‘Sloop Usindiso-gebou’; aanbevelings gedoen ná dodelike Marshalltown-brand

‘n Beampte van die Johannesburg-metropolisie op patrollie by die vervalle en verlate Usindiso-gebou in Johannesburg. (Foto: Luca Sola/AFP)

Die uitslag van die ondersoek na die brand by die Usindiso-gebou in Johannesburg wat die lewe van 76 mense geëis het, lui dat die Johannesburg-metro en sy eiendombestuursfiliaal, die Johannesburg Property Company (JPC), minstens gedeeltelik vir die tragedie verantwoordelik gehou moet word.

Oudregter Sisi Khampepe het Sondag die eerste gedeelte van haar verslag na die dodelike brand bekend gemaak.

Die gebou het oor die jare ʼn misdaadnes geword nadat dit aanvanklik deur die JPC en daarna deur Usindiso Ministries, ʼn organisasie sonder winsbejag wat dit as ʼn fasiliteit vir mishandelde vroue gebruik het, bestuur is. Usindiso Ministries het die perseel in 2015 verlaat nadat dit toenemend vervalle geraak het en onwettige besetters het dit daarna gekaap.

Oorsaak van brand

Luidens die verslag is die brand aanvanklik begin deur ene Getuie X, wat bedwelm was nadat hy dwelms op die grondverdieping gebruik het en daarna iemand anders aangerand het. Hy het die slagoffer verwurg en daarna petrol oor die persoon uitgegooi en die liggaam aan die brand gesteek om die bewyse van ʼn moord te verdoesel.

Die brand het daarna na die res van die gebou versprei.

Uit die 76 mense wat omgekom het, kon 57 uiteindelik uitgeken word. Nog 19 se name is steeds ʼn raaisel. Die meeste slagoffers (wat uitgeken kon word) was Suid-Afrikaners (23). Onder die geïdentifiseerde slagoffers was ook 20 Malawiërs, ses Zimbabwiërs, vier Tanzaniërs en vier Mosambiekers.

Talle ander mense is in die brand beseer, of is haweloos gelaat.

Aanbevelings

Besittings lê verstrooid in die Usindiso-gebou na die brand wat die lewe van 76 mense geëis het. (Foto: Luca Sola/AFP)

Khampepe het verskeie aanbevelings in die verslag gedoen.

Dit sluit in dat ʼn gedenksteen ter herinnering van die slagoffers op ʼn gepaste plek opgerig word.

Nog ʼn aanbeveling is dat die gebou heeltemal gesloop word.

Die stad moet voorts bepaal watter munisipale verordeninge oortree is en moet ʼn onafhanklike proses van stapel stuur om te bepaal wie aanspreeklik vir elke oortreding, soos bevind in die verslag, was. Enige strafregtelike oortredings moet aan die relevante owerhede vir verdere ondersoek oorgegee word.

Die verslag beveel ook aan dat gepaste stappe teen Helen Botes, die uitvoerende hoof van die JPC, gedoen moet word vir die “algehele verontagsaming” van die gebou se bestuur ondanks die wete dat dit in ʼn haglike toestand is.

Die polisie moet verdere ondersoek instel na die bewerings van inwoners oor hutte wat in die gebou opgerig is en mense wat huurgeld daarvoor geëis het, het Khampepe bevind. Verdere sielkundige hulp moet ook verleen word aan slagoffers wat dit benodig om die trauma van die gebeure te verwerk.

“Die burgemeester moet die posisie van die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings en openbare veiligheid oorweeg, wie se politieke verantwoordelikheid of gebrek aan oorsig saamgewerk het om die Usindiso-ramp mee te bring.”

Eweneens moet die stad se instellings, naamlik die JPC, Johannesburg Water, City Power en Pikitup, aan dissiplinêre prosesse onderwerp word waar daar bewyse is dat iemand hul plig versuim het en indien daardie pligte nagekom is, die Usindiso-tragedie verhoed kon word, lui die aanbevelings.

Verslag verwelkom

(Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Die Marshalltown Fire Justice Campaign was een van die groepe wat die bekendmaking van die verslag verwelkom het.

“Die verslag se sentrale bevinding, dat die Johannesburg-metro en sy instellings vir die tragedie verantwoordelik is, bevestig ons posisie dat die stad se nalatigheid en skending van munisipale verordeninge tot hierdie ramp gelei het,” lui ʼn verklaring van die organisasie.

Die groep sê hy het uit die staanspoor volgehou dat die stad, en nie die inwoners van die gebou nie, vir die ramp verantwoordelikheid gehou moet omdat hy versuim het om die veiligheid daarvan te verseker.

“Ons eis snel optrede na aanleiding van die kommissie se aanbevelings en dringende optrede om die stad se behuisingskrisis te verlig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tong in die kies ·

Net die naweek wens ek dat ek die nodige gesag en bemagtiging van die regering kon hê om die woonstel blokke (drug hool) in Paardekraal str Krugersdorp wea te kan sloop. Dit plekke loop oor van onwettige imigrante, prostetute en dwelm verslaafdes.

skurweberg ·

Kry die regering uit die pad. Dan sal alles self regkom (29 Mei)

OneWheel ·

Gedenkteken oprig ter ere van die slagoffers ??? (dis nou die ouens wat die gebou onwettig beset het…)
Wat is volgende? Miskien die Nobelprys vir brandstigting vir die ou wat van die lyk ontslae wou raak?
Hierdie is ‘n sprekende voorbeeld van hoe disfunksioneel stadsrade geword het onder leiding van die anc – kaders…

Andriette ·

Hier in Pretoria kan hulle maar gerus die Melgesidek, Krugerpark en Shubartpark geboue laat sloop of inplof.

Amelia ·

My vraag ook onewheel is die persoon in hegtinis geneem wat petrol op ander uitgooi die plek is onwettig beset nee hel diet is te erg

Bolandse Nooi ·

OK, so dit is die polisie, die stadsbestuur, die vuilisverwyderingsmaatskappy WAT DIE BRAND GESTIG HET nadat hulle in ‘n dwelmwaas iemand verwurg het en die lyk aan die brand gesteek het met petrol om die misdaad te verbloem???????????????????????

Papsak ·

Ek stem kry hierdie korrupte regering uit die pad uit en alles gaan verbeter ??????

Henk ·

Waar was die wets toepassers wat ongewenste persone en aktiwiteite moes beheer het??????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.