Slim Igno wil ‘ʼn verskil maak’

Igno Strydom van Hoërskool Rustenburg. (Foto: Verskaf)

Igno Strydom van Hoërskool Rustenburg is ʼn man met ʼn vol program. Hierdie middelkind van drie wou graag goed presteer om keuring vir medies te kry en sowaar, hy het dit reggekry om sewe onderskeidings te behaal*.

Igno se droom vir die toekoms is om werklik ʼn impak te maak op iemand se lewe. “Ek wil ten minste net in een persoon se lewe ʼn voetspoor los.”

Hy is nog onseker waar hy gaan studeer. Hy het voorlopige keuring by verskeie universiteite, maar wil graag aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Hy hou van draf, maar speel ook kitaar en ukelele. “Ek is baie lief vir diere,” vertel Igno. Afgesien van sy stokperdjies, was hy ook betrokke by buitemuurse aktiwiteite by die skool. “Ek was in die skool se koor sowel as die atletiek-, landloop- en debatspan. Ek het ook jaarliks deelgeneem aan die toneel-aand by die skool.”

Sy grootste uitdagings was om akademie, buitemuurse aktiwiteite en sy sosiale en persoonlike lewe te balanseer en genoeg tyd aan elkeen te spandeer. Sy raad vir voornemende matrieks met betrekking tot die eindeksamen is om nie te veel daaroor te dink nie. “Dis twee maande van jou lewe wat jy moet leer en alles moet insit. Daarna kan jy lekker vakansie hou.”

*Igno het Admaths en Alpha Wiskunde as vak gehad. Inligting oor dié vakke word nie saam met die res van die uitslae aan die media gekommunikeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.