Slim hoofmeisie moes ‘van vooraf leer skryf’  

Daniellé Botes (Foto: Verskaf)

Daniellé Botes, voormalige hoofmeisie van Hoërskool Wagpos in Brits, het vyf onderskeidings in die afgelope matriekeindeksamen behaal*. ʼn Besonderse prestasie, veral as jy in ag neem dat sy in gr. 9 van voor af moes leer skryf weens ʼn siektetoestand wat die gevoel in haar regterarm aangetas het.

Torakale uitgangsindroom is destyds by haar gediagnoseer, ʼn siektetoestand wat ontstaan wanneer die sleutelbeen skuif en druk op die senuwees en bloedvate in die arm plaas.

In 2020 moes sy ʼn ingrypende operasie aan haar nek ondergaan en het vir ʼn kwartaal lank skool misgeloop. Dit was boonop dieselfde jaar wat die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika uitgebreek en grootskaalse ontwrigting in skole veroorsaak het.

“Na daardie jaar was ek akademies baie agter, maar die Here is goed. Gelukkig was almal maar effens agter met hul skoolwerk weens die Covid-19-pandemie.”

Daniellé gaan vanjaar wiskunde aan die Universiteit van Pretoria studeer. “Dit is wat my motiveer om so hard te werk. As ek ʼn gemiddeld van 90% het, kan ek ʼn beurs ontvang.” Sy droom ook daarvan om nagraads te studeer en “hopelik kan ek iets nuuts uitvind!”

Daniellé is baie lief vir wiskunde, maar sy kan ook sing, skryf en kitaar speel.

  • Daniellé het Alpha Wiskunde ook as vak gehad. Inligting oor dié vakke word nie saam met die res van die uitslae aan die media gekommunikeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.