dat die trok en sleepwa heen en weer oor die pad geswenk het voor dit die aankomende afleweringsvoertuig getref het. Dit het uiteindelik in die veld tot stilstand gekom.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se provinsiale leier in die Noord-Kaap, sê die polisie se woordvoerder in Philipstown kon nie die ongeluk bevestig nie, hoewel hulle daarvan moes geweet het. “In Hanover het die polisie geantwoord dat hulle van die ongeluk weet, maar dat dit in Philipstown se gebied plaasgevind het.”

Maroela Media kon ook geen bevestiging by die polisie op De Aar, die naaste groot dorp, kry nie.

Boshoff meen die polisie se ontwyking van navrae is waarskynlik daaraan toe te skryf dat die swak padtoestand herhaaldelik onsuksesvol op verskillende regeringsvlakke aangemeld is. Hy sê daar word ook al etlike jare beweer dat dié pad die voorkeurroete vir trokke is omdat daar geen weegtoerusting beskikbaar is om oorlading te polisieer nie.

“Tog is daar talle weegbrûe wat deur boere en landboumaatskappye besit word  wat vir dié doel aangewend sou kon word,” aldus Boshoff. “Weens oorbelading en ʼn pad wat verwaarloos en nie in stand gehou word nie, is dit vir plaaslike inwoners asook die ertstrokke lewensgevaarlik om daar te ry.”

Engelbrecht sê die saak is al met die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, bespreek, maar buiten mediaberigte het daar nog niks hiervan gekom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Manie ·

Hou vir SANRAL en die Nationale Dept van Vervoer verantwoordelik vir die ongeluk!! Dit is die regering se versuim om die paaie instand te hou!!

Frederik C ·

Die pad is in ‘n rommel toestand, soos die res van die land.
Die oorbelading-storie is egter snert. Die trokke word by die myne gelaai terwyl dit op ‘n skaal staan. Indien die trok oorlaai is, moet die betrokke myn die boete betaal. Geen ertstrok is dus oorlaai nie.

Deon ·

Ruk die land reg en kry spoor vervoer in plek…gaan kyk na die paaie rondom die kragstasies in Mpumalnga, trokke ry plekke langs die pad. Die paaie is al so erg opgeneuk dis basies nie mer herstelbaar nie… Lap en plak werk nie meer nie….. In dienou jare het die verantwoordelike departement die paai inspekteur, krakies gevul en dan hou die paaie langer… Nou word als net gelos totdat mens hoop hulle wil net die sg pad wegskraap en net n grondpad maak. Hopelose situasie.

4ntj13 ·

Ystererts op ʼn R-pad! Wat het van Saldanha geword? Of het iemend êrens weer geld nodig gehad?

Mariana ·

Mense lewens is geen priotriteit in die land nie. Net nog twee wat deel word van statistieke. Iemand doen weereens hul werk nie en sit heel waarskynlik met hul vet hande in die “cookie jar”. Beursies raak vol en belastingbetalers sorg daarvoor.

Daan ·

Kan die boere daar naby nie net die gat tydelik opvul en rapporteur nie? Ek doen dit gereeld. Moet mens altyd jou punt bewys ten koste van menselewens?

Kokerboom ·

Hou SANRAL asook Premiers aanspreeklik. Hoe laat ons toe dat die regering van die dag ons land se infrastruktuur so laat verwoes sonder enige aanvaarding van aanspreeklikheid??

Jaco ·

As jy kla maak reg die slaggate, dan reën die beskuldigings van rassisme op jou neer. Dit was my ervaring.

Leon ·

En passop dat jy nie vervolg word ondat jy onwettig aan n pad werk nie!

Heinrich ·

Viva ANC, hierdie twee lewens is op julle. Miskien moet julle ‘n groot kommissie saamstel, so R10000 se Nandos opeet en dan besluit om die pad se naam te verander aangesien dit tydens die vorige bedeling gebou is en alles voorspoedig sal laat loop.

netekalleen ·

Se wat julle wil maak daar is n werkende land met goeie infrastrukuur aan die demokrasie regering oorhandig en toe net so gelaat los sodat al die skelms hulle gatsakke kan volmaak en so sterf mense onnodig want ons land val uitmekaar

Johanncb ·

Paaie oral in ons land is in ‘n swak toestand. Wanbestuur deur munisipaliteite neem daagliks toe. Covid-19 skep nou ook meer geleenthede vir diefstal en bedrog.

Pierre ·

My voertuig moet “padvaardig” wees, so maak dan die paaie “voertuigvaardig”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.