Só neem bevolking toe in Suid-Afrika

Argieffoto

Argieffoto

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Vrydag die jongste syfers bekend gemaak ná sy gemeenskapsopname in 2016.

“Die bevolking van Suid-Afrika het van 51,8 miljoen in 2011 toegeneem tot 55,7 miljoen in 2016, ʼn toename van meer as 3 miljoen,” het Lesedi Dibakwane, woordvoerder van SSA, gesê.

Van die 55,7 miljoen inwoners in Suid-Afrika woon 13,4 miljoen in Gauteng, 11 miljoen in KwaZulu-Natal en 7 miljoen in die Oos-Kaap. Slegs 1,2 miljoen mense woon in die Noord-Kaap.

Die aantal huishoudings in die land het ook van 14,5 miljoen in 2011 toegeneem tot 16,9 miljoen in 2016. Die oorgrote meerderheid van huishoudings staan onder leiding van ʼn man (58,7%).

Altesaam 44,9 miljoen persone is swart Afrikane, gevolg deur 4,9 miljoen bruin mense, 4,5 miljoen wit mense en 1,4 miljoen Indiër/Asiërs.

Onderwys

Inskrywingsvlakke vir opleiding bly reëlmatig binne die verpligte ouderdom 7 – 15 jaar. “Daar is beduidende vordering gemaak in die ouderdomme 5 – 9 jaar,” het Dibakwane bygevoeg. “Inskrywingsvlakke vir vyfjariges het van 22,5% in 1996 toegeneem tot 91% in 2016. Vir sesjariges het dit oor dieselfde periode byna verdubbel van 49,1% tot 95,7%.”

Dibakwane het gesê ná ouderdom 18 begin inskrywingsvlakke vir alle ouderdomme daal. Inskrywingsvlakke vir persone wat 24 jaar oud is, het met byna twee derdes afgeneem van 23,1% tot 14,8%. Hy het gesê dit kan eerder toegeskryf word in die ouderdom waarop skool afgehandel word, en nie noodwendig ʼn aanduiding van inskrywing by tersiêre instellings nie.

Die aantal persone wat aangedui het dat hulle geen skoolopleiding gehad het nie, het van 3,7 miljoen in 1996 afgeneem tot 2,3 miljoen in 2016. “Daar was ook ʼn toename in die aantal persone wat ʼn BA-graad voltooi het oor dieselfde periode, van 410 686 in 1996 tot 1,2 miljoen in 2016.”

Die aantal persone tussen 45 en 54 jaar oud wat BA-grade voltooi het, het van 69 797 in 1996 toegeneem tot 282 314 in 2016.

Toegang tot basiese dienste

Toegang tot basiese dienste het oor die algemeen tussen 2011 en 2016 toegeneem. “Die aantal huishoudings met toegang tot water uit pype het van 13,2 miljoen in 2011 toegeneem tot 15,2 miljoen in 2016. Die aantal huishoudings met toegang tot water uit krane in hul erwe, het van 3,9 miljoen in 2011 toegeneem tot 5,1 miljoen in 2016.”

ʼn Soortgelyke neiging word gemerk in die aantal huishoudings met toegang tot water in hul huise van 6,7 miljoen in 2011 tot 7,5 miljoen in 2016.

Die aantal huishoudings wat geen toegang gehad het tot water uit pype nie, het toegeneem van 1,3 miljoen in 2011 tot 1,7 miljoen in 2016.

Die provinsie met die grootste deel van huishoudings met toegang tot water uit pype is die Wes-Kaap (98,9%), gevolg deur Gauteng (97,4%) en die Vrystaat (96,2%). Die provinsie met die minste huishoudings wat toegang het tot water uit pype is die Oos-Kaap met 75,1%.

Toegang tot elektrisiteit vir beligting het met 32,2% toegeneem van 58,1% in 1996 tot 90,3% in 2016. Die provinsies met die grootste aantal huishoudings wat toegang het tot elektrisiteit is die Wes-Kaap, Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga, elk met meer as 90%.

Van die 16,9 miljoen huishouding in Suid-Afrika het ongeveer 10,3 miljoen (60,6%) toegang tot ʼn spoeltoilet wat aan ʼn rioolstelstel gekoppel is. “Dit verteenwoordig ʼn toename van ongeveer 3,6% toe 57% in 2011 toegang gehad het tot hierdie tipe toilette,” het Dibakwane verduidelik.

