Slegs dié wat kan betaal, haal Spele

Span Suid-Afrika (Foto: TeamSA2020/Twitter)

Beroepsatleet. Dít, sê die oud-atleet LJ van Zyl, is ʼn konsep wat in Suid-Afrikaanse sport omtrent nie bestaan nie.

“As jy nie ʼn persoonlike borg het nie, of jou ouers is byvoorbeeld nie in ʼn posisie om jou loopbaan te finansier nie, is dit amper onmoontlik om die hoogste vlak in sport te bereik.

“Dit voel of ons hele stelsel verkeerd is: Jy word eers beloon nadat jy ʼn fortuin spandeer het aan sport,” sê Van Zyl.

Hy sal weet. Van Zyl is ʼn Suid-Afrikaanse 400 m-hekkiesatleet en is getroud met Irvette van Zyl, die 50 km-wêreldrekordhouer. Irvette was ook deel van Span Suid-Afrika wat aan die Olimpiese Spele in Tokio deelgeneem het. Die egpaar besef al te goed wat nie net die persoonlike prys is om te betaal om sukses te behaal nie, maar ook hoe dit jou sak ruk.

ʼn Herrie het die afgelope week losgebars ná die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) aanvanklik aangedui het daar is onsekerheid oor of daar genoeg geld beskikbaar is om Suid-Afrika se medaljewenners by die Spele te vergoed.

Uit ʼn span van sowat 180 atlete wat Suid-Afrika na die Spele gestuur het, het die swemmer Tatjana Schoenmaker ʼn goue en ʼn silwer medalje ingepalm, terwyl die branderplankryer Bianca Buitendag silwer verower het.

Suid-Afrikaanse organisasies en gewone burgers het egter self ingespring en geld ingesamel om die land se medaljewenners te help vergoed.

Kritiek op vertoning onregverdig

Tatjana Schoenmaker was een van die land se uitblinkers. Sy het twee medaljes verower. (Foto: Anton Geyser/SASPA)

Die minister van sport, Nathi Mthethwa, het boonop – om skande by skade te voeg – uitgevaar dat Span Suid-Afrika onderpresteer het en nie behoorlik getransformeer was nie.

Prof. Nana Adom-Aboagye, verbonde aan die Sentrum vir Sportleierskap aan die Universiteit Stellenbosch, sê die kritiek is ongeregverdig. “Dit lyk of mense vergeet wat in die algemene samelewing gebeur, sportlui ook raak. Ons is steeds midde-in ʼn wêreldwye pandemie en op ʼn aangepaste inperkingstyd en daar was tye wat sport nie toegelaat is nie – om nie eens te praat van toegang tot fasiliteite nie.”

Adom-Aboagye sê niemand weet wat individuele sportlui moes opoffer net om in Tokio uit te kom nie. “Die feit dat ons ʼn span kon stuur en medaljes wen, behoort nie gekritiseer te word nie. Mense wat kritiseer, ken nie die onderliggende faktore wat bydrae tot uitkomste nie.”

Veronica van Dyk, die DA se woordvoerder oor sport, kuns en kultuur, sê die span se prestasie vanjaar was nie gelykstaande aan vorige prestasies nie, maar stem saam dat die omstandighede erken moet word waaronder atlete moes oefen en voorberei te midde van die pandemie, inperkingsregulasies en reisbeperkings.

Van Dyk sê Saskok se aanbieding aan die portefeuljekomitee was egter dat Suid-Afrika 13 medaljes by die Spele kon verower.

Sportlui dok self op

Suid-Afrika het eindelik drie medaljes by die Spele verower. (Foto: Geoffroy van der Hasselt/AFP)

Sy meen egter Suid-Afrika se beskikbare begroting vir die Spele was onvoldoende. Die Verenigde Koninkryk het volgens Van Dyk £352 miljoen belê tot die opbou vir die Spele in Tokio en Kanada het $116 miljoen belê vir die Spele in Rio. Hierteenoor het Suid-Afrika R56 miljoen begroot.

“Suid-Afrika is egter nog ʼn ontwikkelende land en kan nie noodwendig oor dieselfde kam as alle ander en veral ontwikkelde lande geskeer word nie. Ander faktore soos die huidige ekonomiese omstandighede en die impak van Covid-19 moet in ag geneem word, maar Suid-Afrika het duidelik oor vier jaar nie voldoende vir die Spele beplan nie.

