Só lyk impak van rentekoersverhoging op eiendomsmark

Argieffoto (Foto: Tierra Mallorca/Unsplash)

Die besluit deur die monetêre beleidskomitee van die Reserwebank om die rentekoers vir die tiende keer in net twee jaar te verhoog met nog 50 basispunte, plaas ʼn groot las op verbruikers en huiskopers, sê Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff Property Group.

Maroela Media het vroeër berig die rentekoers is na 8,25% verhoog en bring die prima uitleenkoers op 11,75% te staan.

Seeff sê die direkte impak op huiseienaars en -kopers is dat die koste van huislenings drasties die afgelope twee jaar verhoog het.

Volgens hom was daar voldoende redes vir die Reserwebank om eerder ʼn meer toeskietlike standpunt in te neem in die lig van die huidige ekonomiese klimaat.

“Die rentekoersverhoging is ʼn pretbederwer vir ʼn sukkelende ekonomie, veral in die lig van die impak van die Eskom-kragkrisis en die mark het positiewe nuus nodig.”

Volgens Seeff sal die wisselkoers na verwagting na ʼn meer beheerbare vlak terugkeer met die daling van die verbruikersprysindeks na 6,5% – wat dit nou net effens hoër as die Reserwebank se doelwit plaas.

Wat beteken nóg ʼn rentekoersverhoging vir die eiendomsmark? Volgens Seeff plaas die stygende huisleningskoste ʼn groot demper op die mark. “Persone wat vir die eerste keer huis koop – van wie talle uit die opkomende middelklas kom – word nou deur bekostigbaarheidsprobleme in die gesig gestaar. Verkope het oor die algemeen gedaal – meer in sommige gebiede en tot ʼn mindere mate in ander markte soos die Kaap.”

Die rentekoers is steeds ver onder die gemiddeld van 15% tot 16%.

“Dit is ook bemoedigend vir die mark dat ons nog steeds die beste leningstoestande sien sedert 2007 met sterk ondersteuning van die banke. Goedkeuringskoerse staan steeds op meer as 80%, depositovereistes is steeds tussen 8% en 10% en kopers kan gewoonlik toegewing in die rentekoers vind.”

Volgens hom is voorafgoedkeuring vir kopers noodsaaklik om seker te maak dat hulle nie teleurgestel word nie, en dat hulle ook in ʼn beter onderhandelingsposisie is.

“Verkopers aan die ander kant moet weet dat die groei in huispryse redelik stilstaan, wat beteken dat hulle die korrekte prys sal moet vra as hulle dadelik hul huis wil verkoop.”

As gevolg van die jongste rentekoersverhoging van 50 basispunte, lyk die maandelikse terugbetaling vir ʼn verband oor 20 jaar ongeveer soos volg:

  • Verband van R750 000: ʼn bykomende R259 van R7 869 na R8 128
  • Verband van R900 000: ʼn bykomende R310 van R9 443 na R9 753
  • Verband van R1 000 000: ʼn bykomende R344 van R10 493 na R10 837
  • Verband van R1 500 000: ʼn bykomende R517 van R15 739 na R16 256
  • Verband van R2 000 000: ʼn bykomende R689 van R20 985 na R21 674
  • Verband van R2 500 000: ʼn bykomende R862 van R26 231 na R27 093

Yael Geffen, uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby’s International Realty, meen ook ʼn verhoging van 25 basispunte sou baie meer goedhartig gewees het vir gebruikers.

“Ons voer ʼn stryd teen voedselinflasie wat op ʼn hoogtepunt van 14 jaar is; ons reeds rampspoedige werkloosheidstatistieke het verder gedaal en ware huishoudelike inkomste is laer. En dit is nog voordat ons begin praat oor die verwagte fase 8-beurtkrag, die Russiese wapenskandaal en wat VSA- en EU-sanksies aan ons land se voorsieningskettings en uitvoerbedryf kan doen,” sê Geffen.

“Vanaf November 2021 – ʼn tydperk van slegs 18 maande – is huiseienaars met betreklik beskeie R2 miljoen-verbande getref met verhogings van meer as R6 000. Ons beland al dieper in die moeilikheid terwyl die regering se idee van probleemoplossing is om die vinger na ander te wys. Die privaat sektor doen sy bes, maar ons kan dit nie doen sonder ʼn funksionele nasionale administrasie nie.”

Geffen sê die styging van 50 basispunte sal groter druk op die eiendomsmark plaas wat waarskynlik nie vir die res van die jaar sal verslap nie.

“Kopers sal moet spaar vir groter deposito’s. Hoe meer jy kan neersit wanneer jy ʼn huis koop, hoe groter ruimte gaan jy jouself gee om die verband terug te betaal.

“As jy druk ervaar, werk saam met jou bank aan oplossings om jou huis te behou. Finansiële instellings wil nie jou huis hê nie en hulle sal eerder help om dit te behou as om die omvattende regsproses te volg wat die gevolg is van wanbetaling. Aan die ander kant, as jy kontant in die bank het, koop nou. Jy sal tans wonderlike eiendomme beskikbaar vind en verkopers is oor die algemeen meer gewillig om te onderhandel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Oor die woord ‘beskeie’.
….met betreklik beskeie R2 miljoen-verbande…

De Bok ·

Mense het baie geld. R2m is ‘n normale huis se prys in groot dele van Pretoria Oos

Piet parys ·

Leef volgens jou inkomste en nie wat jy wil hê of besit nie. In 1989 het jy 18% rente op beleggings gekry en het tot 32% betaal om n voertuig te finansier . So rentekoerse is vrek laag . Mense leef bo hulle finansiele vermoë.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.