‘Só sinneloos’: Oudvoorsitter van Pta-rugbyklub doodgeskiet

Jaco Basson (Foto: Facebook)

Jaco Basson, voormalige voorsitter van die Pretoriase rugbyklub en ʼn bekende in klubrugbykringe, is Sondag in Winterveld, noord van Pretoria, doodgeskiet nadat hy op ʼn advertensie op sosiale media gereageer het.

Hy was 59 jaar oud.

Rialta van der Mescht, Basson se suster, vertel aan Maroela Media dat haar broer Sondagoggend tussen 10:00 en 11:00 saam met ʼn vriend, Joe Burger, Winterveld toe is om na ʼn bakkie te gaan kyk wat op Facebook se Marketplace geadverteer is.

Daar is ooreengekom dat Basson na die bakkie sou gaan kyk voordat hy die geld aan die vermeende adverteerder sou oorbetaal. Daar is aanvanklik op ʼn adres afgespreek maar daar aangekom het die vermeende adverteerder gesê dat Basson en Burger by die verkeerde adres is.

Dié het toe gesê hy sal sy seun stuur om hulle te gaan haal. Hulle is vandaar na ʼn tweede adres waar Basson glo in ʼn stadium onraad begin vermoed het.

Burger het uit die motor geklim om ondersoek in te stel, vertel Van der Mescht. “Daar het iemand aangestap gekom en die volgende oomblik toe hoor Joe ʼn skoot klap.”

Burger is deur ʼn groep aanvallers erg aangerand. Basson is in die motor geskiet.

Jaco Basson (Foto: Verskaf)

Die presiese omstandighede rondom die aanval is nie in dié stadium duidelik nie.

Van der Mescht vertel wel dat die aanvallers in ʼn stadium Burger se vuurwapen by hom afgeneem het voordat hulle hom aangesê het om op te staan sodat hy sy vriend [Basson] na ʼn kliniek kan neem.

“Hulle het Joe gehelp om Jaco tot op die agterste sitplek van hul voertuig te kry voordat hulle vir hom die sleutel en aanwysings tot by ʼn kliniek gegee het. Toe sê hulle vir hom: ‘You better drive. Your friend is dying’.”

Die aanvallers is toe vort met Basson en Burger se selfone, beursies en Burger se vuurwapen.

Basson is by sy aankoms by die kliniek dood verklaar.

Van der Mescht sê haar broer se dood is “só sinneloos”.

Sy vertel dat haar broer ongelooflik geliefd was in klubrugbykringe. “Sy missie was om rugbyklubs aan die gang te kry en op te bou [soos in die geval van die Pretoriase rugbyklub].

“Sy lewe, passie en liefde was rugby.”

Basson laat sy vrou, vier kinders en vyf kleinkinders agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

KB ·

Ek koop NIKS oor internet nie, en veral nie Facebook nie. Dis ʼn absolute rooi NEE in SA!

George ·

@KB, dis nie die koop oor die internet of facebook nie. Jy moet ook weet in watter land jy bly. Nooit ontmoet by so n plek en dan laat hulle jou “wys” waar om te gaan nie.

Vonkprop ·

Ek stem KB. Jy eet steak by ‘n steak-restaurant, vis by ‘n vis-restaurant ens. My punt is jy kry iets by plekke wat spesialiseer in waarvoor hulle goed is. Facebook was geskep om met mense te kommunikeer, as jy rekenaars, voertuie of wat ook al wil koop gaan na aanlynwinkels of fisiese besighede met goeie reputasies en wat in daardie produk spesialiseer. Ek het toevallig vir mense by die week vandag gevra hoe hulle voel oor Facebook Marketplace en almal het negatiewe kommentaar gegee.

Aggie ·

Verskriklik hoe min ‘n lewe werd is in hierdie gefaalde land van ons. Innige simpatie aan die naasbestaandes.
Ek adverteer deesdae niks meer nie en ek reageer nie op sulke tipe advertensies nie. Mense wat wel hierop reageer moet deeglik kyk waarheen die roete jou lei. As dit enigsinds in bekende gevaarlike gebiede is, bly weg. Moenie jou lewe waag nie. Ons land is ‘n hool van bedrog en moord.

Leona ·

My innige simpatie aan die familie. Asseblief moenie reageer op advertensies op sosiale media nie. Veral in plekke soos Winterveld. Ai RIV Jaco

Vriendelike Frikkie ·

Die adres in Winterveld moes reeds die alarms laat afgaan het.

ES ·

Facebook Marketplace is vol misdadigers en swendelaars. Mens kan seker wees dat jy ten minste 8 uit 10 keer met misdadigers te doen het – veral moet voertuigverkope.

So tragies, hulle het hierdie haarfyn beplan en die motief was om hulle te roof. Gee liefs die adres vir die polisie sodat hierdie mense vasgetrek kan word.

Perdeby ·

Misdadigers gee nie om Wie n goeie hart het nie, hulle is nie bewus daarvan nie, en gee ook nie om nie. Jy ry ook nie in n township in om na n voertuig wat jy op FB gesien het, te gaan kyk nie. Die rooiligte moes daar al aangegaan het.

Waarnemer ·

E n wie moet ons bedank vir die toestand in ons land…..ramacele en hul jaders.

Elma ·

Dat die verotte goed van ons land so iets aan n mens kan doen, kom nie eers op in die gedagtes van die goeie mense onder ons nie. Ek dink aan die naasbestaandes wat hierdie verlies moet verwerk.

Bolandse Nooi ·

Jy sien, Elma, dis hoekom misdaad so hoogty vier in (ons eks-) land. Omdat ons mense nooit verwag dat misdaad (of enige iets slegs) ons enige oomblik kan of gaan tref nie. Ons is eenvoudig te ordentlik vir die res van Afrika. Ek sien die mense noem hier iets van die “Winterveld” waarheen jy NIE gaan as jy jou lewe liefhet nie. Dis die hele punt. Wanneer jy onraad vermoed, draai op die hak om en maak dat jy wegkom. Ons almal het ‘n 6de sintuig wat ons teen gevaar waarsku. Mnr. Basson het ‘n onrustige gevoel gehad, tog het hy en sy vriend hulself vérder die verderf ingehelp deur die “adverteerder” toe te laat om sy “seun en vriende” (makkers) hulle na ‘n ander adres te neem. Beide van hulle was gewapen – hoekom het hul hulself nie verdedig nie? Soveel vrae, so min antwoorde … My kommentaar word gelewer met die nodige respek en meegevoel vir die breë familie en gesin.

Vonkprop ·

Facebook Marketplace is ‘n gemors en moet sommer toegemaak word. Ek vat eerder my goed na ‘n winkel wat tweedehandse artikels koop en verkoop. Ek kry veel minder, maar ek loop darem weg. Die lewe het nou maar net te gevaarlik geword.

George ·

Dis nie Marketplace wat die probleem is nie. Ek het al meer as 40 items verkoop en meer as 35 al gekoop, sonder n probleem. Jy moet net waaksaam wees, kry mekaar op common ground, nooit by een of ander se huis nie. Sodra daar n verskoning is vir iets, maak chat toe, block and report. Want die is nie die eerste een wat ek lees wat so afspeel nie

Skappie ·

Nog ‘n moord onnodig gepleeg. Mag onse Liewe Heer julle as ‘n familie, vriende en almal wat hom geken het deur hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle dra. Mag die skuldiges gevang word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.