Die aantal huishoudings wat van puttoilette met ventilasie gebruik maak, het van 8,8% in 2011 toegeneem tot 12,2% in 2016. Huishoudings wat glad nie ʼn toiletfasiliteit het nie, het van 5,2% in 2011 afgeneem tot 2,4% in 2016. Die meerderheid van huishoudings (49,5%) het toegang tot ʼn toiletfasiliteit op hul erf. Altesaam 45,6% van huishoudings het ʼn toilet binne hul woning. Slegs 4,9% gebruik ʼn toiletfasiliteit buite hul erf.

“Die meerderheid huishoudings het aangedui hul grootste uitdaging bly die gebrek aan veilige en betroubare waterverskaffing (2,7 miljoen), gevolg deur ʼn gebrek of onvoldoende werksgeleenthede (2 miljoen) en die prys van elektrisiteit (1,7 miljoen).”

Armoede

Meeste provinsies het tussen 2011 en 2016 ʼn afname in armoede aangemeld. Die laagste armoedesyfer is in die Wes-Kaap aangemeld (2,7%), gevolg deur Gauteng (4,6%), Vrystaat (5,5%), Noord-Kaap (6,6%), KwaZulu-Natal (7,7%), Noordwes (8,8%), Limpopo (11,5%) en die Oos-Kaap (12,7%). “Die armoedesyfer in Limpopo het toegeneem van 10,1% in 2011, terwyl dit in die Vrystaat stabiel gebly het op 5,5% in die Vrystaat tussen 2011 en 2016.”

Ongeveer 13,3% (2,2 miljoen) huishoudings in Suid-Afrika het aangedui dat hulle in die voorafgaande 12 maande ʼn maaltyd misgeloop het. Die provinsie met die hoogste aantal huishoudings wat ʼn maaltyd misgeloop het, is die Oos-Kaap (17,6%), gevolg deur die Noord-Kaap (17,5%), Noordwes (17,4%), Vrystaat (15,7%), KwaZulu-Natal (14,8%), Mpumalanga (14,8%), Limpopo (12,9%) en Gauteng (10,8%).

Die Wes-Kaap het die laagste aantal huishoudings wat ʼn maaltyd gemis het, op 8,4%.

Landswyd het een vyfde van huishoudings aangemeld dat hulle nie meer geld gehad het om kos te koop nie in die 12 maande voor die opname.

Die gemeenskapsopname is ʼn grootskaalse proefopname wat gedoen word in gemeenskappe om die inligtingsgaping tussen twee sensusopnames te oorbrug. Dit is een van die min databronne wat statistiek op ʼn munisipale vlak verskaf en het ten doel om beplanning, monitering en evaluasie op hierdie vlak van regering te verskerp.

Die opname verskaf data oor, onder andere, bevolkingsgetalle, gesondheid, migrasie, onderwys en toegang tot baiese dienste. Die 2016-opname is tussen Maart en April 2016 gedoen en het data versamel van 1,3 miljoen huishoudings dwarsoor alle Suid-Afrikaanse gemeenskappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

24 Kommentare

Hendrik Havenga ·

Hoeveel van die aanwassing is Suid Afrikaners en hoeveel is nie, hier is hordes buitelanders

Kloekie ·

Die hordes onwettige immigrante is seker nie eers ingereken

Die duh ·

Dis hoe zama bly stemme lok om aan bewind te bly in die banana rupubliek

Joe Olivier ·

As elke swart kader 17c bydrae lewer, dan kan Zuma vinnig sy R 7,8 milj betaal.

vraag? ·

Bevolking van 55.7miljoen net onder ……………. 1.3miljoen is opname gedoen, hoekom so min?

Hannie ·

Genade, gaan die land op die ou einde kan by bly om dienste aan al die hordes te voorsien.

Oom ekonoom ·

Wat n klug van n studie. Armoede het beslis nie op nasionale vlak gedaal nie maar van wat ek sien elke dag eerder drasties toegeneem die afgelope 5 jaar. En die vraag oor of jy die afgelope 12 maande n maaltyd misgeloop het is absurd. Ek self loop maaltye op n weeklikse basis mis agv werksverpligtinge. N baie groot persentasie van die bevolking mis n maaltyd of wat op daaglikse basis, baie selfs uit middelklas op maandelikse basis al is dit net om bietjie te spaar.

Lh ·

Eerstens wie het hierdie statistiek opgestel in wie se opdrag? Kom vertel bietjie hoe te werk gegaan is om by getalle uit te kom. Daar kan ten minste nog 20 miljoen onwettige karakters bygevoeg word.

