SOE gereed om Covid-19-korruptes te vervolg  

Andy JL Mothibi, hoof van die SOE (Februarie 2017) Foto: Elmond Jiyane. GCIS

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) is gereed om toe te slaan op diegene wat deur wanbestuur of korrupsie onwettig voordeel getrek het uit kontrakte wat met die koronavirus en die grendelstaat verband hou.

Dié versekering is Woensdag deur adv. Andy Mothibi van die SOE tydens ʼn vergadering van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gegee.

Die SOE het onlangs opdrag van pres. Cyril Ramaphosa ontvang om alle bewerings van oortredings deur die staat met betrekking tot aankope en diensteverskaffing tydens die grendelstaat deeglik te ondersoek en skuldiges aan die pen te laat ry.

Parlementslede was min beïndruk met Mothibi se voorlegging oor al die vergaderings wat die SOE gehou het met allerlei belanghebbendes ter voorbereiding van die uitvoer van hul mandaat. Die politici was dit eens hulle wil inhegtenisnemings sien, en tronkstraf.

Mothibi het wel aangedui watter bewerings van onwettige gedrag spesifiek prioriteit geniet, en wat die beweerde omvang daarvan in elke provinsie is.

Die beweerde omvang van die onwettige optrede wat tans in elke provinsie ondersoek word, is R2,2 miljard in Gauteng, R2 miljard in die Oos-Kaap, R441 miljoen in KwaZulu-Natal, R120 miljoen in die Wes-Kaap, R26 miljoen in Limpopo, R18 miljoen in Mpumalanga, R168 miljoen in Noordwes, R46 miljoen in die Vrystaat, geen in die Noord-Kaap nie en R153 miljoen in departemente van die nasionale regering.

Van die gevalle wat die SOE ondersoek sluit in mense wat ander vloeistowwe verskaf het onder die voorwendsel dat dit saniteerder was, verkeerde fasiliteite wat vir kwarantyn gebruik is, kontrakte wat aan familie en vriende toegeken is, verkeerdelike verkryging van beskermende mediese drag, misbruik van petrolkaarte, en wanbestuur betreffende kospakkies, termometers en watertenks.

Parlementslede het daarop aangedring dat verskeie ander gevalle van beweerde wanbestuur en korrupsie ondersoek word, waaronder watervragmotors by Port Shepstone, bromponie-ambulanse in Oos-Londen en betaling vir deur-tot-deur inligtingswerk in die Transkei.

Skoor se voorsitter, die IVP-LP Mkhuleko Hlengwa, het die versekering gegee dat die SOE gereeld aan Skoor sal moet terugrapporteer om die druk om resultate te lewer hoog te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Persheks Adri ·

Ek hoop van harte dat hulle hulle werk gaan doen, maar ek hou nog asem op!
Bewys aan ons dat julle kopdoek en haar kinders sal vervolg ASB!!! Ons is al klaar so teleurgesteld in die regering so ons kort goeie nuus!

Ronel ·

Ek is jammer maar ek kon nie verder as die 1e paragraaf lees nie. Ekt net te hard gelag. Is daar rerig mense wat glo dat hulle wel vervolg gaan word?

Nette ·

Die ANC regering stel die ANC regering aan om korrupsie te ondersoek teen die ANC regering en om dan terug te rapporteer aan die ANC regering…

Suzette ·

Wel sien is glo. Ek het dieselfde gedink van die zondo kommissie en waar sit ons vandag – dieper in die gat……

Scalla ·

Praat,praat,praat, ondersoek na ondersoek en niks gebeur!!!!

Sarel ·

Nog ‘n Zondo Kommissie wasr niemand ooit vervolg sal word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.