Slegte nuus vir Noordwes-dorpe uit hofbevinding

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

‘n Hofuitspraak in die Noordwes-hooggeregshof in Mahikeng beteken potensieel slegte nuus vir agt munisipaliteite in Noordwes wat tans onder administrasie geplaas is.

Munisipaliteite wat deur die uitspraak geraak word, is JB Marks (Potchefstroom), Tswaing (Delareyville), Lekwa Teemane (Christiana), Naledi (Vryburg), Ratlou (Setlagole), Madibeng (Brits) en Mamusa (Schweizer-Reneke).

Die hof het bevind dat die aanstelling van die administrateur van die Kagisano Molopo-munisipaliteit in Ganyesa, wat tans onder administrasie is, ongeldig is omdat die aanstelling gemaak is deur die LUR vir plaaslike regering in Noordwes, Gordon Kegakilwe.

Aangesien die Noordwes-regering egter self onder administrasie geplaas is, het die hof beslis die LUR kon nie die aanstelling maak sonder die instemming van die nasionale regering en die Nasionale Raad van Provinsies nie.

Omdat dieselfde omstandighede geld en dieselfde prosedures gevolg is by die ander munisipaliteite wat in Noordwes onder administrasie is, sal die hofbevinding ook op hulle van toepassing wees, het Carin Visser, DA-LP van Sannieshof, aan Maroela Media gesê.

Die verdere vrae wat nou ter sprake kom omdat die owerhede die situasie so onbeholpe en wederregtelik hanteer het, is die geldelike implikasies van die betaling van salarisse aan amptenare wat op ongeldige wyse aangestel is vir die tersaaklike munisipaliteite, waarvan verskeie reeds vir alle praktiese doeleindes bankrot is, en of al die besluite van die amptenare wie se aanstellings ongeldig was, dus ook ongeldig is.

Die hofuitspraak het Woensdag, toe Visser dit onder die aandag van die parlement gebring het, gelei tot die uitstel van ‘n debat in die Nasionale Raad van Provinsies wat oor die ingryping by munisipaliteite in Noordwes sou handel, omdat die wettigheid van die hele ingryping nou in die gedrang is.

Visser het gesê die toestande van munisipaliteite in Noordwes is benard. Die enigste oplossing is om terug te keer na basiese beginsels van begroting en projekbestuur. Slegs die poste wat ‘n munisipaliteit kan bekostig moet gefinansier word, en salarisse kan nie die begroting heeltemal oorheers nie. Die bekwaamste en bes gekwalifiseerde mense moet aangestel word teen die laagste moontlike koste, en slegs as hulle die werk kan doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kolle ·

Geen aanstellings, skelm of nie, word enigsins by enige SA instelling afgedank nie. Waag dit en die unie mafia is daar met groot sukses want die stert swaai die hond.

Gert van Wierdapark ·

Wat anders kan mens verwag van ons Skitterende Kakistokrasie!!!

Gemaskerde Sopbeen ·

Amper reg Gert…..jy moet net nog ‘n woord bysit: KLEPTO-Kakistokrasie….

Maljan ·

Ek herhaal… As bewoners van munisipale huise huur, water, krag en dienste betaal, sal munisipaliteite en Eskom wins maak. As hulle weier om te betaal, sit hulle uit. As hulle weier om te gaan, wel, die huis beteken in elk geval die munisipaliteit ly n verlies, so brand dit af.

Muffin ·

Naledi Vryburg het hopeloos te veel personeel. Sal moet verminder en volgens begroting werk. Te veel bestuurders wat niks doen nie. Hou het vergaderings.

Peet ·

Absoluut reg Kolle. Hier plaaslik (sal maar nie sê waar) is ‘n klerk letterlik met hanse in die geldlaai betrap.
Wat gebeur? by die hofverskyning is die héle kantoor in die hof – in ondersteuning. Zondo gebeur is net nog ‘n voorbeeld!
Die VBS is net nog ‘n voorbeeld – geen merkbare optrede.

Leon ·

Hulle het ‘n groot probleem. Daar is nie bevoegde BBBEEE mense om aan te stel wat die werk kan doen nie. Die best gekwalifiseerde mense is in New Zealand en Australië en Amerika en……. So waar gaan hulle so iemand kry?

Maljan ·

Ek herhaal… As bewoners van munisipale huise huur, water, krag en dienste betaal, sal munisipaliteite en Eskom wins maak. As hulle weier om te betaal, sit hulle uit. As hulle weier om te gaan, wel, die huis beteken in elk geval die munisipaliteit ly n verlies, so brand dit af.

m ·

“Ons speel lekker, en nou sit ons met die gebakte pere!” Onbeholpe is die woord.
Thanks vir MM om die regte name van die plekke by te sit anders het meeste van ons nie ‘n clue gehad waar dit nou gebeur nie. Maybe is dit die einlike rede vir al die naam verandering, maak dit net mooiliker om uit te figure waar al die bedrog gepleeg word!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.