Huh? ·

Hoekom kan daar nie ‘n wet inkom dat die bevolking wat volgens hierdie statistiek die meeste is beperk word na 2 kids “of 1” per gesin nie?.. Duidelik ruk die hoeveelheid kids per gesin bietjie hand uit, of is dit net ek wat so dink?

EVSBEST ·

Ek wonder dit al jare lank!!! Hoekom doen iemand soos die Sosiale Dienste nie n groot veldtog om duidelik uit te spel: As jy nie vir een kind kan sorg sonder “grant” nie dan kan jy nie nog n kind kry nie. As jy nie n bestuurderslisensie het nie dan het jy ook nie n lisensie om n kind te kan kry nie of as jy skole help afbrand dan kan jy ook glad nie kinders kry nie… ietsie in daardie lyn.

dirk ·

daar is min ‘gesinne’ – kinders kry kinders – 76% van jong kinders wat gebore word is pa-loos. Soos Dawie Roodt egter reken – mense kry geleidelik minder kinders soos hulle bemagtig word. Lees Dawie en Tim du Plessis se bydraes oor die naweek – dit i s nogal insiggewend

Johann Marx ·

Wat word beskou as “arm”? In 2000 is my buurman en sy gesin Aus toe. Hulle het hulle eiendom hier verkoop, en 99% van hulle besittings asook hulle voertuie…Aus toe getrek en kon min of meer dieselfde middelkas huis koop as wat hulle hier gehad het. Ons het gekies om te bly. Van 2000 tot 2016 het my inkomste verdubbel…..maar nou moet ek SES huise soos myne verkoop teen top prys, om EEN so ‘n huis in Aus te kan bekostig. In 2000 kon ek op 65 aftree. In 2016 het ek besef ek sal moet werk tot ouderdom 80 om te kan aftree. Is ek arm?

Marcel ·

Die studie is ‘n absolute klug. Armoede het nie gedaal nie. Regstellende aksie het derduisende witmense in armoede gedompel. En werksgeleenthede word nou gehou vir ‘n sekere groep van die populasie, naamlik regstellende aksie. Jy kan watter graad verwerf as jy wit is. As die pos ‘n regstellende aksie pos is, gaan jy as blanke nie die werk kry nie. Dit help nie ‘n mens het ‘n spoeltoilet en ‘n huis, maar jy is werkloos nie. As ek die honderde mense sien staan by shoprite en ander winkels vir hulle ” grants “, kan ek nie sien dat armoede verminder het nie. Die onluste, brande en woedende massa betogings teen swak dienslewering is seker ook ‘n leuen?

kobus ·

Marcel met so klein steekproef sal niks geloofwaardig wees nie. Hulle moet n ander stelsel uitdink. Reken hulle sal seker n gros konsultante moet aanstel v dit.

Oom Ekonoom ·

Marcel, ja wit armoede het baie toegeneem, maar so ook swart armoede. Die swartmense wat deur BEE en regstellende aksie baat is n baie klein persentasie van die swart bevolking, maar as geheel het swart armoede baie toegeneem.

John ·

Verkiesingstatistiek. Papier is geduldig. Dit duld selfs ‘n kwak… se twak.

kobus ·

Die hartseer is dat die statistiek. Wat uit so klein proefsteek geneem is. Die wekslewe van almal deur middel van die ’employment equity act beinvloed,’ ek laat my nie vertel daar is meer leurlinge as wit mense nie. waar is die steekproef gedoen? Wat n klug…….

Sarie ·

Volgens hierdie statistiek gaan dit eintlik goed in die land. Dit rym egter nie met die protesoptogte nie. Waar is die statistiek daarvan? Nikseggende BA grade het toegeneem. Dit se ook van die kwaliteit van ons universiteite.

Percy Hall ·

Baie goeie verslag. Goeie regering goeie verslae. Wel gedaan WP.

Oom Ekonoom ·

As ek die kommentare hier lees besef ek hoe intelligent Maroela Media lesers is. Hierdie stats is nie net waardeloos nie, dit is heeltemal misleidend. Dit wys ook dat die regering dink die massas wat vir hulle stem idiote is, dit is n belediging vir enige ANC ondersteuner.

Johann Marx ·

Oom Ekonoom, het jy al probeer om ‘n ANC ondersteuner te beledig? En? Was jy suksesvol? Het nie so gedink nie….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.