“Geld wat verlore gegaan het aan staatskaping en korrupsie steel ook geleenthede en kon aangewend word vir sportontwikkeling en ondersteuning van atlete.”

Van Dyk sê die regering neem sport ook nie ernstig op wat finansiering betref nie.

“Sport, kuns en kultuur het slegs ʼn jaarlikse toewysing van R5,6 miljard in die 2021‑’22-boekjaar ontvang, in vergelyking met die regering se voorspelde of geraamde uitgawes van meer as R2 triljoen in dieselfde boekjaar,” sê Van Dyk.

“Die minimum fondse word bewillig vir sportontwikkeling en hopeloos te min vir fasiliteite, afrigters en ondersteunende dienste soos fisioterapie, klassifikasie, tegniese kundigheid en afrigting.”

Hiervoor dok sportlui meestal op.

Ilse Pelser-Roets van die Johannesburg-gimnastieksentrum (JGC) en afrigter van Suid-Afrika se jong superstergimnaste Caitlin Rooskrantz en Naveen Daries, sê om aan ʼn byeenkoms soos die Spele deel te neem, verg enorme opoffering – van atlete, hul gesinne en afrigters.

Hulle oefen meer as 30 ure per week en daar is jare se belegging in onder meer hul oorsese toere, klasgeld en mediese rekeninge.

Pelser-Roets sê dit is moeilik om ʼn kosteberekening te doen, maar dit neem gimnaste naastenby 15 jaar om by die Spele uit te kom. Voeg hierby maandelikse klasgeld, mediese koste, kostuums en grips en dit kos jou maklik tussen R2 000 en R3 000 per maand.

Dan kom die peperduur oorsese toere.

Pelser-Roets sê hulle het die afgelope tien jaar egter baie goeie ondersteuning van Gimnastiek Suid-Afrika gekry en daar is finansiering beskikbaar, veral vir senior gimnaste. “Natuurlik sal ʼn mens altyd meer wil kan doen en meer oorsee sou wou deelneem, maar ons doen die heel beste met wat ons het.”

Dit was Rooskrantz en Davies se eerste Spele. En hulle het geskitter.

“Hulle is twee van die ongelooflikste 19-jariges wat ek ken: Volwasse, vriendelik, gedissiplineerd en uiters hardwerkend. Hoewel Naveen nie so goed op die balk begin het nie, het sy die volgende drie apparate skoon en netjies gedoen met meer moeilikheidsgraad as ooit tevore.

“Caitlin het ʼn persoonlike beste behaal en onder daardie soort druk is dit juis fantasties,” sê Pelser-Roets.

Albei berei nou voor vir die Statebondspele volgende jaar en om vir die Spele in Parys in 2024 te kwalifiseer.

Pelser-Roets sê kritiek op die SA span se sogenaamde onderprestasie by die Spele is hartseer.

“Vir my as afrigter gaan die Olimpiese Spele oor soveel meer as net die medaljes. Ek is ʼn trotse Suid‑Afrikaner en ons is eintlik ʼn baie geïsoleerde land met minder tot ons beskikking. Ek dink as ʼn mens alles in ag neem, vaar ons goed.

“Die proses om te kwalifiseer vir die Spele self, is so moeilik; so net om daar te kan deelneem is ʼn fantastiese prestasie. Ek was in Tokio en ek het gesien hoe Suid-Afrika hul hart en hul siel gegee het.”

Geen meer motivering

Van Zyl, deesdae ook ʼn dosent by die Universiteit van Pretoria se departement opvoedkunde, sê dit gaan al hoe moeiliker word om ʼn nuwe generasie jongmense aan te moedig om sport ernstig op te neem – veral as hulle besef dat dit hulle ʼn klomp geld gaan kos.

“Ek het gesien hoeveel talentvolle atlete ons al verloor het en ek is nie verbaas dat ons prestasies al hoe verder agteruitgaan nie.”

Van Zyl beywer hom deesdae daarvoor om atlete aan te moedig – en te help – om voor te berei vir ʼn suksesvolle loopbaan buite sport, omdat dit in weinig gevalle die rekeninge sal kan betaal. Slegs uitgesoekte topsportlui is gelukkig genoeg om deur groot borge finansier te word. “Ek kan op my een hand tel hoeveel atlete persoonlike borge het; dit kos die ouens self ʼn enorme klomp geld.”

