Só wil polisie misdaad pak

Polisiebeamptes op die toneel in Soweto waar ’n skietery op 10 Julie in die Mdlalose-taverne in Nomzamo uitgebreek het. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die polisie sê verhoogde polisiëring, ʼn fokus op vuurwapenbeheer en doelgerigte taakspanne gaan deel uitmaak van sy verskerpte pogings om stygende vlakke van geweldsmisdaad in die land te stuit.

Luidens die polisie se statistieke is meer as 22 320 mense gedurende Julie in hegtenis geneem vir misdade wat insluit aanranding met die doel om ernstig te beseer, moord, poging tot moord en verkragting. Die polisie het ook beslag gelê op 1 173 onwettige vuurwapens en 7 738 patrone. Altesaam 1 035 van dié onwettige vuurwapens is tydens operasies in Gauteng gevind.

Polisieminister Bheki Cele het Maandag by ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê daar moet egter ʼn dubbele poging aangewend word om die veiligheid van vroue en kinders te verseker. Hy het ook bevestig dat alle polisiekantore nou verkragtingstoetsstelle in voorraad het.

Die polisie het terugvoer gegee oor sy planne nadat agt vroue Donderdag tydens die verfilming van ʼn musiekvideo in Krugersdorp verkrag is toe ʼn groep gewapende mans die span van 12 vroue en tien mans oorval en beroof het.

Minstens 84 verdagtes – wat moontlik met onwettige mynboubedrywighede verbind kan word – is reeds tydens multidissiplinêre optredes in verband met die voorval vasgetrek. Nog twee verdagtes is doodgeskiet.

Die verdagtes staan tereg op aanklag van oortreding van die Immigrasiewet en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Die land is die afgelope weke ook geruk deur verskeie massaskietvoorvalle – veral buite tavernes.

Ses mense is die afgelope naweek ook in ʼn massaskietery dood, dié keer by ʼn snoepwinkel in Mariannhill in KwaZulu-Natal.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiehoof, sê taakspanne om onwettige mynbouaktiwiteite, kabeldiefstal en afpersing te beveg is reeds in 18 distrikte landwyd ontplooi.

Nuwe aanstellings in die polisie, onder wie twee vroue in sleutelrolle, is ook aangekondig.

Lt.genl. Koliswa Constance Otola is as die nuwe polisiekommissaris in die Noord-Kaap aangewys terwyl lt.genl. Tebello Mosikili as die eerste adjunk- nasionale kommissaris aangewys is wat vir polisiëring verantwoordelik is.

Mosikili, wat 30 jaar ondervinding in die polisie het, sal ook medevoorsitter van die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensie struktuur (NatJOINTS) wees.

Otola sal die Noord-Kaap se eerste permanente provinsiale polisiehoof in bykans twee jaar wees.

Molefe Fani is as die polisie se nuwe afdelingskommissaris vir verkrygingsbestuur aangewys. Die polisie hoop dat hy die probleme in dié afdeling sal hokslaan.

Verkragtings in Krugersdorp

Cele het die verkragtings in Krugersdorp as die “vernietiging van lewens” bestempel en sê die polisie werk hard om te verseker dat die skuldiges aan die pen ry.

Daar moet in dié stadium nog bevestig word hoeveel – indien enige – van die 84 verdagtes wat aangekeer is, met die verkragting verbind kan word.

Cele het weer benadruk dat slagoffers van geslagsgebaseerde geweld nie by polisiestasies weggewys mag word nie en dat hulle met die nodige sorg gehelp moet word.

Hy sê ook die tekort aan verkragtingstoetsstelle wat vroeër ondervind is, is nou iets van die verlede.

Skietvoorvalle by tavernes

Wat betref verskeie dodelike skietvoorvalle by tavernes, sê Masemola dat die polisie verskeie motiewe ondersoek wat tot die voorvalle van massaskietery aanleiding gee. Hy sê wel dat dit nie “georganiseerde misdaad” is nie en dat die motiewe in die meeste gevalle met finansiële afpersing of dwelms verband hou.

“Daar is taakspanne aangestel om finansiële afpersing asook kabeldiefstal te pak. Daar is reeds suksesse behaal sedert hierdie spanne aangestel is.”

