Só bevind privaat vervolgingseenheid oor Willem Kruger

Willem Kruger (Foto: Facebook)

Ná ʼn deeglike studie van die omstandighede rondom die afsterwe van Willem Kruger, is AfriForum se privaat vervolgingseenheid van mening dat daar nie enige bewyse is van vuilspel nie.

Die eenheid het onder leiding van adv. Gerrie Nel die bevindings van sy ondersoek na die dood van Kruger, ʼn jong boer van Groblersdal in Limpopo, met sy gesin gedeel.

Kruger (29) se pa, Tiaan, het die eenheid in Februarie genader te midde van voortdurende bespiegelings en beweerde ongerymdhede rakende sy seun se dood by ʼn ramparty by Henbase Lodge, naby Morgenzon in Mpumalanga, verlede jaar.

Kruger het in November in die vroeë oggendure spoorloos verdwyn en sy liggaam is nege dae later in sy Toyota Hilux-bakkie in die Vaalrivier gevind, naby aan waar hy die laaste keer gesien is.

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, het sy innige meegevoel betuig met die gesin wat al meer as vyf maande lank angs en sekondêre trauma verduur wat aangevuur is deur bespiegelings.

Die eenheid het uit die staanspoor dit duidelik gemaak dat hy nie gelei sal word deur berigte of spekulasie in die media nie en slegs sal staatmaak op objektiewe feite en stawende bewyse.

Willem Kruger se voertuig word uit die Vaalrivier getrek. (Foto: JP von Benecke/Facebook)

“In ʼn moeilike en soms emosionele ontmoeting met die Kruger-gesin het adv. Nel die besonderhede uiteengesit van die verskillende bevindings. Dit sluit analise in van die data wat bekom is van Willem se sporthorlosie, die GPS-data van sy voertuig, data van selfoontorings, die bevindings van die nadoodse ondersoek en verklarings van verskeie mense wat die aand in die omgewing was.”

In opdrag van die gesin sal die span nou “fokus op die privaat ondersoekers wat die trauma en wanhoop van ʼn familie misbruik het om hulself te verryk”.

“Die eenheid wil egter graag adjudant-offisier David Nhlapo komplimenteer wat hom uitstekend van sy taak gekwyt het en met die eenheid saamgewerk het. Sy ondersoekende werk, saam met die eenheid, het die proses laat vorder en ʼn pynvolle ondersoek nader aan ʼn afsluiting gebring,” sê Bateman.

Volgens hom is daar nog ʼn paar uitstaande aspekte rondom prosedures wat nog in die dossier ingesluit moet word en ʼn paar los punte wat die saak tot voleinding sal bring en gereed om by die Nasionale Vervolgingsgesag ingedien te word.

“As ʼn gesin bly ons besorg dat die feite uit die beskikbare bewyse dit laat blyk dat Willem opgetree het in ʼn manier wat nie kenmerkend is van hom nie,” het Tiaan Kruger bygevoeg. “Ons voel gemaklik dat die ondersoek sal voortduur, selfs ná ʼn geregtelike doodsondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.