Hy meen daar moet van skoolvlak af na belowende atlete omgesien word sodat ʼn poel talent geïdentifiseer en behou kan word.

Die DA se Van Dyk sê ook daar is min aansporing vir atlete aangesien die meeste van hulle hulself tydens opleiding en voorbereiding vir groot kampioenskappe moet finansier. “Voorbereiding is die duurste deel van die proses, want die atleet benodig toegang tot behoorlike oefenfasiliteite, voeding, afrigtingsondersteuning, mediese ondersteuning, sporttoerusting en toegang tot gimnasiums om voor te berei.

“Dus, sonder die steun van die regering in die regte programme wat talentvolle atlete ondersteun, sal ons voortgaan om te daal in prestasie by geleenthede soos die Spele. Baie atlete het ook hul borge weens Covid-19 verloor, wat hul voorbereiding verder benadeel het.

“Van die atlete het so erg gesukkel, dat hulle kospakkies uit die Solidarity Fund moes ontvang.”

Sy sê borgskappe van die private sektor is nodig en daarom moet politiek uit sport en beheerliggame gehou word.

“Die kriteria moet wees om die beste administrateurs en amptenare te kry. Ongelukkig gebeur dit nie altyd nie en word Saskok en die federasies op patronaatskap benader, wat nie noodwendig in die beste belang van die atlete is nie.”

Moenie in afsondering werk

(Argieffoto: pixabay)

Emmarie Prinsloo, hoofafrigter van Kovsie Sport by die Universiteit van die Vrystaat, sê finansiering bly eenmaal ʼn groot gedeelte van sport en dat dit so gou moontlik gepak moet word. Sy sê Suid-Afrika het hope sport- en afrigtingstalent en is ʼn nasie wat sport geesdriftig ondersteun.

“As ons dit kan komplementeer met goeie administrasie, sal Suid-Afrika ʼn voorste land in die wêreld word en bly,” sê Prinsloo.

“Mense skep hul eie ekonomie. Deur in dié silo’s te werk skep individuele sukses, maar pootjie eenheid en algehele sportontwikkeling in die land. Dit is hoekom Suid-Afrika medaljes kan lewer. Die atlete het egter nie deur ʼn beheerliggaam gekom nie, maar het dit basies self gedoen. Dit is hoekom dit nie volhoubaar is nie en dit ʼn gesukkel is om sukses te herhaal.”

Adom-Aboagye sê ook Suid-Afrikaanse sportadministrateurs en sportbeheerliggame moet “ophou om in silo’s te werk” en oop wees vir insette van vakkundiges, akademici, wetenskaplikes en navorsers in die land.

“Daar is ʼn onsamehangendheid tussen ons beleid en wat prakties in sport gebeur. Die fokus is nie meer op die atlete, hul omstandighede en behoeftes nie en tog verwag ons van hulle om op die hoogste vlak te presteer terwyl hulle nie die grondslagsteun het om op voort te bou nie.”

Sy sê daar moet by sportlui vasgestel word presies deur watter uitdagings hulle in die gesig gestaar word – of dit nou op junior of senior vlak is – en dat dit navorsing vereis.

“Die beste oplossings kom van diegene wat geraak word. Ons het ʼn interdissiplinêre benadering nodig om te bepaal wat met die beskikbare hulpbronne gedoen kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jasper

Die weskaap sal moet wegbreek van die huidige SA dan kan mense op meriete hulle land die kaap van goede hoop verteenwoordig en weer ‘n land in Afrika word met trots.

Jaco

Wat ‘n LANG berig, terwyl die bottom line bloot is: as jy wit is in SA, BLY DAN WEG uit sport, want jy WEET jy gaan iewers teleurgestel word omdat jy die “verkeerde” velkleur het.

casper

Saskoc het al die geld in die wereld om vir amptenare en hulle hyulpe te betaal met partyties en feeste en komitees maar niks vir die (veral wit) atlete nie !!

Hoekom

Ons regering begroot net vir hulle eie sakke en hou daarvan om “rasisme” en “transformasie” te skreeu as hulle onder kritiek loop en om hulle eie korrupsie en rasisme te verbloem…

Jeff

Mthetwa die rassis vriend van Lesmurfi Phoofi