Rentekoers wéér skerp verhoog

Lesetja Kganyago, president van die SA Reserwebank (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Reeds vuisvoos Suid-Afrikaners sal opnuut elke sent moet omdraai nadat die Reserwebank se monetêre beleidskomitee die rentekoers Donderdag met nóg 50 basispunte tot 8,25% verhoog het.

Dít stem ooreen met die verhoging wat die meeste ekonome vandeesweek – tot verbruikers se skok – voorspel het. Die aankondiging bring die prima uitleenkoers op 11,75% te staan.

Die verhoging tree Vrydag in werking.

Daar is aanvanklik vermoed dat die rentekoers met 25 basispunte verhoog sou word, maar die verswakking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar ná bewerings van ʼn wapentransaksie tussen Suid-Afrika en Rusland het inflasionêre risiko’s aansienlik verhoog.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, sê al vyf lede van die beleidskomitee het eenparig vir die jongste verhoging van 50 basispunte gestem.

Die Reserwebank het die rentekoers sedert November 2021 al met 475 basispunte opgestoot en ekonome het vandeesweek gewaarsku dat die jongste verhoging moontlik die spyker in die doodskis van talle verbruikers kan wees wat eenvoudig nie meer finansieel kan byhou nie en moontlik hul huise kan verloor.

Die verhoging kom ook ʼn dag ná die vrystelling van inflasiedata wat getoon het dat die verbruikersprysindeks (VPI) in April tot 6,8% afgeneem het.

Die inflasiekoers is egter steeds hoër as die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6% terwyl voedselprysinflasie steeds geweldig hoog is.

Kganyago het die jongste verhoging onder meer aan voortslepende swak ekonomiese toestande in die land toegeskryf.

“Terwyl die algehele prys van goedere in groot dele van die wêreld afgeneem het, styg kerninflasie steeds wat verhoed dat verbruikersinflasie skerper daal. “Ons verwag dat internasionale markte wisselvallig sal bly en beleidskoerse sal styg.”

Kganyago sê voorts die styging in Suid-Afrika se hooflyninflasiekoers is hoofsaaklik gedryf deur brandstof, elektrisiteit en voedselprysinflasie.  In vergelyking met die vorige beleidskomiteevergadering in Maart, is brandstof en elektrisiteitsprysinflasie ietwat laer en voedselprysinflasie hoër.

Suid-Afrika se energiekrisis – en voortslepende beurtkrag – wat vanjaar selfs verder vererger het, weeg ook swaar op die land se reeds gespanne ekonomie, wat selfs nog meer inflasionêre risiko’s inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Pietertjie ·

Mens moet eers sente hê, voordat jy dit kan omdraai. Besighede maak op strepe hulle deure toe, omdat daar nie meer sente is wat omgedraai kan word nie: kyk maar as julle so deur die sentrums dwaal, hoeveel se vensters is al toegeplak.

Piet parys ·

Eskom kwessie wat winkels laat toemaak en nie rentekoerse nie . Meeste winkel spasie word gehuur en nie gekoop nie .

Petrus ·

Weereens a.g.v. die regering se onvermoë om die land te regeer. Hulle arrogansie is skrikaanjaend. Wie of wat hulle hierdie keer gaan blameer sal ons maar moet sien want dis nooit hulle skuld nie. Seker weer apartheid se skuld. Ek kners al op my tande….

Jacques ·

Hulle weet baie goed dat hulle onbevoeg is. Hulle gee net nie om nie. Hulle is hier om te plunder en te vernietig. Dis tog per slot van sake waaroor kommunisme gaan?

Duck ·

Vir sekere beleggers is dit goeie nuus – kry meer rente elke maand, vir die meeste mense in ons land is dit vreeslike slegte nuus, die ouens wat skuld het…..wet van Transvaal.

Goldy ·

Net tot op n punt, dan begin die wat leen nie meer die wat uitgeleen net kan terugbetaal nie. Niemand wen dan op die ou end nie.

Richard ·

As jy vir ‘n klein meerderheid party stem is jy deel van daai “ONS”.

Papsak ·

Ja ek stem deur n korrupte regering wat nie kan regeer nie want hulle kyk mos net na hulle self

Nico ·

Die parlements lede en minisisters kry mon genoeg oekom sal hulle worry.

Wendy ·

Ek is van mening dat die liewe president ni rerig n clue ht wat hy doen ni hy leef lker terwyl ander hul huise verloor

Jacques ·

Sente omdraai? Wat ‘n grap. Ons kos is reeds op ‘n week voor die salaris inkom. Nou sal dit seker nog so twee dae vroëer opraak elke maand. En dis die realiteit vir baie Suid Afrikaners.

annie ·

Lesetja en sy maters kyk net wat die VSA doen en doen dieselfde. Hoekom sluit ons nie maar die Reserwe Bank se deur nie en maak ou Biden ok die baas hier. Die DA hoop so want die Bank betaal net groot geld vir die skepper en diegene wat hoër rente moet hoes, onderhou hulle.

Pierre ·

En daar word huiswerkers, tuniers afgedank, kleiner besighede soos tuindienste gekanseleer wat tot meer werkloosheid en las op die regering sal lei, maar hulle het n plan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.