Onwettige mynbou‑aktiwiteite

Cele sê operasies om onwettige mynbou en gevegte tussen onwettige mynwerkers, bekend as zama-zamas te bekamp, is ook onderweg. Hoewel hy nie veel daaroor uitgebrei het nie, het Cele aangedui dat hy reeds met die minister van minerale hulpbronne hieroor vergader het.

Tekort aan hulpbronne

Die polisie se topbestuur is Maandag gepols oor praktiese stappe wat gedoen kan word om geweldsmisdaad te beveg. Dit het ingesluit vrae oor die moontlike ontplooiing van soldate.

Cele sê soldate is nie opgelei om gemeenskappe te hanteer nie en dat die ontplooiing van die weermag “kompleks” is. Hy het toegegee dat daar steeds uitdagings met kapasiteit is, ook by die polisie se eenheid vir openbare orde.

Volgens Cele het die eenheid tans 5 000 beamptes, waar dit eintlik uit 12 000 moet bestaan.

Hy sê die polisie hanteer die kapasiteitsuitdagings en dat 10 000 polisierekrute tans opgelei word. Dit sal egter nie die probleem voldoende oplos nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Annelie ·

Ne en hoe gaan hul dit doen. Elke keer as hul so iets aanpak dan raak die misdaad in elk geval erger.

Jacobus ·

Maklik, maak die BBP of baie belangrike persone se wagte minder met die helfte en laat hulle gewone polisie diens doen. Die BBP wagte se begroting is seker in elk geval net so groot soos die hele SAPD. Nie dat die BBP diens beter gaan doen nie, hulle kon nie eers Cyril se miljoene dollers in sy rusbank oppas nie.

Swerwer ·

Jo-Jo van misdaad. Cele se Jo-Jo. Op en af gaan die Jo-Jo

Marius ·

Begin by SAPS lede wat nie daar hoort nie en net so skelm is soos n gewone krimineel.
Kry beheer oor die beheerde vuurwapens soos SAPS lede die diens wapens en dan moet die wapens wat ingegee is nie weer op straat beland nie.
SAPS moet behaar kry oor hulself!!!!!

Piet 6 ·

Dan gaan ons met ń behaarde polisiediens kry. He he he he he????????????????????????

Seef ·

Vuurwapenbeheer se maai. Nie een van die gemors het wettige wapens nie.

philippus ·

My opinion. As jy 50% val in misleading wil sien fire 50% van die polisiemag, askies nie meer n mag nie. Fire 50% van die ANC se uniform gang

JohanR ·

Hoekom doen julle dit nie net nie en in soe nege maande sien ons die verskil? Maar al wat julle doen is praat daaroor…..talk is cheap!

Kokerboom ·

Rerig???!!! Wys jou net hoeveel onwettige wapens is in omloop!!!

Louis ·

En al daai onwettige vuurwapens is wat by polisiestasies gebuit is. Die polisid is self onbevoeg wat wapens aanbetref. Solank joedjie en sy kaders in bewind is sal misdaad net al erger word

Anel ·

Daar is baie plekke waar daar te veel lede is wat net daar is vir die geld. Gaan kyk bietjie oo Roodeplaat, waar die hondeskool veronderstel is pm te wees. Absolute wit olifant! Spandeer hoeveel aan opknappings en “nice to haves”. Wanneer laas was daar ‘n behoorlike patrolliehond klas? Speurhonde is meer as 4 jaar laas opgelei! Wat ek probeer sê is dat daar baie lede is wat operasioneel kan wees maar wegkruip. Waar daar nie genoeg lede is waar dit saak maak nie. En dit help nie om duisende op te lei nie en hulle beteken nog steeds niks niks nie. Dit moet gaan oor kwaliteit en nie kwantiteit nie. En stel lede aan wat wil!!!

Nonnie ·

Al het jy 100 000 rekrute, word hulle nie na behore opgelei nie, en jy is die grootste probleem Cele……

Piet ·

Cele is nie opgelei en sonder die nodigge ondervinding om minister van Polisie te wees nie.

Pietertjie ·

Ek wil ook baie dinge doen. Maar ten minste ken ek my beperkinge. Idiokrasie het geen perke nie.

Nie Verbaas ·

Ekskuus, so wil die polisie wat pak? Met Cele aan die stuur? Wat n grap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.